Landbou

Wynuitvoer in geheel daal

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wynuitvoer is met bykans 17% af na sowat 306 miljoen liter, maar op 'n positiewe noot is die randwaarde van verpakte uitvoerwyne meer.

Luidens die 2023-uitvoerverslag deur Wines of South Africa (Wosa) is produksievolumes in die land tydens 2023 se pars met 14% af, maar dit was wêreldwyd 'n probleem.

Die International Organisation of Vine and Wine (OIV) se verslag toon dat daar verlede jaar in alle lande kleiner wyndruifoeste was.

306,3 miljoen: Die hoeveelheid liter Suid-Afrikaanse wyn wat in 2023 uitgevoer is.

"Die volgehoue positiewe punte en eerbetonings wat Suid-Afrikaanse wyn kry, het ons gesement in ons posisie op internasionale markte.

"Gehalte bly ons fokus en die konsekwentheid wat ons sien, tesame met wingerdboukundige verbeterings en die aangryp van nuwe tegnologie in die wingerde en kelder, sal bydra tot die groei hiervan. Dit is waarom kopers positief bly oor hul ondersteuning van ons wyn," sê Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wosa.

Volgens haar is dit danksy ons land se unieke terroir dat produsente bekend is daarvoor dat hulle wyne maak wat uniek is en verteenwoordigend is van ons reënboognasie.

Só lyk 2023 se syfers

Die uitvoer van grootmaatwyn het vanaf 2022 tot 2023 met 16,9% gedaal, terwyl verpakte wyn (in bottels of bokswyn) met 17% gedaal het. Grootmaatwyn verteenwoordig 189,2 miljoen liter wat uitgevoer word, terwyl verpakte wyn se volume 117,1 miljoen liter vir uitvoer is.

Die randwaarde van grootmaatwyn het ook gedaal, met 0,3% tot R2,3 miljard, maar die randwaarde van verpakte wyn het met 1,2% tot R7,66 miljard gestyg.

Die waarde van 2023 se uitvoer het met 0,9% tot R10 miljard toegeneem weens die swakker rand verlede jaar. In 2022 was die bedrag R9,9 miljard, maar dit is steeds minder as 2021 se R10,2 miljard.

Uitvoer na 'n paar lande het ook in randwaarde gestyg. Verkope in Brittanje het in randwaarde met 19% na R2,8 miljard gestyg en in België het die waarde verhoog met 36% tot R474 miljoen.

Daar was egter dalings in uitvoerwaarde in rand na die volgende lande (persentasie daling aangedui): VSA (11%), Kanada (15%), Frankryk (16%) en Japan (13%).

Uitdagings by hawe

Die kwessies met die infrastruktuur en toerusting by die Kaapse hawe is een van die logistieke uitdagings wat wyn in die gesig staar. Nes vele ander plaaslike produkte is die wynbedryf ook afhanklik van die hawe om wyn uit te voer.

Die nuwe wynbedryfsliggaam South Africa Wine (SA Wine) en uitvoerders is gereeld in gesprek met die hawe-owerhede om maniere te vind om produsente te ondersteun met die uitvoer van wyn. Luidens die verklaring sal 'n langtermynstrategie nodig wees om die uitdagings uit te skakel en reg te stel.

"Die vervulling van bestellings is deurslaggewend in die internasionale wynbedryf en ons kan nie toelaat dat substandaard- logistieke prestasies ons reputasie as 'n betroubare verskaffer van gehaltewyn skaad nie," sê Christo Conradie, 'n bestuurder van SA Wine verantwoordelik vir betrekkinge met belangegroepe.

Volgens hom is Transnet (Kaapse hawe) 'n kardinale instaatsteller om te verseker dat die bedryf hul beloftes vir uitvoer nakom.

Gunstelingwyne oorsee

Van die gewildste witwyn van Suid-Afrika wat uitgevoer word, neem sauvignon blanc die voortou, gevolg deur chenin blanc en chardonnay.

As dit kom by uitvoer­rooiwyne, is shiraz die gewildste, met pinotage en cabernet sauvignon kort op sy hakke.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM