Die afgelope aantal jare word 'n groot poging aangewend om sorghum terug op die winkelrakke en gesinne se brekfistafel te kry.
Dié poging word tans verskerp deur 'n versoek aan die minister van finansies om hierdie graanproduk, die enigste waarop BTW gehef word, soos mielies en koring vrygestel te kry. Die doel hiermee is om die glutenvrye, voedsame graan meer bekostigbaar te maak vir Suid-Afrikaners wat sukkel om met inflasie by te bly.
Hoewel sorghum tans hoofsaaklik in die Vrystaat en Limpopo verbou word, het hierdie geharde graangewas beslis ook moontlikhede in die Wes-Kaap. Corné Louw van Graan SA meen dit is wel 'n graan wat by Wes-Kaapse omstandighede kan aanpas.
"Ek sou sê, soos wat mielies onder besproeiing in die Wes-Kaap geplant word, kan sorg-hum ook geplant word. As boere in droër dele van die Wes-Kaap besproeiing en 'n mark vir hulle produk het, kan voersorghum as 'n vertrekpunt beslis werk."
Volgens Henry Meyer, graan- en melkboer van Mosselbaai in die Suid-Kaap is voersorghum veral gewild as somerweiding.
"Ek glo nie hier is boere wat sorghum plant vir oesdoeleindes nie. Hier word wel baie voersorghum geplant vir weidings. Dit is moeilik om te sê hoeveel, maar ek skat 40% tot 50% van somerweidingaanplantings is voersorghum."
Sorghumgroeperings-inisiatief (SGI)
Die departement van wetenskap en innovasie (DSI) het in 2022 'n haalbaarheidstudie van die sorghum-waardeketting gedoen om vas te stel wat die bedryf se potensiaal in Suid-Afrika is. In Afrika is dit die tweede belangrikste ná mielies, en wêreldwyd die vyfde belangrikste graan.
Die studie het aanbeveel dat sorghum-produksie na 500 000 ton per jaar verhoog word. Die vooruitsig is 'n jaarlikse groei van 15% in plaaslike verbruik en 250 000 ton per jaar se uitvoere. Vir die beoogde uitbreiding is 100 000 nuwe ha vir sorghum nodig.
Die Oos-Kaap is geïdentifiseer as die kern vir sorghumverwerking, wat nuwe geleenthede vir entrepreneurs sal skep.
Die SGI is in die lewe geroep met die doel om sorghum te bevorder. Die SGI koördineer pogings om die sorghum-waardeketting te verbeter deur plantgenetika, saadontwikkeling, verwerking en bemarking.
Die departemente van landbou, wetenskap en innovasie, organisasies soos Graan SA en die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie, speel 'n belangrike rol.
Die saadgroep Pannar is al etlike dekades besig met sorghum-teelprogramme in Suid-Afrika om hibriede wat by plaaslike omstandighede aangepas is, te ontwikkel. Pannar deel produksie-inligting met boere en dra ook finansieel en deur saadskenkings by tot Graan SA se projekte wat kleinboere aanmoedig om sorghum te verbou.
Sorghumwerkgroep
Volgens Willem Groothof, Graan SA-raadslid en voorsitter van die nuwe Sorghumwerkgroep, is positief oor die toekoms van die bedryf. Hy meen nuwe kultivars is net so belangrik soos die ontwikkeling van nuwe sorghumprodukte.
Aangesien kultivars se aanpassingsvermoë na gelang van omstandighede verskil, is demonstrasieproewe nodig sodat produsente kan sien hoe die verskillende kultivars in hulle omgewing aanpas.
Volgens Groothof doen die SGI belangrike werk met verskillende projekte om die fokus op die gewas te plaas. Die projekte sluit in:
- Die evaluasie van kiemplasma;
- Ondersoeke na alternatiewe metodes om die rooibekkwelea te beheer;
- 'n Sorghumbewusmakingsveldtog;
- Die ontwikkeling van 'n verwerkingsaanleg; en
- 'n Analise van die sorg-humwaardeketting.
Deel van die proses is 'n poging om sorghum van BTW vrygestel te kry. "Die feit dat sorghum nie vrygestel is nie, het die bedryf skade berokken omdat die graan nie op gelyke voet met ander grane kan meeding om die verbruiker se beskikbare besteding nie.
"Ons is seker dat verbruik weer sal toeneem indien ons slaag in die aansoek om vrystelling."
Die Plantpatologie-afdeling van die Universiteit van die Vrystaat is ook besig met 'n studie oor die status van siektes wat sorghum raak. Die navorsing word ondersteun deur die Sorghumtrust en die Nasionale Navorsingstigting. Navorsing word onder meer gedoen op siektes wat 'n risiko vir die gewas inhou.
Navorsing word ook op die rooibekkwelea in. Derduisende rooibekkweleas, wat op sorghumlande toesak, berokken groot skade.
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wat vir die bestuur en kontrole van rooibekkweleas verantwoordelik is, probeer hulle getalle beperk deur lugbespuiting en vuur om die swerms uit te wis.
"Dit is belangrik dat ons die mark ontwikkel en sorghum weer terugkry in die huisvrou se inkopiemandjie," sê Groothof.
Wat is die uitdagings?
Hoewel sorghum talle voordele het, word boere ontmoedig om sorghum te plant. In goeie reënseisoene oortref mielie-opbrengste dikwels dié van sorghum.
Die sorghummark is ook onderhewig aan wisselvallige pryse, asook peste en voëls.
Voorts is dit ook aan BTW onderhewig, wat die mededingendheid benadeel. Tog kan sorghum Suid-Afrika help om meer klimaat-veerkragtig te wees, voedselsekerheid aanspreek en werksgeleenthede in landbou skep.
Groeitoestande
Graansorghum is 'n goeie alternatiewe gewas vir somergraan-produksiegebiede omdat dit droogte kan weerstaan, veral op marginale en swaarder grond.
Die verbouing van sorghum word bepaal deur grondgehalte en klimaatstoestande. Waar mielies en ander graansoorte swaarkry, gee sorghum onder dieselfde omstandighede steeds 'n redelike oes.
Sorghum is goed aangepas by swaarder kleigrond en min of wisselvallige reënval.
Dit word tans hoofsaaklik in droër gedeeltes van Noordwes, die westelike deel van die Vrystaat en Limpopo verbou, asook meer ooswaarts in gebiede soos Bethal, Standerton, Heilbron en Koppies.
Sorghum groei vinnig in warm weer. Die minimum temperatuur vir ontkieming is 7-10 °C. Onder ideale omstandighede van 15 °C en genoeg grondvog, ontkiem 80% van die saad binne twee dae en verskyn bogronds ná 10 tot 12 dae.
Optimale groei en ontwikkeling vind teen 27-30 °C plaas. Wanneer dag- en nagtemperature te warm is, vertraag dit blomvorming en -ontwikkeling.
'n Aanvangstemperatuur van 18 °C is nodig vir die ontwikkeling van uitlopers; warmer temperature lê dit aan bande.
Sorghum is 'n kortdagplant en lang dae met kort nagte vertraag blomvormig en -ontwikkeling. Langer dae stimuleer vegetatiewe groei, maar belemmer blomvorming.
Sorghum word in nat en droë gebiede geplant gebaseer op die langtermyn- jaarlikse reënval en die gemiddelde verspreiding van reën in die groeiseisoen. Die reënvalpatroon bepaal die keuse van kultivar, planttyd en plantdigtheid.
Sorghum word van middel Oktober tot middel Desember ná die laaste ryp gesaai, maar nie in 'n droogtetyd nie. Die plantdiepte is 25 cm in swaar grond, en tot 50 cm diep in ligter grond.
• Cilliers, V. (2020), "Sleutelrol vir sorghum", SA Graan; Du Toit, M. (2024), "Groot planne vir die toekoms van sorghum in SA", Graan SA; "Sorghum: 'n Antieke graan vir 'n moderne toekoms" (2025), Grond tot mond; Sorghum Trust; Tembo, P. (2025), "Call to Remove VAT on Sorghum Gains Momentum", Food for Mzansi.
Voordele van sorghum
Dié glutenvrye graan is ryk aan proteïen, minerale en vitamiene en is heelwat meer bekostigbaar vir Suid-Afrikaners wat sukkel om by die toenemende koers van inflasie te bly.
Sorghum benodig ongeveer 30% minder water as wat mielies nodig het om te groei, wat dit een van die mees doeltreffende gewasse maak om aan te plan in droogtegeteisterde streke en waterarm gebiede.





















