Maatskappye

Durban-hawe kry meeste van Transnet se R3,4 mjd.

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Transnet gee die Durban-hawe ’n aansienlik kapitaalinspuiting. Foto: Transnet
Transnet gee die Durban-hawe ’n aansienlik kapitaalinspuiting. Foto: Transnet

Die Durban-hawe, die land se besigste, behoort oor die loop van die jaar nuwe oemf te kry nadat hy meer as 100 nuwe stelle toerusting vir die hantering van skeepsvrag ontvang het.

Transnet het Donderdag gesê dié aansienlike besending is deel van 'n oorhoofse kapitaalinspuiting van R3,4 miljard as deel van sy regrukplan.

Durban se tweede vraghouerkaai gaan met 20 nuwe wydbeen-houerkarweiers spog, terwyl die eerste vraghouerkaai nege nuwe bokkrane, wat met rubber versterk is, gaan kry.

Die besending, wat geleidelik sal plaasvind, is reeds verlede Desember van stapel gestuur en behoort teen Mei vanjaar afgehandel te wees.

Investering noodsaaklik

Boonop ontvang die hawe se suidelike houerkaai ook vier nuwe sogenaamde skip-tot-kus-hyskrane, 40 vraghouers en 67 sleepwaens. Die tydsverloop hiervoor is April tot Desember.

Die Durban-hawe hanteer 60% van die land se vraghouervolumes.

Ondanks die staatsonderneming se steeds wankelende finansiële posisie sê Andile Sangqu, Transnet-voorsitter, hulle kan nie verwag om mededingend te bly as hulle nie in infrastruktuur belê nie.

"Transnet se herstel hang regstreeks af van die oplossing van die uitdagings wat tot ons swakker vertoning gelei het. Dus is investering in ons infrastruktuur deurslaggewend vir ons planne. Dit lê die grondslag vir 'n meer betroubare en doeltreffender Transnet."

Goeie tydsberekening

Die opknapping van die Durbanse hawe is tydig, veral nadat verskeie maatskappye verlede jaar melding gemaak het van hoe die opeenhopings daar tot 'n groot verlies aan inkomste vir die staatskas lei.

Verskeie skepe het eerder na die nabye Maputo-hawe gevaar om goedere af en op te laai, maar die onlangse politieke onluste in Mosambiek bied aan Transnet die geleentheid om van sy verlore aansien te herwin.

Michelle Phillips, Transnet se uitvoerende hoof, sê ook daar is besluit om gebruik te maak van hibriede dieseltoerusting wat hul koolstofvoetspoor sal verklein.

Ander hawens

Hoewel die 2025-kalenderjaar meestal voorsiening maak vir die opknapping van die Durban-hawe, is die kapitaalbestedingsprojek nie daartoe beperk nie.

Aanstaande jaar sal Gqeberha se vraghouerterminaal 12 nuwe wydbeen-houerkarweiers ontvang, en die Kaapstad-hawe 28 nuwe bokkrane en wydbeen-houerkarweiers.

Phillips maak ook melding van 'n daadwerklike poging om ooreenkomste met die vervaardigers van oorspronklike onderdele aan te gaan sodat daardie onderdele spoediger verskaf kan word om herstelwerk te bespoedig. Daar is reeds goedkeuring van die tesourie hiervoor ontvang.

Daar is ook begroot vir die instelling van 'n vierde skof vir werkers om hawens se 24-uur-bedrywighede te ondersteun.

Sangqu sê dat Transnet vennootskappe met die private sektor verwelkom, maar tenderprosesse sloer steeds weens hofsake.

- heinz.schenk@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM