Die Reserwebank sal nou, meer as twee jaar nadat dokumente en inligting van Markus Jooste, oorlede uitvoerende hoof van Steinhoff, in 'n klopjag bekom is, volledig toegang daartoe kan kry.
'n Bevel waarvoor die Reserwebank gevra het, is Dinsdag deur die hooggeregshof in die Wes-Kaap toegestaan.
Die Reserwebank het die hof verlede Maandag kragtens 'n hofbevel van Oktober 2022 genader om te besluit of die besware teen die inligting wat hy wil bekom, geldig is.
Meer as 1 miljoen items
Die Reserwebank se optrede handel oor 'n ondersoek oor beweerde oortredinge van valutabeheerreëls deur Jooste en verwante entiteite.
Jooste het voor sy dood in Maart verlede jaar beswaar gemaak teen toegang tot die inligting. Sy regsverteenwoordigers het aangevoer dit is prakties onmoontlik om deur al die inligting te gaan waarop beslag gelê is weens die omvang daarvan.
Die elektroniese inligting wat op Jooste se selfoon, tablet en in e-posse bekom is, asook op sy vrou se selfoon en tablet en sy een dogter se tablet, het meer as 1 miljoen items beloop.

'n Spieëlbeeld-kopie is van die toestelle se inligting gemaak en word onder bewaring gehou deur die toesighoudende prokureur wat in Oktober 2022 deur die hof aangestel is totdat die partye kon ooreenkom oor watter inligting vrygestel mag word.
Ná sy dood het die eksekuteur van sy boedel aangevoer minstens 16 000 items is aan regsprivilegie onderhewig.
Die eksekuteur het die hof in Desember verwittig hy sal berus by die besluit in die aansoek wat deur die Reserwebank gebring is oor die inligting.
Die hooggeregshof sê in die bevel geen van die besware van Jooste wat in Junie 2023 gelewer en in Februarie 2024 bevestig is, vorm 'n geldige regsrede om toegang tot die inligting te verbied nie.
Dit sluit sowel die fisieke as elektroniese inligting in.
Inligting moet dadelik na Reserwebank
Danie Rossouw, die toesighoudende prokureur, is opdrag gegee om dadelik die inligting in sy besit aan die Reserwebank te verskaf.
Die Reserwebank het in 'n ander hofaansoek teen 'n maatskappy, Erf 2825 Hermanus, aangevoer 'n inhoudsopgawe van die inligting dui op 'n ooreenkoms oor onder meer die woning van Jooste in Hermanus met die familietrust van Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, en dat hy meer daaroor te wete wil kom.
Die inhoudsopgawe het ook aangedui hoe lank Jooste en die vrou wat in die media as sy skelmpie beskryf is, nog gekorrespondeer het nadat die bom by Steinhoff gebars het.
LEES OOK | Jooste het lank ná Steinhoff-bom nog briewe met Berdine gewissel
Die Reserwebank het met die hofbevel van 2022 beslag gelê op die regte, titels en belange in die bates van Jooste asook 'n familietrust van hom, Silveroak Trust.
As die Reserwebank die bates aan die staat verbeurd wil verklaar, moet hy dit voor Oktober vanjaar doen.
- nellie.brand@24.com
















