Landbou

Só het ’n passie in ’n loopbaan verander

Wayne Visser (links) en Derek Kilpin by die wingerd van Domaine de la Romanée-Conti in Boergondië.
Wayne Visser (links) en Derek Kilpin by die wingerd van Domaine de la Romanée-Conti in Boergondië. (Foto: Verskaf)

Praat of lees belangstellendes van wyn van die Franse-streek van Boergondië dan raak dinge om jou soms stil, inkennig, met ’n dromerig waas wat uitsak. Praat of lees belangstellendes oor wyn uit die Franse streek Boergondië, raak dinge om hulle soms stil en verdwyn hul onmiddellike omgewing maklik in ’n waas.

Dié gebied in die oostelike deel van Frankryk word gesien as die kroon van die wynwêreld weens die briljante gehalte van die wyne wat daar van die pinot noir- en chardonnay-druifsoorte gemaak word en die tasbare Boergondiese wynkultuur wat oor meer as 900 jaar strek.

Die mistiese beheptheid met en bekoring van Boergondiese wyne wêreldwyd word gestaaf deur die feit dat die streek ook verantwoordelik is vir die duurste wyne bekend aan die mensdom, soos byvoorbeeld R400 000 vir een bottel van die streek en die aardbol se skaarsste wyne, die Romanée-Conti.

Wynliefhebbers wat al die voorreg gehad het om dit te proe sal kan getuig dat ’n glas Corton-Charlemagne Chardonnay of Gevrey-Chambertin Pinot Noir uit daardie wêreld hul liefde vir wyn verdiep het, en in sommige gevalle was hierdie ervaring selfs lewensveranderend.

Dit was beslis die geval vir Wayne Visser, die boykie van Johannesburg. Komende uit ’n huis waar enige alkohol taboe was, het hy tydens universiteitsvakansies in die Kaap ’n “perdalkse belangstelling” in wyn ontwikkel.

Vandag besit Visser, ondanks die feit dat sy “regte werk” dié van ’n praktisyn in die finansiële dienste is, Suid-Afrika se voorste onderneming geskoei op die invoer en verspreiding van wyne uit Boergondië en ander top-wynstreke. Die naam daarvan: Great Domaines.

Van belangstelling tot besigheid

’n Paar blaaie deur Great Domaines se webtuiste laat enige wynmens se hartklop styg weens die gesogte bottels internasionale juwele wat daar aangebied word. Buiten die grootste name van Boergondië en Bordeaux, pronk die watertand-handelsmerke van onder meer Italië se Sassicaia en Vega Sicilia van Spanje.

“Nee, 30 jaar gelede sou ek nie juis kon dink als sou uitloop op ’n wynbesigheid soos dié nie,” sê Visser oor ’n koue Super Bock-bier in Kaapstad se Dias Tavern. Langs hom sit Derek Kilpin, Great Domaines se besturende direkteur vir wie Visser “in 2007 laat kom het om uit te help toe die invoer van Boergondiese wyne te groot geraak het”.

“Die hele storie het begin toe ek in die 1990’s net maar ’n paar kissies wyn van Boergondië af wou inbring vir my eie genot,” vertel Visser. “Kaapse pelle, soos Jeff Grier van Villiera en die Kaapse wynmeester Clive Torr, het my aan wyn buite die Suid-Afrikaanse grense bekend gestel. En toe ek my weer kom kry, besoek ek Boergondië.”

Hy neem ’n sluk koue bier en sy oë vonkel, maar nie van die bier nie.

“Om Boergondiese wyne te proe is een ding, en dit het my lewe verander, en verander dit steeds,” sê Visser. “Maar die geskiedenis, die mense, die hele gemeenskap se totale verknogtheid aan hul grond, wingerd en wyn... dis oorweldigend. Ek het begin lees, myself instudeer, en hier en daar kon ek ’n paar bottels vir myself inbring na Johannesburg, maar die opsies was min.”

Dis toe dat daardie “Jo’burg chutzpah” oorgeneem en hy in die 1990’s tydens besoeke tussen sy werk deur aan Boergondië die moontlikheid ondersoek het om self sy eie wyne in te voer na Suid-Afrika.

“Die gemeenskap daar is trots, geslote, so ek het vir ’n hele paar jaar aan deure geklop, myself bekend gestel en gevra vir wyn,” onthou hy. “En uiteindelik het die produsent Frédéric Mugnier vir my 15 kissies wyn aangebied, drie kissies van elk van Mugnier se vyf wingerde. Die probleem was, dit was te veel wyn vir my en my begroting. Maar wys ek Mugnier van die hand, is my deur in Boergondië gesluit. Die woord sal vinnig die ronde begin doen dat dié ou uit Suid-Afrika maar net bek is sonder binnegoed.”

En dit is hoe Great Domaines ontstaan het: Visser sou een kis van elke Mugnier-wingerd vir sy eie versameling hou en die res aan kennisse en vriende verkoop om sy stokperdjie – in daardie tyd – te finansier.

Dit was in 1999. En stadig maar seker het meer Boergondiese produsente hul wyne aangebied aan die Suid-Afrikaner, wat op sy beurt sy toenemende versameling verkoop het aan die toenemende aantal plaaslike wynliefhebbers wat in sy Great Domaines begin belangstel het.

“In die begin was dit net ek wat die besigheid in my vrye tyd bestuur het saam met my vrou,” vertel Visser. “Maar die etos waarmee ons begin het, geld tot vandag.”

Kilpin, welbekend met sy baas se wynobsessie en verhaal, sluit by die geselskap aan. “Ons voer slegs wyne in waarvan ons self hou,” sê hy. “En van die begin af, toe ek in 2007 by Great Domaines aangesluit het, is ek deur Wayne geleer die belang van persoonlike verhoudings tussen ons en die mense wie se wyn ons invoer, word vooropgestel.”

Visser knik. “Dis waar Boergondië heeltemal verskil van die opset in Bordeaux,” sê hy. “Die Bordeaux-model volg nie die verhouding met die produsent self nie. Daar werk jy deur hul laag-op-laag négociants, middelpartye wat van die plaas koop en herverkoop. In Boergondië gaan dit oor die verhouding met die produsent self met wie ons as invoerders ’n emosionele en kulturele konneksie moet hê.

“Ja, Great Domaines is ’n besigheid, maar ons verkoop nie net wyn nie; ons verkoop stories, ervarings en ’n leefstyl.”

’n Storie van groei

Great Domaines se trajek het in 2007 verander toe Visser die verspreidingsregte aangebied is vir die Franse sjampanjehuis van Pol Roger.

“Groter volumes, meer logistiek, take it or leave it... en ek spring. Dis toe dat ek Derek ingekry het, en tesame het die maatskappy sy portefeulje aansienlik begin uitbrei na wyne uit ander lande, soos Italië en Frankryk.”

In die proses het Great Domaines ook wegbeweeg van ’n klein boetiek-wynverspreider met ’n beperkte aantal wynboffins as klante na die land se nommereen-bestemming vir mense daarop uit om hul wynhorison te verbreed. Hoofkantoor in Johannesburg, nou 32 heeltydse werknemers wat die invoer bestuur en die wyne landwyd na klante versend.

Ja, daar is die top-echelon wynkoper wat jaarliks aansienlike bedrae by Great Domaines spandeer op skouspelagtige wyne soos Domaine Coche-Dury, Domaine Armand Rousseau en Romanée-Conti van Boergondië, asook Petrus van Bordeaux, Vega Sicilia en Sassicaia.

Die ekstreme voorbeeld is, uiteraard, Domaine de la Romanée-Conti, die wêreld se mees gesogte wyn en waarvoor Great Domaines ’n handvol bottels kry om aan Suid-Afrikaners te verkoop. In Engeland betaal jy ongeveer R400 000 vir een 750 ml-bottel van die jongste oesjaar, maar ter plaatse is die wyn veel goedkoper weens die Britte se komplekse platforms waarop wyne verhandel word (die prys is egter steeds in die vyf nulle).

“Ons voel nogal sterk daaroor dat Great Domaines se kliënte ware wynliefhebbers is wat die wyne wat hulle by ons kry – maak nie saak wat die prys is nie – self in hul kelder hou en self geniet op ’n geleë tyd,” sê Kilpin. “As jy soveel moeite gedoen het om skaars wyne in die hande te kry – meesal die resultaat van persoonlike verhoudings en vriendskappe met die produsente – dan laat ’n her-gesmous ’n bitter smaak.”

Maar hierdie luukse afdeling is maar een deel van Great Domaines se besigheid, met wyne uit Boergondië en ander Europese streke wat aangebied word teen pryse wat in sommige gevalle laer is as hul Suid-Afrikaanse eweknieë.

Minder wyndrinkers? Watwou!

Uit Great Domaines se klante blyk dit dat die huidige nuus oor die afplatting in wynverbruik deur jongmense nie geldig is nie.

“Jong professionele mense is geesdriftige kopers en hul belangstelling is tasbaar. En hulle smag na wynkennis en -ervaring,” meen Kilpin. “Die ouer garde weet presies wat hulle soek. Die nuwe generasie sal vir ons kontak en sê hulle het R40 000 en ek moet vir hulle ’n kis saamstel van Great Domaines se keuse, wat natuurlik helse druk op jou plaas! Maar so ontdek en leer ’n mens, wat maar altyd deel van enige wynliefhebber se lewe sal wees.”

Buiten hul geliefde Boergondië – wat jaarliks deur Visser en Kilpin besoek word om met hul produsente op te vang – speel Italië ’n groot rol in Great Domaines se aanbod.

“Super Tuscans en Barolo het oor die afgelope dekade of wat ontplof soos wat meer Suid-Afrikaners ’n smaak vir goeie Italiaanse wyne ontwikkel,” sê Kilpin. “En daar kry jy goeie wyne in elke streek.”

Terwyl ons ons biere in Dias Tavern klaar drink, sê Visser: “Moet nie van Portugal vergeet nie. Noudat die port-mark in sy peetjie is en meer druiwe ingespan word vir droë rooiwyn, gaan jy groot rooies uit Portugal sien.”

Wanneer daar ’n gemeensame stilte oor die tafel uitsak, weet ek daar is net een naam in die twee manne van Great Domaines se gedagtes: Boergondië.