Die Dohnemerinotelersgenootskap het 2025 op 'n baie hoë noot begin met nuwe bestuur én 'n veiling wat 'n reusesukses was.
Tydens hierdie jaar se algemene jaarvergadering (AJV), die 59ste een, wat einde Januarie by Be Human buite Bloemfontein aangebied is, was daar 'n rekord- getal lede, entoesiaste en belanghebbendes van die ras teenwoordig.

Oudergewoonte is die leierskap vir die nuwe jaar tydens die vergadering gekies en vanjaar is daar twee telers uit die Wes-Kaap wat die genootskap gaan bestuur. Koenas van der Westhuizen is tot president van die Dohnemerinotelersgenootskap verkies en John Morris is die visepresident.
Die nasionale topteler is ook tydens die AJV aangewys en vanjaar is Wikus Bekker, van All-in-One Crux Dohnes in Edenburg in die Vrystaat, met dié prestasie bekroon.

Buiten vir die AJV het die nasionale veiling alle verwagtings oortref.
Daar het 16 telers van oor Suid-Afrika heen aan die veiling deelgeneem en 75 kopers het daarvoor geregistreer.
Tydens die veiling is 'n ram van Pleasant View Dohnes van KwaZulu-Natal, CR220270, vir R200 000 opgeveil.
Alle oë in 2026 op Suid-Afrika
Volgende jaar is 'n groot jaar vir die dohnemerino-gemeenskap met die Wêrelddohnemerinokonferensie wat van 6 tot 13 September in die Wes-Kaap aangebied word.
Die konferensie sal Dinsdag 8 September en Woensdag 9 September by die Arabella-hotel in Kleinmond aangebied word, en plaasbesoeke in die Swartland en Overberg sal deel wees van die propvol program.
Die volledige program sal eersdaags op die webblad van die Dohnemerino-telersgenootskap (dohnemerino.com) beskikbaar wees.






















