Anglo American het 'n internasionale moratorium op die vul van vakante poste geplaas, het Reuters Donderdag berig.
Dit volg op die myngroep se plan wat Dinsdag onthul is om op koper en ystererts te fokus terwyl hy ontslae wil raak van minder winsgewende bedrywighede soos steenkool, nikkel, diamante en platinum.
Die herskikking kom te midde van die oornamepoging van sy Australiese mededinger BHP.
Die moratorium op die aanstelling van nuwe werknemers is volgens 'n woordvoerder van Anglo American 'n toepaslike maatreël gegewe die strategiese hersiening en al die veranderings wat die groep aan sy portefeulje wil maak.
Daar sal wel uitsonderings wees vir kritieke poste, het die woordvoerder aan Reuters gesê.
Dit volg op Reuters se vroeëre berig oor die moratorium op die vul van poste nadat hy toegang verkry het tot 'n interne memorandum van Anglo.
Anglo, wat op die Londense beurs asook die JSE genoteer is, het reeds twee oorname-voorstelle van BHP van die hand gewys en aangevoer die voorstelle is 'n aansienlike onderwaardering.
LEES OOK | Anglo wil van Amplats en De Beers ontslae raak
Monique Carter, direkteur vir mense en organisasie by Anglo, het luidens die memorandum aan personeel gesê die moratorium op die werwing van alle nie-perseelgebaseerde permanente werknemers en kontrakteurs oor al die groep se ondernemings- en groepfunksies heen is toepaslik ná die aankondiging oor die vereenvoudiging van die portefeulje.
Die verwysing na nie-perseelgebaseerde werknemers dui op mense wat nie by myne werk nie.
Volgens Carter sal geskrewe werkaanbiedings wat reeds aan 'n kandidaat gestuur is, wel nog eerbiedig word, maar geen nuwe aanbiedings sal gemaak word nie.
Anglo gee wêreldwyd werk aan sowat 60 000 mense, van wie net meer as die helfte in Suid-Afrika is.
BHP het nog tot volgende Woensdag tyd om 'n formele aanbod aan Anglo te maak ingevolge die reëls van die Londense aandelebeurs.
'n Ontleder van Royal Bank of Canada sê daar is "sekerlik druk op Anglo se bestuur om hulself te bewys". Die bestuur sal 'n streng perk op koste wou plaas namate die herskikkingsproses ontvou.
Anglo se plan om van sy Australiese bedrywighede vir metallurgiese steenkool ontslae te raak, kan die mededinger Rio Tinto lok, wat in 2018 sy steenkoolbedrywighede verkoop het. "Die bestuur van Anglo koop vir hulself ses tot nege maande tot 'n jaar, en dan kan jy tot drie belangstellende partye by die tafel hê," sê die ontleder. - Reuters













