Transnet het sy loonaanbod aan vakbonde effens verbeter.
Transnet bied nou 'n verhoging van verbruikersprysinflasie plus 1 persentasiepunt in die eerste jaar, gevolg deur twee jaar van 'n verhoging teen inflasie plus 'n halwe persentasiepunt.
Dit blyk Transnet reken op 'n inflasiekoers van 3,5% in sy aanbod, en bied gevolglik 'n verhoging van 4,5% in die eerste jaar gevolg deur twee jare van 5% elk.
Dit is 'n oplopende verhoging van 14,5% oor die drie jaar, teenoor die vakbond Satawu se eis van 17,5% oor die drie jaar.
Die vakbond Untu eis egter slegs 'n eenjarige ooreenkoms met 'n verhoging van 12%, want hy meen die huidige lewenskoste tesame met Eskom se tariefverhoging van 12,7% en 'n verwagte BTW-verhoging vereis dit.
Transnet het Woensdagaand in 'n verklaring ná die tweede dag van onderhandelings met die vakbonde die hersiende aanbod bekend gemaak.
Satawu ‘wil staking vermy'
Satawu het in reaksie gesê hy neem kennis van die hersiende aanbod, maar hoop daar kom Donderdag 'n betekenisvolle aanbod van Transnet op die tafel om 'n moontlike staking deur werkers te vermy.
Met die vorige loononderhandelings in 2022 het 'n dooiepunt uitgeloop op 'n staking van 12 dae, wat vernietigend was vir die ekonomie, met myne en landbou-uitvoerders wat miljoene rande se uitvoerinkomste verbeur het.
Volgens Satawu is Transnet se bestuur bereid om te werk aan die vakbond se eis dat daar geen afleggings oor die drie jaar moet wees nie.
Satawu het egter Untu se kritiek op sy eise as onvolwasse, onverantwoordelik en onprofessioneel beskryf.
Volgens Transnet ag hy sy aanbod redelik en billik in ag genome die huidige finansiële en bedryfsuitdagings van die maatskappy. Die staatsvervoergroep glo die aanbod neem ook lewenskoste, die welstand van werknemers, werksekerheid en die langtermyn-volhoubaarheid van die maatskappy in ag.
Driejarige ooreenkoms gesteun
Transnet steun soos Satawu 'n driejarige ooreenkoms omdat dit 'n meer stabiele en voorspelbare omgewing vir alle partye voorsien.
Die staat het ook onlangs 'n driejarige loonooreenkoms met staatsdienswerkers beklink, teen 'n verhoging van 5,5% in die eerste jaar en inflasieverwante verhogings in die daaropvolgende jare.
Die huidige loonooreenkoms verstryk einde vandeesmaand.
Transnet sê hy is verbind tot konstruktiewe en oop kommunikasie, en om die loononderhandelings spoedig en minlik af te handel.
Transnet wil die onderhandelings gou afhandel sodat hy hom kan toespits op onmiddellike strategiese prioriteite om sy spoorweë en hawens weer op dreef te kry. Transnet Freight Rail is op koers om binnekort tenders uit te reik vir private spooroperateurs om spoordienste op sy netwerk aan te bied.
- francois.williams@24.com





















