Landbou

Sitrusbedryf sien uit na groei van uitvoer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: iSTOCK
Foto: iSTOCK

Die Sitruskwekersvereniging van Suid-Afrika (CGA) het onlangs bekend gemaak dat hy 'n toename in uitvoervolumes van die huidige oes verwag.

Die amptelike sitrusuitvoerseisoen begin vandeesmaand en die CGA het sy voorspellings vir die seisoen onlangs by die Sitrusbemarkingsforum gedeel.

Hy sê 'n algehele groei in groeivolumes word verwag. Volgens die CGA produseer sy kwekers meer sitrus onder uitdagende omstandighede, soos toenames in insetkoste, beurtkrag, en meer. Die beter uitvoersyfers is ook die resultaat van jonger bome wat in verskeie streke begin vrugte produseer.

So lyk vanjaar se syfers

Die uitvoer van suurlemoene na hoofmarkte kan met 7% tot 37,9 miljoen kartonhouers (van 15 kg elk) groei.

Vir Navel-lemoene kan 'n toename van 4% verwag word met 25,6 miljoen kartonhouers wat verpak sal word.

Nadat Valencia-lemoene se uitvoer twee jaar onderdruk is, gaan sy produksie waarskynlik vanjaar verbeter. CGA meen Valencia-lemoene kan met 12% tot 58 miljoen kartonhouers groei.

Foto: iSTOCK
Foto: iSTOCK

Die CGA se lemoen-fokusgroep beklemtoon dat daar 'n moontlikheid is dat uitvoer met soveel as 5% kan afneem as daar groter opbrengste is vir lewering aan plaaslike verwerkers.

Daar word ook verwag dat pomelo-uitvoer terug na sy langtermyngemiddelde gaan groei. Dit kan met 14% tot 16,7 miljoen kartonhouers groei. Dit is te danke daaraan dat pomelo's vir verwerking (PP-klas) weer vanjaar na China uit­gevoer kan word, wat nie in die vorige seisoen die geval was nie.

Wat sagtesitrus betref, verwag die CGA groei van 16% tot 1,7 miljoen houers vir Satsumas, groei van 8% tot 5,4 miljoen houers vir Clementines, asook groei van 8% tot 4,5 miljoen houers vir Novas.

"Dit lyk of die gehalte van vanjaar se vrugte uitstaande is en die oes se tydsberekening word verwag om dieselfde as altyd te wees.

"Onlangse droë toestande in die noordelike boerderygebiede kan beteken dat die groottes van vrugte effens kleiner as verlede jaar sal wees, maar laat reënval kan dit verander.

"Verlede jaar het kwekers 165,1 miljoen houers vir aflewering aan wêreldmarkte verpak - 'n toename van ongeveer 800 000 houers, wat aansienlik onder die verwagte langtermyngroeikurwe is," sê Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die CGA.

Daar is steeds uitdagings vir die bedryf, soos die Europese Unie se fitosanitêre reëls oor swartvlek en valskodlingmot. Die CGA glo dié reëls is diskriminerend en onwetenskaplik, en 'n ernstige bedreiging as dit daartoe lei dat Suid-Afrikaanse sitrusprodusente nie meer toegang tot die Europese mark het nie. Dié mark ontvang tans meer as 'n derde van die totale Suid-Afrikaanse sitrus­uitvoervolumes.

Die CGA wag nog dat die regering 'n onafhanklike geskilbeslegtingspaneel by die Wêreldhandelsorganisasie oor die kwessie vra.

Ander uitdagings sluit in die ondoeltreffende logistieke ketting, maar die CGA verwelkom die stappe wat reeds gedoen is om dit te verbeter. Hy is ook opgewonde oor die skeepsredery Hapag-Lloyd, wat nou by Suid-Afrikaanse hawens gaan aandoen, en die redery MSC, wat sy skeepsroetes uitbrei.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM