Maatskappye

Van 500 m² tot ’n sakeryk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Brian en Mike Coppin, medestigters van die Food Lover's Market-groep (FLM), is Donderdagaand aangewys as Die Burger, Netwerk24, Kaapstad Sakekamer en die Afrikaanse Handelsinstituut se Sakeleiers van die Jaar. Willem Jordaan het met dié broers gesels.

Brian Coppin (links), sê dit is steeds pret om Food Lover's Market en al sy filiale saam met sy broer, Mike, te bestuur. Saam het hulle een winkel van 500 m2oor 31 jaar uitgebou tot 100 FLM-winkels en meer as 685 filiale oor die hele land waar hulle meer as 17 000 mense werk gee. Foto: Jaco Marais
Brian Coppin (links), sê dit is steeds pret om Food Lover's Market en al sy filiale saam met sy broer, Mike, te bestuur. Saam het hulle een winkel van 500 m2oor 31 jaar uitgebou tot 100 FLM-winkels en meer as 685 filiale oor die hele land waar hulle meer as 17 000 mense werk gee. Foto: Jaco Marais

Drie dekades gelede, in 1993, was 'n Sakeleierstoekenning die laaste ding waaraan die broers Brian en Mike Coppin gedink het toe hulle pas die eerste Fruit & Veg City in Access Park, Kenilworth, oopgemaak het. Veel groter dinge sou uit dié klein 500 m² vloei.

Ons ontmoet by die FLM-hoofkantoor in Brackenfell. Daar is min korporatiewe sedigheid te sien. Die mense is opgewek en vriendelik en die atmosfeer herinner 'n bietjie aan die kleur en vrolikheid wat jy by die ou stedelike groentemarkte sou kry.

"Ons het 31 jaar gelede nie eens daarvan gedroom om so 'n groot handelsmerk te bou nie," vertel Brian. "Ons was net twee laaities wat probeer het om 'n vrugte-en- groentebesigheid te begin waarvan kliënte sou hou.

"Ons het die ou Carrot King gekoop en in vier dae oorgedoen, met familie en vriende en die kindertjies wat almal gehelp het.

"Al die groot kleinhandelaars het in daardie stadium die munisipale markte verlaat, wat 'n massiewe geleentheid vir ons geskep het om óf na die mark te gaan óf direk na die boere se hek, kontant te betaal en die produkte vinniger, varser en met baie beter waarde by die klant te kry."

Die mark het daarvan gehou.

Op die jong ouderdom van 14 en 15 het Brian en Mike hul loopbaan in die kleinhandel as kassiere by OK Bazaars in Malvern, Johannesburg, begin. Teen die tyd dat hulle uit die skool is, het hulle die winkel bestuur. Ná hoërskool in Germiston het hulle as opleidingsbestuurders by OK Bazaars ingeval. Hulle het die kursus voltooi deur in elke afdeling van die winkel te werk en is onderskeidelik op die ouderdom van 21 en 22 as bestuurders aangestel.

'n Jaar of wat later het Brian en Mike uit hul posisies as OK Bazaars-takbestuurders bedank.

"Dit was die somer van 1983. Mike het my gebel en gesê ons werk darem nou baie hard vir iemand anders. Moet ons nie op ons eie gaan nie? Mike was getroud en het pas huis gekoop. Ek was nie, en dit het my nie lank geneem om ja te sê nie."

Die twee het toe 'n Spar begin - " 'n glorified kafeetjie van 250 m²", in Mike se woorde.

"Ons het meer durf gehad as goeie oordeel. Ons het vir twee jaar ons doodgewerk en al die groot ouens probeer aanvat - OK Bazaars, Grand Bazaars in daardie dae, Pick n Pay Hypermarket, Spar. Maar dit het ons omtrent 18 maande geneem om te besef as ons vir die boekhouer gaan wag om vir ons te sê dinge gaan nie so goed nie, sou hy in dieselfde tou as die krediteure voor ons deur gestaan het."

Hulle het al die boere geken, die munisipale markte soos die palms van hul hande, en het verspreiding verstaan.

Die twee het met groente- en vrugteverpakking vir OK Bazaars begin en hul uitsluitlike verskaffer van groente en vrugte geword - met OK Bazaars as enigste kliënt. Die besigheid se naam was Fresh Pack. Só heet die FLM-verspreidingsentrums steeds. En dis hier waar die Fruit & Veg City- plan ontstaan het, want die twee het gehunker na groter beweegruimte, maar wou binne die kleinhandel bly.

"Dit was in ons bloed," spring Mike in met verwysing na pa Aubrey (nou 92) wat vir 40 jaar direkteur van OK Bazaars was.

Hulle het al die boere geken, die munisipale markte soos die palms van hul hande, en het verspreiding verstaan. Fruit & Veg City in Kenilworth was die logiese stap en sukses was onmiddellik, met drie nuwe takke wat binne 18 maande gevolg het.

Hul sakemodel het gefokus op "the best in fresh": om vinniger, varser en goedkoper as enige ander kleinhandelaar produkte by die kliënt te kry. Die gevolg was dat Fruit & Veg City produkte teen 20% tot 25% onder supermarkpryse kon verkoop.

"Einde ten laaste het ons die model reggekry en ons het verstaan wat ons moet doen," verduidelik Brian. Nóg winkels het gevolg en Fruit & Veg City het 'n franchise geword.

"Agt of nege jaar later was ons nie meer die nuwe laaities op die straathoek nie en ons het 40 of 50 winkels gehad."

Teen daardie tyd het hulle met dieselfde uitdagings as die groot supermarkte te kampe gehad. Hulle het reeds belê in koelkamers, kouekettingaflewering, plantprogramme en alles wat daarmee saam kom - kontinuïteit om seker te maak hulle het produkte op die rak, groot pakhuise. Dus moes hulle dit ook doen, want die varsprodukte by supermarkte het al hoe beter geword.

"Pick n Pay het in daardie dae goed geraak met varsprodukte. En ons het geweet as ons die beste vars bestemming in Suid-Afrika wou wees, ons 'n bietjie meer by die mandjie moes voeg.

Al het die strategie verander, was die mikpunt steeds om die 'best in fresh'-bestemming te bly.

"Ons het baie hard probeer om net 'n vrugte-en-groentebedryf te bly, maar ons móés meer word as dit. Toe het ons begin om bakkerye by te voeg. 'n Slagter hier en daar. Ons het neute in gravitasie-houers gehad.

"Ons het melk- en sap-krane gehad waar jy jou houers kon volmaak. Maar alles nog sekondêr.

"En toe het ons besluit: Oukei, kom ons sit 'n groep bymekaar."

Al het die strategie verander, was die mikpunt steeds om die "best in fresh"-bestemming te bly.

"Ons het geweet dat ons goed was in vrugte en groente, maar ons moes toe net so goed wees in vleis, vis, die deli, die bakkery en met warm kosse.

"Ek het 'n paar mense geneem en regoor die wêreld gegaan.

"Ons het by Selfridges en Harrods begin. En ons het na die beste markte gegaan. Ons het na ons vriende by Waitrose in Londen en na 'n groep genaamd KaDeWe in Berlyn gegaan. In die Verenigde State het ons 'n paar wonderlike vars kleinhandelaars soos Stew Leonard's, Wegmans en Whole Foods gesien wat in daardie dae briljant was.

"Mike was besig met die eerste winkel in Hillfox in Johannesburg. Ek het hom uit Texas gebel en gesê: ‘Hoeveel spasie het jy?' En hy het gesê, kyk, ek kan 1 800 vierkante meter kry.' Ek het gesê, nee, kry meer. So hy het gesê, oukei, ek het 2 000. Ek het gesê, kry meer. So uiteindelik het ons 3 600 vierkante meter gekry. En ons het teruggekom en ons het 3 600 vierkante meter vol varsprodukte gehad. Maar niemand het gedink, selfs in ons eie besigheid, ons kan die buitelandse voorbeelde nadoen nie. Ek het gesê: gee ons net 'n kans - probéér.

"En toe het ons hierdie Food Lover's Market oopgemaak en dit was on-ge-looflik. Gou het ons besef dís die toekoms"

Stelselmatig is die netwerk van Fruit & Veg City's omskep in Food Lover's Markets.

"Ek moes Mike oortuig. Dit is nie 'n maklike besluit om weg te beweeg van 'n sterk handelsmerk soos Fruit & Veg City nie. Baie mense praat nog steeds van Fruit & Veg City. Die ander dag hoor ek 'n ou op radio sê hy't sy vars vis by Fruit & Veg City gekoop."

Die volgende logiese stap was om die uitvoermark te betree met FVC International. Daarna het FreshStop, Seattle Coffee Company en Market Liquors gevolg.

FVC International (2004)

Omdat Food Lover's Market die grootste kopers van vrugte en groente in die land was, kon hulle hierdie hefboom gebruik om na boere te gaan en oeste op te koop.

"Ons kon al die sitrus, al die appels opkoop, die plaaslike gehalte na die plaaslike mark neem of sap maak," verduidelik Brian.

"Maar die beste kon ons ook vir jou uitvoer. So ons het 'n baie goeie uitvoerbesigheid. FVC International voer sitrus en druiwe wêreldwyd uit en is baie gewild by die boere. Dit gee ons 'n baie sterk hefboom in die varsprodukte-bedryf."

FreshStop (2009)

Chevron SA, toe die eienaar van 870 Caltex-vulstasies, het FLM gevra om 'n nuwe geriefswinkelkonsep vir sy vulstasie-netwerk te ontwikkel, en die FreshStop-konsep was die gevolg. Naas die gebruiklike produkte by vulstasie-geriefswinkels is gesonde kos en varsprodukte ook gebied.

Wat FreshStop van sy mededingers onderskei het, was die feit dat hulle die verspreidings- en koopkrag van FLM kon gebruik om varsprodukte teen redelike pryse aan te bied.

"Ek is seker ons het een winkel elke 10 dae bekendgestel en daar is nou 340," sê Brian. "Chevron het Suid-Afrika sedertdien verlaat en nou is ons baie trots om Astron se alliansievennoot te wees."

Seattle Coffee Co. (2015)

Die Amerikaners Alley en Scott Svenson het Seattle Coffee Company in Londen begin, geïnspireer deur spesialiteitskoffieplekke in hul tuisdorp, Seattle. Pete Howie en Barry Parker het dit in 1997 na SA gebring. Die eerste winkel was in Cavendish Square.

"Hulle het omtrent vier of vyf winkels gehad," onthou Brian.

"Toe sê ek, oukei, kom ons sit Seattle in ons FreshStops. Ons het hulle genader om 'n aandeel te verkry, maar die eienaarstruktuur was ingewikkeld. Vir 'n rukkie het ons vir Starbucks gemik en ons was so naby om dit te kry. En, dankie tog, by die laaste hekkie het Starbucks besluit om met Taste Holdings te gaan.

"Ons is terug na Barry en Pete en het gesê, kyk, nou moet ons dit doen. Eers het ons 50% gekoop, toe nog 25% en nog 12%. So nou besit ons 87% van Seattle en daar is 300 van hulle. Barry en Pete bestuur dit steeds en dit is 'n wonderlike vennootskap."

Market Diamond Liquors (2023)

Om die eenstop-winkelmandjie uit te brei, het Food Lover's Market 'n klein drankwinkel nodig gehad. Diamond Discount Liquors was in die mark.

"Hulle wou 'n gesamentlike onderneming met 'n kleinhandelaar hê omdat verhuurders al die spasie aan kleinhandelaars gegee het.

"En so het ons eers 50% van Diamond van Rand Merchant Bank gekoop (2012) en toe die ander 50% (2023). Nou het ons 34 Market Diamond Liquors langs ons. Daar is 'n pragtige trajek en baie potensiaal vorentoe."

VetsMart (2024)

Vanjaar het FLM 'n vennootskap met die troeteldierwinkelgroep VetsMart aangekondig. FLM is nou die meerderheidsaandeelhouer, maar die stigter, die veearts dr. Sean Smith, behou 'n belang.

FLM vandag

Vandag, 31 jaar later, is daardie oorspronklike 500 m² in Access Park uitgebou tot 100 Food Lover's Market-winkels in Afrika suid van die Sahara. Dit sluit in: ses Food Lover's Eatery-winkels, 330 FreshStop-geriefswinkels, meer as 300 Seattle Coffee Co.-winkels, 32 Market Liquors-winkels, 10 verspreidingsentrums, twee vleisverpakkings- en twee roostergeriewe, en vyf produksiesentrums.

En daar is 17 000 mense in diens, van wie sommige van die begin af daar was en in groter bestuursrolle in gegroei het.

"Dit is FLM se storie," sluit Brian af. "En weet jy wat? Dit was en is werklik pret."

  • Willem Jordaan is redakteur van Die Burger.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM