Maatskappye

Transnet nooi nog private spelers na Durban-hawe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Uitsig op Maydon Wharf, ’n deel van die Durbanse hawe wat vir algemene vrag, maar veral landbouprodukte, gebruik word. Transnet wil ’n deel daarvan nou aan private operateurs gee om te bestuur. Foto: Transnet
’n Uitsig op Maydon Wharf, ’n deel van die Durbanse hawe wat vir algemene vrag, maar veral landbouprodukte, gebruik word. Transnet wil ’n deel daarvan nou aan private operateurs gee om te bestuur. Foto: Transnet

Transnet nooi private hawe-operateurs om 'n deel van sy Maydon Wharf-vrageindpunt in die Durbanse hawe op te knap en as 'n veeldoelvrageindpunt te bedryf.

Maydon Wharf strek oor 145 hektaar en het 15 vasmeerplekke, met die kapasiteit om jaarliks meer as 7 miljoen ton se vrag te hanteer.

Dit is grootliks 'n vrageindpunt vir landbouprodukte en ander grootmaatvrag, en Transnet het 'n versoek om voorstelle uitgereik om operateurs te vind wat die eindpunt kan verbeter en vir 'n konsessietydperk van 25 jaar te bedryf.

Maydon Wharf is 'n belangrike vragpunt vir onder meer graan en graanprodukte, suiker, rys, kunsmis, papierprodukte, staal, plantolies en houtskyfies. Dit is tans 'n algemene veeldoel-hawegebied met heelwat pakstore en logistieke bedrywe. Dit het wel ook 'n beperkte kapasiteit vir houervrag, volgens Transnet se tenderdokumente.

Die deel wat Transnet vir die tender uitreik, bestaan uit twee persele wat in totaal 25 125 m² beslaan.

Hofgeding

Dit kom terwyl Transnet nog deur 'n hofgeding opgehou word om sy belangrike Pier 2-houereindpunt deur 'n private operateur te laat bedryf.

Transnet het in 2024 die tender vir Pier 2 toegeken aan die Filippynse hawebestuursfirma ICTSI.

Maar die mededinger Maersk het hof toe gegaan om die toekenning van die tender te laat kanselleer.

Die hofsaak kom vandeesweek Woensdag weer voor in die hooggeregshof in Durban.

ICTSI beveg sy saak verwoed in die media deur elke nou en dan mediaverklarings uit te reik. In die jongste een voer Hans-Ole Madsen, streekhoof van ICTSI, aan dat die firma 'n sterk en betroubare vennoot van Transnet sal wees, ondanks die "vals bewerings" van Maersk.

Maersk protesteer

Maersk voer aan ICTSI moes gediskwalifiseer gewees het om te bie vir die tender om Pier 2 te bestuur. Maersk, 'n Deense groep, voer aan ICTSI verdien nie om die bod te gewen het nie omdat hy sy solvensieverhouding volgens Maersk verkeerd bereken het.

Maar Madsen meen Maersk staar hom blind teen 'n tegniese punt. Volgens hom het Transnet se tenderspesifikasies nie uitdruklik gedefinieer hoe die solvensieverhouding bereken moet word nie. ICTSI het volgens hom ten volle openbaar gemaak hoe hy sy solvensie bereken het, gegrond op sy markkapitalisasie. Volgens Madsen is die manier waarop ICTSI dit bereken het 'n aanvaarde manier, want Transnet se ouditeure het dit ook aanvaar tydens die bodproses.

Konsultantfirma gee groen lig

Volgens Madsen het Transnet voor sy aankondiging van ICTSI as voorkeurbieër die konsultantfirma GrowthStone gevra om die maatskappy se finansiële posisie te beoordeel.

Madsen sê ICTSI sluit GrowthStone se bevindings in sy hofstukke in. Hy haal aan uit GrowthStone se bevindings dat ICTSI in 'n baie sterk posisie is om waarde tot die projekte te voeg en dat hy danksy sy sterk balansstaat enige internasionale en plaaslike markwisselvallighede sal kan deurstaan.

Madsen noem dat ICTSI in die boekjaar tot einde Desember sy netto inkomste met 66% tot $849,8 miljoen laat groei het. ICTSI bedryf vrageindpunte by 32 hawens in 19 lande, van China, Brasilië, Australië en Indonesië tot Madagaskar en die Demokratiese Republiek die Kongo.

-francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM