Die uitwerking van beurtkrag, die logistieke probleme by Transnet en wisselvallige pryse is te sien in die skerp daling van 9% in mynbouproduksie in November.
Dit kan 'n sekere teken wees dat die mynbou-meevaller waarop die nasionale tesourie gesteun het vir ekstra staatsinkomste, straks iets van die verlede is.
Die tesourie het al in Oktober se mediumtermynbegrotingsraamwerk gewaarsku dat die beter as verwagte belastinginkomste vanweë mynboumaatskappye se goeie winste nie vir lank volgehou sal kan word nie.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers oor mynbouproduksie in November is Dinsdag bekend gemaak, en wys dat mynbouproduksie 9% laer is as 'n jaar gelede.
Die grootste bydraers tot die laer produksie is die platinumgroepmetale waar produksie met 22% getuimel het, ystererts wat 19,4% laer is en diamantproduksie wat met 21,5% geval het teenoor 'n jaar gelede.
Mynbouproduksie in November was 0,4% laer as in Oktober.

In die drie maande tot einde November was mynbouproduksie 1,9% laer as in die drie maande tot einde Augustus. In die driemaandetydperk was ystererts die grootste bydraer tot laer produksie met 'n inkrimping van 9,3%, teenoor platinumgroepmetale met 3,8%. Goudproduksie het wel in die drie maande met 9,1% gegroei.
Wat verkope teen heersende pryse betref, het mynbouverkope in November met 15,2% gedaal teenoor 'n jaar gelede, en met 10,4% teenoor Oktober.
Die grootste bydraers tot die laer verkope was die platinumgroepmetale waarvan verkope met 23,7% gedaal het, goudverkope wat 54,9% laer was en ystererts wat 40,2% laer was.
Die tesourie het in Oktober geraam die meevaller in belastinginkomste danksy hoë kommoditeitspryse sal oor die volgende twee jaar wegkwyn.
Met die Buro vir Ekonomiese Ondersoek van die Universiteit Stellenbosch wat die groeiende beurtkrag as die grootste huidige risiko vir die Suid-Afrikaanse ekonomie bestempel, verwag die mynboubedryf dat produksie verder geknou kan word, veral ook met die verhoging in kragtariewe.
Henk Langenhoven, hoofekonoom van die Minerale Raad van Suid-Afrika, skat dat mynbouproduksie vir die hele 2022 waarskynlik 6% laer sal wees as in 2021.
Duurder krag kan die bedryf se kragkoste teen 2024 met R13,5 miljard of 33,7% laat styg, het hy gewaarsku ná die onlangse aankondiging van die Nasionale Energiereguleerder oor 'n tariefverhoging van 18,65% aan Eskom vanjaar en 12,74% volgende jaar.
Intussen is mynboumaatskappye blootgestel aan Transnet se probleme met vandalisme en kabeldiefstal aangedryf deur georganiseerde misdaadsindikate. Dit knou hul toegang tot uitvoermarkte en verhoog vervoerkoste omdat hulle dan duurder alternatiewe soos padvervoer moet inspan.





















