Maatskappye

Simba brul harder as Coca-Cola

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Simba brul steeds as Suid-Afrika se gewildste handelsnaam vir vinnig bewegende verbruikersgoedere. Foto: Facebook/Simba Chips
Simba brul steeds as Suid-Afrika se gewildste handelsnaam vir vinnig bewegende verbruikersgoedere. Foto: Facebook/Simba Chips

Suid-Afrikaners gaan nie binnekort die sensasie van 'n krakerige Simba-skyfie in hul mond prysgee nie.

Dié juweel in PepsiCo Suid-Afrika se kroon is luidens die datamaatskappy Numerator se Brand Footprint-ranglys weer as die land se gewildste handelsnaam vir vinnig bewegende verbruikersgoedere (FMCG) aangewys.

FMCG verwys tipies na kos, drinkgoed, tabakprodukte en basiese toiletware.

Verskeie van die land se ikoniese handelsname bly diep in verbruikers se hart, met Coca-Cola, Sunlight en Sasko wat almal hul plek in die topvier van Brand Footprint se ranglys behou.

Stof Coca-Cola uit

Simba se slaankrag as handelsnaam word veral weerspieël deur die feit dat die meerderheid van die 65 markte wêreldwyd wat Brand Footprint peil Coca-Cola as hul gunstelinghandelsnaam beskou.

"Ondanks voortgesette ekonomiese druk bly handelsname in Suid-Afrika baie sterk. Hulle handhaaf hegte verhoudings met verbruikers deur vertroudheid en beskikbaarheid te prioritiseer," lui 'n verklaring.

Dit is inderdaad 'n pluimpie, want weens die druk op verbruikers se besteebare inkomste wêreldwyd raak dit moeiliker vir verskeie gevestigde handelsname om hul markaandeel te behou.

Dit is omdat private-etiket-handelsname die laaste paar jaar aansienlik gewilder geword het, omdat daardie produkte in die meerderheid gevalle goedkoper is en verbruikersvoorkeure deesdae waarde vir geld hoër ag as lojaliteit aan 'n gevestigde, "tradisionele" handelsnaam.

Brand Footprint se data weerspieël daardie werklikheid.

Harde werk

Net meer as die helfte van FMCG-handelsname, sowat 50,2% wêreldwyd, is in 2024 meer kere deur verbruikers verkies as die vorige jaar.

"Dit raak moeiliker vir gevestigde FMCG-handelsname om 'n plekkie in verbruikers se spens of yskas te vind.

"Faktore soos inflasie en geopolitieke spanning wat verdere druk op prysvlakke uitoefen, het verbruikersvoorkeure heeltemal verander," sê Nick Barret, Numerator se Suid-Afrikaanse hoof.

"Suid-Afrika se FMCG-mark, wat 'n markwaarde van R397 miljard het, verkeer veral onder druk omdat plaaslike verbruikers se vermindere besteding lei tot afnames in daardie handelsname se volumes en inkomste.

"Daar is aanduidings dat die mark meer bestendig raak, maar gevestigde handelsname sal steeds harder moet werk om relevant te bly en steeds verbruikers se vertroue te behou in 'n sakeomgewing waar mense meer bewus van waarde eerder as lojaliteit is."

- heinz.schenk@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM