Vergaderings wat Woensdag en Donderdag met die Transnet-bestuur gehou word, is straks al wat nog kan keer dat 'n moontlik vernietigende staking by die staatsvervoeronderneming begin.
Volgens die vervoerwerkersvakbond Untu het die meeste van sy lede wat by Transnet werk in 'n stemmingsproses aangedui hulle steun 'n staking.
Dit kom nadat die vakbond 'n dooiepunt in loononderhandelinge met Transnet bereik het. Transnet het in Maart reeds 'n ooreenkoms met die vakbond Satawu gesluit vir 'n verhoging van 6% vanjaar en 5,5% in die daaropvolgende twee jare. Maar Untu dring steeds aan op 'n verhoging van 10% asook 'n klousule wat afleggings weens enige private vennootskappe verbied.
Luidens 'n verklaring wat Untu Woensdagaand laat uitgestuur het, het die oorgrote meerderheid van sy lede ten gunste van 'n staking gestem. Untu het sowat 26 000 lede by Transnet, wat meer as die helfte van Transnet se totale werkmag verteenwoordig.
'n Vorige staking in 2022 het die ekonomie sowat R1 miljard per dag aan verliese gekos.
Untu het op 15 April begin om lede se mening te toets oor die staking, nadat 'n bemiddelingsproses by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) op 14 April misluk het. Die KVBA het daarna aan Untu 'n sertifikaat van nie-resolusie uitgereik, wat hom die reg gee om sy lede se mening oor moontlike nywerheidsoptrede te toets.
Verlede week het die KVBA ingevolge 'n art. 150-ingryping weer probeer om onderhandelinge tussen Untu en Transnet te laat hervat, maar dit het skynbaar nie veel vordering getoon nie.
Volgens Untu hervat die onderhandelinge wel Woensdag en Donderdag. Untu meen in 'n verklaring hy bly vol vertroue dat die voorstelle oor loonverhogings wat hy aan die Transnet-bestuur voorgelê het, sy lede se beste belange op die hart dra.
As die vergaderings van Woensdag en Donderdag geen positiewe resultate oplewer nie, sal Untu aan Transnet 'n kennisgewing uitreik dat hy oor 48 uur met 'n staking sal begin, dreig Untu in die verklaring.
Untu verteenwoordig ook werkers by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), waar hy ook tans in loononderhandelinge gewikkel is. Op Untu se Facebookblad het kommentators wisselende menings oor die meerderheidsbesluit oor 'n staking gehad, met talle wat dit verwelkom, maar een wat sê hoop die staking vind op sy afdae plaas, want hy kan nie bekostig om R2 te verloor nie.
Daar geld gewoonlik 'n geen-werk-geen-betaling-beginsel tydens stakings.
Nog 'n kommentator het geskryf die stakings by Transnet was in die verlede nie juis die moeite werd nie. Nog een het beweer niemand het nog enige Untu-vergaderings by sy depot gehou om menings oor 'n staking te toets nie.
- francois.williams@24.com





















