Douw Steyn was "groter as die lewe" en laat 'n blywende nalatenskap.
Dis onder die huldeblyke wat Dinsdag ingestroom het nadat bekend geword het die sakemagnaat en miljardêr is in die ouderdom van 72 dood.
Verteenwoordigers van die ondernemings wat Steyn begin het, het Dinsdagoggend in 'n verklaring gesê hy sal onthou word as 'n uitsonderlike entrepreneur wat 'n globale sakeryk van ontsaglike skaal in sewe lande opgebou het.
Hy sal ook onthou word as 'n visioenêr met 'n diepliggende verbintenis tot Suid-Afrika en sy mense.
Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie.
Versekeringsreus
Steyn het Steyn's Versekeringsmakelaars in 1975 in Johannesburg gestig. Hy het die potensiaal van 'n maandelikse polis besef wat voertuie, sowel as huishoudelike inhoud, dek en het dié tipe polisse bemark deur middel van veldtogte waarin pamflette van deur tot deur versprei is.
Ná etlike jare van sake doen in Suid-Afrika het Steyn sy oog op Amerika gerig.
Hy het egter in 1985 na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy 'n versekeringslisensie bekom het wat hom in staat gestel het om motorversekering telefonies te verkoop - 'n eerste ter wêreld.
Dié stap het die versekeringslandskap ontwrig en tot die totstandkoming van Auto&General Insurance in Johannesburg aanleiding gegee.
Die sukses van Auto&General het gelei tot die bekendstelling van sommige van Suid-Afrika se grootste finansiëlediensverskaffers, soos Budget, 1st for Women, Dialdirect, 1Life en hippo.co.za.
Douw was 'n groter-as-die-lewe-karakter, iemand wat Madiba as 'n vriend beskou het. Hy het Madiba op verskeie maniere oor die jare ondersteun.
— Nelson Mandela-stigting
Steyn het later na Brittanje verhuis, waar hy die BGL Group, die moedermaatskappy van die bekende prysvergelykingswebwerf Compare the Market, gestig het.
Die groep het Auto&General in 2000 in Australië bekend gestel om die sukses van die onderneming in Suid-Afrika en Brittanje daar te herhaal.
Steyn het in 2012 as uitvoerende voorsitter van sy globale ondernemings uitgetree. Dié ondernemings het gesamentlik meer as 10000 mense in diens wat in meer as 50 lande wêreldwyd gesetel is.
Vriendskap met Mandela
Steyn is bekend daarvoor dat hy 'n heenkome in sy huis in Johannesburg aan oudpres. Nelson Mandela gebied het ná Mandela se vrylating uit die tronk. Mandela het daar ook sy outobiografie, Long Walk to Freedom, voltooi.
Sy droom om 'n stad binne 'n stad te bou het meer waar geword met Steyn City, 'n luukse residensiële en leefstyllandgoed in die noorde van Johannesburg.
Steyn was betrokke by verskeie filantropiese projekte en het onlangs deur die Douw Steyn-familietrust en die maatskappye wat hy gestig het R370miljoen bewillig vir hulpverlening gedurende die Covid-19-pandemie.
Zelda la Grange, Mandela se jare lange assistent, het haar diepste medelye met sy vrou, Carolyn, asook met Steyn se kinders, Tanya, TJ, Louis en húl kinders, Elsa and Gui, in 'n plasing op Facebook betuig.
Madiba het sy sin vir humor geniet wat gepaard gegaan het met sy skerp sakebrein en Douw het die vermoë gehad om hom altyd te laat glimlag wanneer sy naam genoem is.
— Zelda la Grange
Mandela het La Grange in 1998 by sy troue met Graca Machel en 80ste verjaarsdagpartytjie by Gallagher-landgoed aan Steyn en sy eerste vrou, Liz, voorgestel en volgens haar gesê: "Hy is 'n Afrikaner soos jy en ek wil hê jy moet baie mooi na hom kyk."
La Grange onthou Steyn het in die 1980's met die ANC leierskap in Lusaka vergader toe dit nie gunstig was vir Afrikaners om dit te doen nie.
"Hy het die skrif aan die muur gesien en sy ondersteuning gebied vir 'n nuwe demokrasie en met OR Tambo, (voormalige ANC-president) en Thabo Mbeki vergader. Mnr. Mbeki het Douw aan Madiba voorgestel. Ná sy vrylating uit die tronk en toe 'n laataandoproep gemaak is toe Madiba sy gesinshuis in Soweto verlaat het, het Douw aangebied dat hy en sy kleinseuns langer as ses maande by hom kon bly."
Hulle het daarna 'n "warm vriendskap" gehad.
Volgens La Grange was Steyn se toetrede tot die sakewêreld nederig, maar die impak wat hy laat, "sal in die geskiedenisboeke onthou word": "Hy het duisende mense in diens geneem en maatskappye begin wat werknemers ook laat voel het dat hulle daar hoort."

Steyn het die Shambala-natuurreservaat gebou, waar hy vir Mandela 'n huis gebou het vir sy eksklusiewe gebruik waar hy rus en vrede kon ervaar weg van die druk van sy openbare lewe. Mandela het die plek gereeld besoek en het baie goeie herinneringe daarvan gehad. "Ons het baie internasionale beroemdes, politici en filantrope daar onthaal."
Steyn het Madiba se ivoorstapstok aan hom gegee wat gemaak is van 'n tand van 'n olifant wat by Shambala, sy wildplaas, dood is. "Madiba het nie baie materiële besittings gehad nie, maar die stok was 'n kosbare besitting.
"Madiba het sy sin vir humor geniet wat gepaard gegaan het met sy skerp sakebrein en Douw het die vermoë gehad om hom altyd te laat glimlag wanneer sy naam genoem is."
Groter as die lewe
Ook die Nelson Mandela-stigting het met "groot hartseer" kennis geneem van Steyn se sterfte. "Douw was 'n groter-as-die-lewe-karakter, iemand wat Madiba as 'n vriend beskou het. Hy het Madiba op verskeie maniere oor die jare ondersteun.
"Madiba het in 1992 in Douw se huis gewoon terwyl hy die moeilike weg genavigeer het deur die pynvolle skeiding van Ma Winnie Madikizela-Mandela. Madiba het oor die volgende twee dekades gereeld na Douw gedraai toe hy plekke nodig gehad het vir 'n rusplek of ondersteuning vir sy projekte. Die stigting sal altyd die herinnering van hul verhouding eer."
Blywende impak
John Steenhuisen, DA-leier, het ook sy meegevoel betuig. "Douw was 'n sakeman wie se merkwaardige prestasie en nalatenskap 'n blywende impak op Suid-Afrika en die wêreld sal laat."
Steyn se entrepreneursgees, wat sigbaar is in sy suksesvolle ondernemings soos die BGL Group en Steyn City, was volgens Steenhuisen "waarlik uitsonderlik".
"Hy het nie net 'n sakeryk oor verskeie lande gebou nie, maar ook groot toewyding aan Suid-Afrika getoon, in sy sake- sowel as sy persoonlike lewe. Sy vrygewige bydraes tot die nasie, veral gedurende die Covid-19-pandemie, is 'n bewys van sy begeerte om terug te gee en om 'n positiewe verskil te maak."
Die ANC het ook sy simpatie met Steyn se familie, vriende en sakevennote uitgespreek. "Steyn het as 'n gerespekteerde sakeman en filantroop beduidende bydraes tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en verskeie maatskaplike inisiatiewe gelewer. Hy laat 'n blywende impak op die land se ontwikkeling."
Sy nalatenskap in die sakewêreld, veral in versekering en eiendom sowel as sy filantropiese werk, sal volgens die ANC onthou word as deel van sy verbintenis om 'n beter Suid-Afrika te bou.

















