Maatskappye

FlySafair-vlugte ‘vertrek Dinsdag soos beplan’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Passasiers staan by FlySafair se kaartjiekantoor op die Kaapse lughawe tou nadat vlugte gekanselleer is. Foto: Jaco Marais
Passasiers staan by FlySafair se kaartjiekantoor op die Kaapse lughawe tou nadat vlugte gekanselleer is. Foto: Jaco Marais

Alle FlySafair-vlugte met die uitsondering van twee sou teen Dinsdagmiddag soos beplan vertrek ten spyte van die voortslepende staking deur die meerderheid van sy vlieëniers.

Dít nadat daar Maandag heelparty ontevrede FlySafair-passasiers op die Kaapstadse Internasionale Lughawe was nadat die lugdiens 8% van sy vlugte weens die staking gekanselleer het. Die 8% is ná aanpassings wat FlySafair reeds die vorige week proaktief ingestel het.

Sowat tweederdes, oftewel 200, van die laekostelugdiens se vlieëniers het Maandag begin staak.

Aanvanklik is daar gehoop dat die staking slegs 'n dag sou duur, maar FlySafair het die stakende vlieëniers vir 'n week uitgesluit, waarna die vakbond Solidariteit met 'n twee weke lange staking gedreig het.

Skedule aangepas

Kirby Gordon, bemarkingshoof van FlySafair, het in 'n verklaring gesê die lugdiens bedryf vanaf Dinsdag die afgeskaalde skedule wat verlede week proaktief aangepas is. Alle passasiers wat deur veranderinge in tye geraak is, is per SMS en e-pos in kennis gestel.

Slegs twee bykomende vlugte is vir Dinsdag gekanselleer - die 16:45-vlug van Kaapstad na Lanseria, en die 19:30-vlug van Lanseria na Kaapstad.

"Daar is met hierdie passasiers gekommunikeer en dit is ingevolge hul voorkeure bestuur. Alle ander geskeduleerde vlugte het bemanning en word sedert vanoggend normaalweg bedryf."

FlySafair bly volgens Gordon daartoe verbind om die kwessie konstruktief op te los.

'n Sitting met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) is vir Woensdag geskeduleer.

Vlugte wat op relatief kort kennisgewing gekanselleer is, is Maandag aangedui by die Kaapstadse Internasionale Lughawe. Foto: Jaco Marais
Vlugte wat op relatief kort kennisgewing gekanselleer is, is Maandag aangedui by die Kaapstadse Internasionale Lughawe. Foto: Jaco Marais

‘Feitelik inkorrek'

Die lugdiens het dit as "feitelik inkorrek" bestempel dat die maatskappy, soos Solidariteit aangevoer het, geweier het om aan die KVBA-proses deel te neem.

"FlySafair het deurgaans die proses aktief met die KVBA geskakel soos deur wetgewing vereis om 'n beskermdestakingsertifikaat te bekom, en gaan voort om in goeder trou aan besprekings deel te neem wat deur die KVBA gefasiliteer word."

Passasiers kan die status van hul vlugte nagaan deur die "Manage My Booking"-afdeling op flysafair.co.za te besoek. Hulle word ook aangemoedig om die "Travel Updates"-blad op die lugdiens se webwerf na te gaan vir die jongste inligting. Spanne by lughawens bly op bystand om te help met herbesprekings, terugbetalings en ander reëlings.

Gordon sê FlySafair is daarvan bewus dat ontwrigtings met reise baie stresvol kan wees, veral wanneer planne lank voor die tyd al gemaak is.

"Ons is werklik jammer oor die ongerief wat veroorsaak is, en wil ons kliënte verseker dat ons alles in ons vermoë doen om ons bedrywighede so gou as moontlik ten volle te hervat."

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM