Landbou

Wonderlike granate groei in dié streek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Granate in die Klein-Karoo is ’n groeiende bedryf en met ’n nuwe prosesseringsaanleg, is granaatboere op soek na nog landbouers om aan te sluit by die maatskappy Karoo Pak.
Granate in die Klein-Karoo is ’n groeiende bedryf en met ’n nuwe prosesseringsaanleg, is granaatboere op soek na nog landbouers om aan te sluit by die maatskappy Karoo Pak.

Dit het baie navorsing gekos voor Gerhard Meyer besef het dat granate in die Klein-Karoo hoort en vandaar het hy hierdie kultivar na nuwe hoogtes geneem.

In 2006 het Meyer die geleentheid gekry om sy familieplaas tussen Calitzdorp en Oudtshoorn terug te koop, maar het besluit hy gaan nie met volstruise en lusern boer nie.

"Ek het besluit om die grond te laat analiseer om te kyk waarvoor dit geskik is. Die uitslae het gewys dat die grond nie geskik is vir enige gewasse nie.

"Die grond was baie brak, maar daar het tog bome gegroei. Toe doen ek verder ondersoek," sê hy.

Hy het die plaas se mikroklimaat laat karteer op 'n wêreldkaart en gesien dit is soortgelyk aan die mikroklimaat in die Negev-woestyn in die suide van Israel.

Meyer het 'n paar plase in hierdie gebied besoek en onder andere 'n bejaarde boer ontmoet wat vir hom gesê het dat solank hy Bybelse vrugte plant, sal hy nie misluk nie.

"Hulle boer daar met granate, spesifiek 'n Israeliese kultivar genaamd Wonderful.

"Ek het besluit om Wonderful na Suid-Afrika te bring. Ten spyte van die plaas se grond wat ongeskik verklaar is, het die bome dadelik begin groei," sê Meyer.

Gehalte vrugte

Die kans wat Meyer met granate gevat het, was die moeite werd. Belangstellig het toegeneem en 10 ander boere in die Klein-Karoo het ook Wonderful-granate begin geplant.

"Daar is tans sowat 210 ha van die granate in die omgewing, buiten die 40 ha op my plaas. Ons wil die grootste kluster Wonderful-granate in die land te wees.

"Dié is premie-granate vir uitvoer. Die Klein-Karoo se klimaat gee die granate 'n baie goeie kleur - dit kan beslis met kleur, smaak en suiker kompeteer met ander lande se granate," sê hy.

'n Maatskappy genaamd Karoo Park is gestig vir die bemarking van die granate in die omgewing wat deur die granaatboere besit word. Hulle het ook die handelsmerk Karoo Wonderful Pomegranates geregistreer.

"Die boere wat deel is van dié groep sal in die volle waardeketting van die vrug kan deel. Die klas 1- en klas 2-vrugte word uitgevoer, terwyl daar van die uitskotvrugte 'n reeks byprodukte gemaak word. Dit sluit in 100% suiwer granaatsap, 'n granaatport, granaatroomys asook 'n velsorgreeks met granaatpitolie as hoofbestanddeel.

"Die Klein-Karoo gee granate baie kleur, maar ook sonbrand. Ons wou waarde voeg tot hierdie vrugte met sonbrand en nou kan ons (dit doen) deur die byprodukte te maak," sê Meyer.

Hulp lei tot groei

Memory Booysen, die burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, is een van die mense wat in Meyer se visie geglo het - veral omdat hierdie inisiatief tot werkskepping sal lei.

Booysen het gehelp met die ontwikkeling van 'n boorgatveld en 'n pyplyn van sowat 10 km is gelê om vars water tot by die plaas uit te kry. Die distriksmunisipaliteit het ook belê in infrastruktuur.

Meyer sê dat Karoo Pak in September verlede jaar in 'n R10 miljoen skenking van die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) ontvang het. "Dit is die eerste landbouprojek in Suid-Afrika waarby USAID betrokke is," sê Meyer. Hierdie geld is deur die groep gebruik vir die oprigting van 'n prosesseringsaanleg vir granate langs die bestaande pakstoor en gaan gebruik word vir die vervaardiging van onder meer sap, molasse en roomys van granate. Meyer is oortuig dit sal 'n R60 miljoen­bedryf tot stand bring.

"Nog iets wat die samewerking met USAID moontlik maak, is toegang tot die Amerikaanse mark. Hierdie toegang, wat uitvoer sal help, is op lang termyn baie meer werd as kapitaal," sê hy. Die aanleg skep ook werk vir 'n groter hoeveelheid mense buite oes- en paktyd.

"Ons wil hê meer boere in die omgewing moet granate aanplant, want daar is nou 'n fasiliteit daarvoor. Die Midde-Ooste is tans een van ons grootste invoerders. Met die reuse Amerikaanse mark wat deur middel van USAID toeganklik word vir die Karoo Pak-groep se Wonderful-granate, sal meer granaataanplantings nodig wees om aan die aanvraag te voldoen," sê Meyer.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM