Landbou

SA staak invoer van pluimvee uit Pole

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Suid-Afrika het die invoer van pluimvee uit Pole opgeskort.Foto: Reuters
Suid-Afrika het die invoer van pluimvee uit Pole opgeskort.Foto: Reuters

Suid-Afrika het die invoer van pluimvee en verwante produkte uit Pole gestaak ná die uitbreking van hoogs patogene voëlgriep in dié Europese land.

Die direktoraat vir dieregesondheid van die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming het einde Augustus 'n kennisgewing hieroor aan invoerders gestuur.

Dit kom kort nadat Suid-Afrika bykans 'n maand gelede pluimvee-invoere uit Rio Grande do Sul, 'n deelstaat in Brasilië, gestaak het weens die uitbreking van Newcastle-siekte onder kommersiële pluimvee.

Dr. Botlhe Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en gesondheid, sê in die kennisgewing dit is Suid-Afrika se beleid om nie enige pluimvee of produkte in te voer vanaf lande waar hoogs aansteeklike voëlgriep in pluimvee voorkom nie.

Handelsbeperkings is gevolglik van krag op die invoer van lewende voëls, vleis en ander pluimveeprodukte uit Pole na Suid-Afrika.

Ingevolge daarvan word lewende voëls, eiers en vars (insluitend bevrore) pluimveevleis uit Pole verbied om Suid-Afrika binne te kom. Geen nuwe veterinêre invoerpermitte sal uitgereik word vir enige van dié produkte nie. Ongebruikte permitte sal gekanselleer word en invoerders sal dié permitte moet teruggee.

Luidens die kennisgewing sal hitte-verwerkte pluimveeprodukte waarvoor die invoerder 'n geldige veterinêre invoerpermit bekom het, vrygestel word van die verbod.

Reuters berig die Chinese doeane-agentskap het sedert Vrydag ook die direkte of indirekte invoer van pluimvee of verwante produkte uit Pole weens die voëlgriepuitbreking verbied.

Fred Hume, besturende direkteur van Hume International, het in 'n verklaring gesê die aankondiging van 'n verbod op pluimvee-invoere uit Pole en Brasilië sal werkverliese en kosprysinflasie tot gevolg hê.

Suid-Afrikaanse invoerders voer volgens hom aan dat die regering oor streeksgebonde beleid moet onderhandel met alle lande waarvandaan Suid-Afrika pluimvee invoer om die impak daarvan te versag.

Die impak van dié besluit op meganies ontbeende vleis sal volgens hom katastrofaal wees. "Die Suid-Afrikaanse bedryf vir verwerkte vleis het duisende mense in fabrieke oor die land heen in diens en meganies ontbeende vleis is 'n noodsaaklike komponent in die produksie van polonies en wors vir die laer-LSM-marksektor."

Suid-Afrika het - met die verbod op Poolse pluimvee alleen - die verskaffing van rondom 5 000 metrieke ton meganies ontbeende vleis in 'n venstertydperk van 'n enkele maand verloor, uitgesluit die kumulatiewe effek. Die prys van meganies ontbeende vleis het gevolglik gestyg van R16,99 per kilogram (BTW uitgesluit) tot R23,99 per kilogram (BTW uitgesluit), lui die verklaring.

"Invoerders word nou ingelig dat besendings wat produkte bevat wat op of ná 7 Augustus 2024 verpak is vir finale verpakking, verwerp en teruggestuur sal word na Pole of op koste van die invoerder vernietig sal word. Dit verteenwoordig 'n harde slag vir sakeondernemings en kan 'n gapende gat laat in pluimvee-inventarisse vanaf September tot Desember 2024.

"Verder skep dit die risiko van nog 'n ronde van ernstige voedselprysinflasie vir die Suid-Afrikaanse verbruiker in 'n tyd waarin die plaaslike pluimveebedryf herstel van die verlammende effek van die jongste voëlgriepuitbreking.

"Die invoer/uitvoerbedryf doen reeds etlike maande lank 'n beroep op die regering om daadwerklik op te tree om oor 'n beleid ten opsigte van hittebehandelde produkte en streke te onderhandel met alle lande waarvandaan Suid-Afrika pluimvee invoer om meer verwoestende gevolge te versag," lui die verklaring.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM