Benewens die blote heerlikheid daarvan, is rosé-wyne se mees aantreklike karakter die feit dat dié wynstyl verlos is van die gewigtige bagasie van verwagting.
Pienk rosé-wyne kom na die tafel met die blote doel om genot en verfrissende heerlikheid te verskaf. Anders as die geval met, sê nou maar, cabernet sauvignon, chardonnay en pinot noir, sal die verskyning van 'n glas rosé voor 'n groep wynkenners nie lei tot 'n gesprek en debat oor die aroma, mondgevoel of talmende nasmaak nie.
Met rosé is dit bloot 'n geval van "tjorts, daar gaat hy", 'n wyn om met onopgesmukte genot gedrink te word, dié synde die rede waarvoor die mensdom 8 000 jaar gelede begin het om wyn te maak.
Die enigste merkbare grens in die aanbod van rosé-wyne is dié van soet of droog. Vier, vyf dekades gelede, toe die internasionale wynsmaak in elk geval gerig is in die rigting van soeter wyne, was halfsoet-rosé die in-ding. Die mark is hier gelei - ook in Suid-Afrika - deur reusehandelsmerke soos Portugal se spookasem-Mateus-rosé, wat jaarliks byna soveel bottels oor die wêreld verkoop het as wat die Portugese sokkerster Cristiano Ronaldo tans maandeliks in dollar verdien.
Droë rosé het egter mettertyd begin oorheers. Nie net weens die publiek se algehele smaak-verwisseling na nie-soet wyne nie, maar ook weens rosé se assosiasie met sy plek van herkoms, naamlik Provence in die suide van Frankryk.
Wyn is nog altyd vereenselwig met die smaaklike, gekultiveerde Franse leefstyl. En met die internasionale bemarking van Provence sedert die 1980's as die plek van laventelvelde, olyfbome, see en son waar mooi mense borde seekos-sop genaamd bouillabaisse op seiljagte verslind saam met bottels rosé-wyn, het daardie land se styl van droë rosé begin om die mark vir dié pienk wyn te oorheers.

Die Mekka van rosé
Provence se maak van en smaak vir rosé is, soos die meeste Franse dinge, verbind tot 'n kleurryke geskiedenis. Marseille, die hoofstad van Provence en die oudste stad in Frankryk, is sowat 2 600 jaar gelede gevestig deur driftige avonturiers uit die weste van Griekeland wat glo van meet af aan hul eie wingerde in die omgewing geplant het.
Die als-besettende Romeine het in 200 v.C. Marseille binnegeval. Dis toe hulle ontdek dat, wragtig, die vroeë setlaars se wyne so 'n ligte, pienkerige skakering het, ver verwyder van die pers-swart rooiwyne of geel witwyne waaraan die Romeine gewoond was.
Selfs hulle het geweet 'n mens torring nie aan 'n wenresep nie, en Provence bly tot vandag die tuiste van rosé-wyn en die gebied wat makers van hierdie wynstyl oor die wêreld inspireer.
Hoewel rosé se grootste deugde sy onpretensieuse toeganklikheid is, is dit die enigste wynsoort wat op sy baadjie getakseer word, letterlik. En dit is die kleur. Dit is nie rooi nie en ook nie wit nie, maar wat in die rosé-diaspora belangrik is, is die skakering van daardie kleurgrens tussenin.
In Frankryk is dit 'n geval van hoe ligter die kleur is, hoe meer begeerlik die rosé. Binneboud-pienk en sonsak-oranje word as onelegant beskou, 'n goeie rosé moet net die geringste teken hê van ui-skil of ligkleurige salm. Aangesien dit meesal in deurskynende bottels verkoop word, is die betrokke produsent se rosé-kleur daar vir almal om te sien.
Om Provensaalse - met ander woorde, regte - rosé te maak, word rooi druiwe gebruik. Daar is wel rosé wat gemaak word deur wit- en rooiwyne met mekaar te meng, maar die ware Jakob verkies die egte resep.
Aangesien die sap van die meeste rooi druiwe wit is, en die doppe, wel, rooi-pers, lê die geheim tot die ideale uiteindelike wyn-kleur in die kontak wat die sap met die doppe het tydens die parsproses. Te lank en die kleur is te donker, te kort en dis witwyn. En, 'n korrekte grieseltjie dopkontak met die rooidruiwe word benodig om aan die rosé daardie sweempie rooi-, bessievrug te gee wat die uiteindelike wyn se geurprofiel so aantreklik maak.

Pienk en plesierig in SA
Dit gaan egter oor meer as die korrekte periode dopkontak, meen Heinrich van der Watt, wynmaker by Pink Valley Wines in die Helderberg, Stellenbosch. As wynmaker van Suid-Afrika se enigste wynkelder wat uitsluitlik fokus op die maak van rosé, moes hy by die Franse gaan kers opsteek, spesifiek by die kelder Domaine Vallon des Glauges geleë in die rosé-heiligdom van Provence.
"Die Franse se kleurbeheptheid in die maak van rosé is te verstane, want in Provence is rosé by verre die gewildste wyn, en verbruikers ag kleur net so belangrik soos smaak en mondgevoel," sê Van der Watt, wat vanjaar sy eerste pars as amptelike Pink Valley-wynmaker voltooi het.
"Die rosé moet net so 'n skadu toon van die rooi druiwe waarvan hy gemaak is. Ons Suid-Afrikaanse wynmakers word altyd geleer dat balans alsbepalend is vir 'n wyn se geurprofiel, maar as dit by Franse-styl-rosé kom, moet jy die ander sintuig uithaal om balans van kleur te vervolmaak."
En dit gaan oor meer as die toegelate kontak tussen wit sap en rooi doppe.
"Ons gebruik die rooi kultivars grenache, syrah en sangiovese vir Pink Valley-rosé, en al pers mens die druiwe byna onmiddellik nadat hulle gepluk is, moet daar verder stappe gedoen word om die ideale kleur te kry wat ons vir die wyn verlang."
Die stap wat gevolg word, is dieselfde as by Vallon des Glauges in Provence, en sy naam is koue. Die geperste sap word vir twee weke teen 2 °C gehou voor die gisting-proses. Benewens die feit dat hierdie koue tydperk die wyn se geurprofiel aanvul, sak die erge donker kleure as't ware uit die sap uit, wat - ná afloop van die prosesse van gisting en stabilisering - lei tot die gewenste super-ligte pienk en ui-skil skakering in die finale wyn.
Die rol van koue in die maak van rosé is relevant, want dis nou een wyn wat nooit te koud bedien kan word nie. Trouens, geen wyn is meer verfrissend of sielsverheffend as 'n glas yskoue rosé nie, en dis ook een wyn waarby 'n mens gerus 'n blokkie ys of twee kan gooi sonder om skewe kyke te kry van diegene steeds vasgevang in wyn-konvensies.
Drink tog rosé en chill.

















