Landbou

Uitvoermarkte moet beskerm word

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Met die 30%-invoertarief op Suid-Afrikaanse produkte wat deur die VSA se president ingestel is, is dit nou die tyd vir plaaslike produsente en bedrywe om nuwe markte te ondersoek. Foto: GESKEP DEUR TOQAN AI
Met die 30%-invoertarief op Suid-Afrikaanse produkte wat deur die VSA se president ingestel is, is dit nou die tyd vir plaaslike produsente en bedrywe om nuwe markte te ondersoek. Foto: GESKEP DEUR TOQAN AI

Pres. Donald Trump het die afgelope week aangekondig dat daar 'n 30%-invoertarief op Suid-Afrikaanse produkte ingestel sal word en die landboubedryf het sterk hierop gereageer - veral oor die impak daarvan op die verskillende bedrywe in die sektor.

AgriSA het sy kommer uitgespreek oor hierdie verhoging wat van 1 Augustus in werking tree en gesê dit is nou die tyd dat Suid-Afrika se landbou-uitvoermarkte beskerm moet word. In 'n persverklaring doen hulle 'n beroep op proaktiewe strategiese maat­reëls en sê dat Suid-Afrika moet "diversifiseer te midde van 'n groeiende onsekerheid oor die globale handelsmark".

Die impak van hierdie besluit het beslis 'n effek op ons plaaslike uitvoerinkomste, want verlede jaar was die Amerikaanse mark, deur middel van Agoa, verantwoordelik vir ongeveer $488 miljoen se landbou-uitvoer. Primêre uitvoer na die VSA sluit in sitrus, makadamianeute, druiwe, wyn, vrugtesap, volstruisleer en ander varsprodukte. Uitvoer se waarde was $13,7 miljard in 2024.

"Alhoewel oproepe vir markdiversifikasie geldig is, kan waardekettings nie oornag herlei word nie en sal dit tyd neem om te diversifiseer. Dit beklemtoon die ernstige onmiddellike impak op streke en produsente wat sterk afhanklik is van die Amerikaanse mark," sê Johann Kotzé, AgriSA se uitvoerende hoof.

Die impak op bedrywe

Volgens AgriSA is daar 'n kans dat Suid-Afrikaanse sitrus se markaandeel aan mededingende lande soos Chili en Peru kan verloor, want die 30%-tarief sal die koste van plaaslike sitrus aansienlik verhoog. Met Suid-Afrika se sitrusseisoen wat tot Oktober duur, sal die inwerkstelling van die tarief in Augustus 'n direkte impak op dié bedryf hê.

Ander vrugte soos subtropiese vrugte, tafeldruiwe, makadamianeute, bloubessies en steenvrugte sal ook geaffekteer word. Daar is veral kommer oor makadamianeute wat in die komende jare beduidende hektare gereed sal hê vir uitvoer.

As dit by die wynbedryf kom, meen hulle die "wynsektor word deur potensieel rampspoedige gevolge in die gesig gestaar onder die 30%-tarief". Nie net sal hierdie verhoging die winsgewendheid van die produkte vir produsente affekteer nie, maar dit kan ook aansienlike werksverlies tot gevolg hê.

Probleme staar die volstruisbedryf ook in die gesig met Suid-Afrika se volstruisleeruitvoer wat 60% van die VSA-mark uitmaak.

Wat is die oplossings?

AgriSA lê klem daarop dat nuwe markte verken moet word en die verhouding met bestaande markte versterk moet word, maar hulle stel ook die volgende strategiese reaksies voor.

• Hulle meen handelsooreenkomste en diplomasie moet verbeter en die situasie vereis omvattende reaksie van die departement van handel, nywerheid en mededinging, wat pogings lei om uitvoer uit te brei, die landboudepartement en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking.

"Dringende toewysing van bykomende hulpbronne en belyning met 'n pragmatiese handelstrategie vir landbou is nodig."

• Dit is belangrik dat tarief- en nie-tariefhindernisse aangespreek word, want Suid-Afrika se handelsooreenkomste en gebrek daaraan belemmer die land se deelname aan globale handelsmarkte.

Veral met belangrike ekonomiese streke soos die Asean-lande. Dit is belangrik dat soortgelyke ooreenkomste ontwikkel word, want sonder dit kan Suid-Afrikaanse produkte duurder en minder mededingend wees.

"Dit word vererger deur die gebrek aan ekonomiese integrasie-ooreenkomste (EIA's) in sleutelmarkte. EIA's laat dieper samewerking toe as net tariewe, soos in regulasies en standaarde, wat mededingers 'n voorsprong gee in produkaanvaarding en markintegrasie. Suid-Afrika moet verder werk aan die vermindering van tariewe wat marktoegang beperk, veral in die Brics- en Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies (Asean)-markte."

• Om risiko's wat verband hou met geopolitieke onsekerhede te verminder en vermy, moet uitvoermarkte gediversifiseer word.

Suid-Afrika moet nou daarop fokus om sy teenwoordigheid in groeiende markte uit te brei én sy teenwoordigheid in Afrika, Asean en die Brics-lande vermeerder en versterk.

CTA