Landbou

Uitnemendheid in bedryf vereer

Vanjaar se wenners van die Hortgro-toekennings: agter (van link) is Nicholas Dicey, Anton Rabe, Marius van der Westhuizen, Raymond Koopstad, Mary Koopstad, Johan du Plessis, Georgina Hewitt, Peter Wolfaardt, Mariette Kotze, Johan Strydom en Louis van Zyl. Voor is Hugh Campbell, Michelle van der Spuy en dr. Ilse Trautmann.
Vanjaar se wenners van die Hortgro-toekennings: agter (van link) is Nicholas Dicey, Anton Rabe, Marius van der Westhuizen, Raymond Koopstad, Mary Koopstad, Johan du Plessis, Georgina Hewitt, Peter Wolfaardt, Mariette Kotze, Johan Strydom en Louis van Zyl. Voor is Hugh Campbell, Michelle van der Spuy en dr. Ilse Trautmann. (Foto’s: VERSKAF)

Individue en groepe uit verskeie sektore van die sagtevrugtebedryf is onlangs vir hul werk en bydraes tydens die Hortgro-prysfunksie vereer.

Hierdie geleentheid is ’n viering van uitnemendheid, innovasie en leierskap en prestasies in media, wetenskap, transformasie, leierskap en bedryfsdiens is erken, asook dié wat die volgehoue groei en mededingendheid van Suid-Afrika se sagtevrugtebedryf verseker.

“Hierdie toekennings gaan nie net daaroor om individuele prestasies te erken nie, maar om die gees van innovasie, diens en veerkragtigheid te vier wat ons bedryf laat floreer. Elke ontvanger is ’n inspirasie, en hul bydraes vorm ’n sterker, meer volhoubare toekoms vir die steenvrug- en kernvrugsektor,” het Nicholas Dicey, Hortgro se voorsitter, tydens die prysfunksie gesê.

Hier volg meer oor die ontvangers van hierdie jaar se pryse:

  • O.S.H. Reinecke Bedryfsleier-prys: Marius van der Westhuizen

Langkloof-vrugteprodusent Marius van der Westhuizen is vereer vir drie dekades van leierskap, veerkragtigheid en diens.

1662 Bedryfsprys: Dr. Ilse Trautmann.
1662 Bedryfsprys: Dr. Ilse Trautmann.
  • 1662 Bedryfsprys: Dr. Ilse Trautmann

Hierdie prys, wat genoem is na die eerste appels wat in 1662 aan die Kaap geoes is, is vanjaar aan dr. Ilse Trautmann, adjunkdirekteur-generaal by die Wes-Kaapse landboudepartement, toegeken. Sy het ’n deurslaggewende rol gespeel in die bevordering van landbounavorsing, klimaatsveranderingstrategieë en die vestiging van internasionale vennootskappe – wat ’n blywende impak op die bedryf en die provinsie gelaat het.

Voorsitterspryse: Louis van Zyl, Nicholas Dicey en Hugh Campbell.
Voorsitterspryse: Louis van Zyl, Nicholas Dicey en Hugh Campbell.
  • Hortgro Voorsittersprys: Hugh Campbell en Louis van Zyl

Hugh Campbell, wat al 26 jaar by Hortgro betrokke is, is vereer vir sy rol in die bou en leiding van Hortgro Science en die bevordering van navorsingsraamwerke in die bedryf.

Selfs ná sy aftrede dien hy steeds as mentor en leier in landbou-ontwikkeling.

Louis van Zyl, die voormalige hoofbestuurder van bedryfsdienste en hoof- finansiële beampte van Hortgro, is vereer vir meer as 26 jaar van leierskap.

Hy het die bedryf deur deregulering gelei en veerkragtige strukture gevestig wat steeds vrugteprodusente dien.

Transformasie-prys: Johan du Plessis, Susan Davis, Georgina Hewitt, Mary Koopstad, Raymond Koopstad en Peter Wolfaardt.
Transformasie-prys: Johan du Plessis, Susan Davis, Georgina Hewitt, Mary Koopstad, Raymond Koopstad en Peter Wolfaardt.
  • Hortgro Transformasie-prys: La Vouere Stone Fruit (Edms.) Bpk.

Die suksesvolle publiek-private samewerking van die vennootskap tussen Raymond en Mary Koopstad van La Vouere (60%) en Verdun Estates se Georgie Hewitt, Peter Wolfaardt en Johan du Plessis (40%) is vanjaar met die Transformasie-prys vereer.

Oor die afgelope dekade het die vennootskap gewys hoe vertroue, ’n gedeelde visie en strategiese besluitneming betekenisvolle transformasie buite die plaashek kan bewerkstellig.

Wetenskap- en tegniese prys: Johan Strydom.
Wetenskap- en tegniese prys: Johan Strydom.
  • Daan Strydom Wetenskap- en tegniese prys:Johan Strydom

Logistiek-pionier Johan Strydom is vir ’n leeftyd van baanbrekersbydraes vereer – waaronder sy werk in kouekettingbestuur, houerisasie en uitvoertegnologie – wat die manier waarop Suid-Afrikaanse vrugte wêreldmarkte bereik, verander en sodoende die langtermyn-mededingendheid van die bedryf verseker het.

Media-prys: Michelle van der Spuy.
Media-prys: Michelle van der Spuy.
  • Izithelo Hortgro-media-prys: Michelle van der Spuy

Die landboujoernalis Michelle van der Spuy (Landbou.com) is vir haar uitsonderlike verslaggewing oor die vrugtebedryf vereer.

Haar werk verbind die sektor konsekwent met breër kwessies soos uitvoerlogistiek, marktoegang en ekonomiese druk, en verseker gebalanseerde, etiese en insiggewende dekking.

CTA