Die voëlgriep wat tans verwoesting in Europa en Amerika saai, kan binne die volgende drie jaar sy opwagting in Suid-Afrika maak, meen kenners.

Volgens dr. Shahn Bisschop, 'n veearts en hoof van Avimune, 'n veeartsenykundige praktyk in Suider-Afrika, is die kanse 90% dat die virus binnekort op eie bodem sal begin versprei.
Daar word selfs bespiegel dat die virus al vanjaar 'n uitbreek in Suid-Afrika kan veroorsaak wat meer skade sal aanrig as die voëlgriep wat in 2023 in die land versprei is.
Die voëlgrieppandemie van 2023 het tot gevolg gehad dat 90% van alle langlewende pluimvee in die groter Gauteng-omgewing gevrek het of van kant gemaak is en die bedryf het 'n verlies van sowat R9,5 miljard beloop.
Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa), ervaar die meeste van die wêreld se groot pluimveeprodusente ernstige probleme met die siekte - veral onder hoenders.
Daar is veral 'n groot probleem in Europa, Amerika en Argentinië, sê hy. Daar is onder meer 'n tekort aan eiers in Amerika ook.
Volgens Breitenbach sal die verspreiding van die virus na Suid-Afrika - wat tans 'n groot risiko is - moeilik gekeer kan word, want dit kom saam met wilde voëls wat in die winter uit Europa hierheen migreer.
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sê egter die land behoort nie nou te kwesbaar te wees nie - "mits boere geleer het uit die uitbrekings van 2023 en 2024 en voldoen aan die wetgewing daaroor en die nodige biosekerheidspraktyke in plek het".
Volgens hierdie wetgewing moet boere onder meer staatsveeartse in kennis stel wanneer hulle vermoed 'n dier is met 'n beheerde of aanmeldbare siekte besmet.
Opsies vir die pluimveebedryf is egter skaars, want al wat hulle kan doen, is om aansoek te doen om hul pluimvee in te ent of hulle kan wag tot die siekte uitbreek en dan hul hele toom (of teelgroep) van kant maak.
Breitenbach sê dat daar egter 'n probleem is as dit by inentings kom, want weens die departement se streng maatreëls oor biosekerheid en monitering, is daar tot op hede nog nie 'n plaas wat aan die kriteria voldoen om sodoende die entstof te kry nie.
Die probleem is dat die vereistes volgens hom onprakties en duur is en dat geen kommersiële boer daaraan kan voldoen nie, nog minder kleinboere. - Netwerk24


















