Die miljardêr Warren Buffett (94), 'n kultusfiguur danksy sy beleggingsukses en kwinkslae, gaan einde vanjaar ná ses dekades aan die stuur van Berkshire Hathaway aftree.
Buffett het dié konglomeraat opgebou tot een wat meer as $1 160 miljard werd is.
Greg Abel, visevoorsitter vir beleggings uitgesonder versekering, gaan die leisels as voorsitter en uitvoerende hoof oorneem. Abel (62) is reeds jare aan Buffett se sy en is alom as sy opvolger beskou.
Buffett het die aankondiging Saterdag gedoen op die maatskappy se jaarlikse aandeelhouersvergadering in Omaha, Nebraska.
Die aankondiging is nie verwag nie - Buffett het dit reg aan die einde van die verrigtinge gedoen.
"Dis die nuushoek van die dag. Dankie dat julle gekom het," het Buffett gesê.
Buffett het Berkshire van 'n sukkelende tekstielonderneming aggressief uitgebou saam met Charlie Munger, wat in 2023 op 99 jaar oorlede is.
Die verskeidenheid ondernemings waarin Berkshire belê is, is 'n spieëlbeeld van die Amerikaanse ekonomie as geheel, reken Buffett; 'n "weddenskap op Berkshire is 'n weddenskap op Amerika".
Baie ander uitvoerende hoofde en selfs presidente het oor die jare sy raad gevra en tienduisende mense kom jaarliks in Omaha byeen vir die jaarvergadering. Die geleentheid se bynaam is die "Woodstock vir Kapitaliste".
Berkshire se aandeelprys het van 1965 tot 2024 teen 'n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 20% gegroei, teenoor sowat 10% vir die Standard & Poor 500-indeks.
Buffett is 'n dissipel van Benjamin Graham, wie se beleggingsfilosofie gegrond was op die koop van aandele in ondergewaardeerde maatskappye.
Berkshire besit nou onder meer die spoorwegfirma BNSF, die motorversekeraar Geico, beleggings in energie en kleinhandelaars soos Dairy Queen en See's Candies. Berkshire besit ook aandele in onder meer Apple en American Express.
Berkshire het op die oomblik $347,7 miljard kontant omdat die maatskappy nie geleenthede vir goeie beleggings vind nie.
Buffett het ook al foute begaan. Hy het toegegee hy het te veel betaal vir Precision Castparts, 'n vervaardiger van lugvaarttoerusting. Berkshire moes waardevermindering van $10 miljard in 2020 hieroor doen.
Buffett en Munger was ook baie huiwerig om in tegnologie-aandele te belê, totdat hulle in Apple begin belê het. - Bloomberg, verkort





















