Die eerste fase van 'n stelsel wat eindelik Suid-Afrikaanse rooivleis van die plaas na die tafel sal naspoor, is in Pretoria bekend gestel.
Dié nasporingsplatform, wat deur die Red Meat Industry Services (RMIS) ontwikkel is, is daarop gemik is om deursigtigheid, doeltreffendheid en mededinging in die rooivleisbedryf te verbeter.
Die organisasie, wat jare lank aan die platform gewerk het, was Vrydag opgewonde oor die bekendstelling van die eerste fase, wat beskryf word as 'n "mylpaal" vir die bedryf wat "reusevoordele" vir rolspelers inhou.
Fase 1 probeer bloot elke skakel in die verskaffingsketting - van plase tot kleinhandelaars - identifiseer. Elkeen kry 'n nommer.
Die produksie-eenheidsnommers sal die grondslag van die nasporingsplatform vorm en is daarop gemik om:
• siekterisiko's te bestuur;
• veediefstal te bekamp;
• handel te verbeter deur middel van die deel van nasporing en produksie data; en
• marktoegang aan kommersiële waardekettings en uitvoermarkte te verbeter.
RMIS het kragte met Gendac Software Engineering, 'n stelselontwikkelingsmaatskappy, saamgesnoer om 'n toegewyde webtoepassing te skep. Die webtoepassing sal die akkurate liggingsidentifikasie, verifikasie en visualisering op 'n nasionale kaart ondersteun.
Dewald Olivier, uitvoerende hoof van RMIS, het Vrydag die platform as 'n mylpaal vir die bedryf beskryf en gesê dit hou reusevoordele in vir primêre produsente, wat die ruggraat van die bedryf is.
"Dié vervaardigers behoort mettertyd in staat wees om hul produkte op 'n manier te bemark wat vertroue bou en aan die standaarde van plaaslike en internasionale kopers voldoen. Met die nuwe produksie-eenheidsnommers, oftewel globale liggingsnommers, het ons boere 'n waardevolle instrument om geloofwaardigheid en deursigtigheid te vestig.
"As die stelsel gefinaliseer is, sal dit moontlik wees vir hul produkte om nagespoor te word van die plaas na die tafel. Die stelsel verseker nie net veiligheid en gehalte nie, maar voeg oor ware waarde by tot hul belegging en bied gemoedsrus aan produsente en kopers."
Hy het bygevoeg dat die platform sal help om siekterisiko's te bestuur, die integriteit van produkte te verseker en veediefstal te bekamp, terwyl dit Suid-Afrika as 'n bron van prima rooivleis versterk.
Dr. Phillip Oosthuizen, bedryfshoof van RMIS, het op sy beurt gesê die sukses van nasporing sal afhang van 'n doeltreffende, deursigtige en betroubare platform, 'n gefaseerde benadering tot inwerkingstelling en samewerking van elke deelnemer aan die waardeketting.





















