Mynbou

Chroom-wasserye maak hul lewe hel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Talle grondeienaars in die Rustenburg- en Brits-omgewing voer 'n stryd teen aansoeke om nuwe myn- en mynverwante bedrywighede, berig Riana de Lange.

Dirk Kotzé van die Brits-omgewing by afval van 'n chroom-wassery in die omgewing wat volgens hom die serwituutpad na sy grond toeval. Foto's: Elizabeth Sejake
Dirk Kotzé van die Brits-omgewing by afval van 'n chroom-wassery in die omgewing wat volgens hom die serwituutpad na sy grond toeval. Foto's: Elizabeth Sejake

Bernard Opperman het twee jaar gelede grond in Rietfontein naby Rustenburg gekoop vir 'n rustige aftrede, maar 'n chroom-wassery wat drie maande later op sy voorstoep opgerig is, kortwiek sy rusplanne.

Meer as tien vragmotors kom weekliks chroom aflaai, hy verduur stof en geraas en volgens hom bemors afvalmateriaal van die chroom-wassery die omgewing.

Hy is bekommerd dat sy boorgatwater besoedel kan word.

Die verhouding tussen Opperman en werkers by die chroom-wassery waar sy plaaspad verbyry, is stram en hy het al meermale by die owerhede gekla.

Daar was aanvanklik geen toiletgeriewe vir die werkers nie, hulle het deur 'n heining op sy serwituut-pad gebreek en afvalmateriaal het op sy grond beland toe 'n damwal gebreek het. Opperman het ook 'n saak by die polisie ingedien.

Volgens hom behoort die grond aan 'n Chinese sakeman, maar sy prokureur kon niks vind onder die naam van die maatskappy waaronder hulle sake doen nie.

In die Brits-omgewing veg Dirk Kotzé al jare om sy vleiland te laat skoonmaak wat glo besoedel is toe 'n damwal by 'n aangrensende myn gebreek het.

Dit sou R12,5 miljoen kos om behoorlik skoon te maak volgens 'n professionele kwotasie wat hy in 2017 gekry het. Sedertdien is hy in 'n stryd gewikkel met verskeie staatsdepartemente oor wie verantwoordelikheid vir die gemors moet aanvaar.

Intussen is 'n chroom-wassery langs sy grond opgerig. Hy beweer die operateurs stoot afval tot in die serwituut-pad waardeur hy toegang na 'n deel van sy grond kry.

Opperman sê die chroom-wassery langs sy grond is een van drie vermoedelik onwettiges wat onlangs naby hom opgeskiet het. Dit tesame met twee wettige was-aanlegte.

Marietjie van Rooyen en haar broer, Bernard Opperman, vertel van hul kommer oor onwettige myn- en mynverwante bedrywighede.
Marietjie van Rooyen en haar broer, Bernard Opperman, vertel van hul kommer oor onwettige myn- en mynverwante bedrywighede.

Hy is een van talle bekommerde grondeienaars in die Rustenburg-Brits-omgewing wat 'n stryd voer teen aansoeke om nuwe myn- en prospekteer-lisensies en mynverwante bedrywighede.

Marietjie van Rooyen, wat al sedert 1977 in die Spruitfontein-omgewing boer, sê die landelike hoewe-gemeenskap het veral die afgelope vyf jaar baie verander weens mynverwante bedrywighede.

Dit verg moeite om al die aansoekdokumente te lees, kommentaar te lewer en besware deur amptelike regeringskanale in te dien - net om te sien hoe nog prospekteerders opdaag, chroom-wasserye open en sommige oor private grond paaie maak.

Van Rooyen sê baie inwoners het al onderonsies met van die onwettige myners of wassery-werkers gehad.

Met Rapport se besoek aan 'n plaas naby so 'n chroom-wassery het veiligheidswagte dreigend nader gestap, hul toesighouers gaan roep en video's van Rapport se span geneem waar die eienaar van die aangrensende plaas ons rondgewys het.

Van Rooyen het WhatsApp-groepe vir inwoners en belangegroepe begin sodat inligting sentraal ingesamel kan word. Dit is egter moeilik om te weet wanneer dit 'n saak is vir die departement van minerale bronne, vir water en sanitasie, die provinsiale omgewingsdepartement of die betrokke munisipaliteit.

'n Metallurgiese ingenieur het aan Rapport verduidelik 'n chroom-wassery gebruik baie water (dit word wel gehersirkuleer) om die chroom-konsentraat uit die erts te trek, maar nie baie chemikalieë nie. Dis nie 'n moeilike of ingewikkelde proses nie, want die erts is nie baie hard nie.

Hy sê van die aanlegte kan tot 100 ha beslaan met slikdamme. Dié damme moet gelisensieer en gelyn word sodat die water nie in die grond insypel nie. Afvalmateriaal moet ook volgens voorwaardes bestuur word.

'n Chroom-wassery wat binne drie maande op Bernard Opperman se voorstoep in die Rietfontein-omgewing opgeskiet het.
'n Chroom-wassery wat binne drie maande op Bernard Opperman se voorstoep in die Rietfontein-omgewing opgeskiet het.

Inwoners vermoed baie van die wasserye se produkte kom van onwettige mynbedrywighede.

Die ingenieur sê 'n wasaanleg soos langs Opperman se grond kan tot 45 ton per uur hanteer. As die aanleg 12 uur per dag vir ses dae in bedryf is, kan dit maklik 10 000 ton konsentraat per maand lewer en die eienaar R4,5 miljoen per maand in die sak bring.

Minus lone, die koste van krag of diesel en 'n afbetaling van die toerusting, praat mens van wins van R1 miljoen tot R1,5 miljoen per maand.

Die aanlegte is maklik tweedehands beskikbaar teen so R6 miljoen. Dit raak beskikbaar wanneer myne dit vir drie jaar gebruik en dan as skroot verkoop. Dis dikwels nog vir sowat tien maande bruikbaar.

Chroom is belangrik in die vervaardiging van vlekvrye staal en hoog in aanvraag. Die chroomprys is hoog en vuur daarmee onwettige chroombedrywighede aan.

Die Global Initiative Against Transnational Organised Crime (GI-TOC) sê in 'n onlangse verslag Suid-Afrika het meer as 70% van die wêreld se chroomreserwes. Onwettige chroom-mynbedrywighede kos die land sowat 10% van sy jaarlikse produksie.

Chroomneerslae is tipies naby die oppervlak en myn maklik. Die metallurgiese ingenieur sê kleinskaalse myners kan met 'n paar pikke maklik by chroom uitkom. "Die erts is sag en jy het nie plofstof nodig daarvoor nie."

Nie alles word wettig gemyn en wettig gewas nie, maar beland onderweg na hawens soos Maputo of Durban in die wettige verskaffingsketting. Dit word dan saam met die wettige produk uitgevoer, het Tommy Trenchard vir geographical.co.uk/science-environment geskryf.

Inligting van AmaranthCX, 'n mynbou-konsultantegroep, het getoon in 2020 was daar minstens 20 chroom-verwerkingsaanlegte in Suid-Afrika wat nie deel was van wettige mynboubedrywighede nie, lui GI-TOC se verslag.

Regulasies is in 2002 verander sodat permitte vir kleinskaalse bedrywighede toegestaan kan word sonder gedetailleerde omgewingsimpakstudies.

Bekommerde inwoners rondom Rustenburg sê baie van dié bedrywighede begin klein, maar beslaan later 'n hele paar hektaar.

Volgens die ingenieur registreer baie eienaars van 'n chroom-wassery 'n vervaardigingsaanleg, wat nie onder die departement van minerale bronne en energie val nie. So 'n aanleg is onderhewig aan die Wet op Beroepsveiligheid en -gesondheid en nie aan die Wet op Gesondheid en Veiligheid in Myne nie.

Nog 'n chroom-wassery wat binne weke in die Rustenburg-omgewing naby die R104 opgeskiet het.
Nog 'n chroom-wassery wat binne weke in die Rustenburg-omgewing naby die R104 opgeskiet het.

Belinda Cooper van die Magaliesberg-biosfeer sê enigeen is geregtig om aansoek te doen om mynboubedrywighede en -lisensies, maar dit sal help as die regering sou sif vir aktiwiteite wat nie geskik is vir 'n bepaalde area nie.

Bekommerde lede van die publiek kan net in die aansoekstadium beswaar aanteken. As die omgewingsimpakstudie eers voltooi is, raak dit al hoe moeiliker om insae te kry, of vir hersiening te vra.

Aanlegte moet gereeld verslae aan die owerhede stuur en inspekteurs kan daar uitslaan, maar die publiek het nie toegang tot die verslae nie.

Volgens Cooper moet inwoners data en konkrete bewyse (soos foto's, kwalitatiewe inligting van skade aan die omgewing of infrastruktuur, of watertoetse) gee, anders kan besware as "emosioneel" afgemaak word.

Elsa Lourens, VF Plus-raadslid vir die distriksmunisipaliteit van Madibeng, sê beswaardes moet as belanghebbendes registreer en die betrokke vergaderings bywoon.

As daar vermoedens is dat 'n onderneming oortree, moet die regte erfnommer of grondgedeelte-nommer sowel as die onderneming se regte naam deurgegee word. Met dié inligting kan die munisipaliteit vasstel of die grond volgens die sonering gebruik word.

Indien dit gebruik word vir iets buite die sonering, kan die munisipaliteit 'n oortredingsbevel uitreik, maar dit kan twee tot drie jaar neem om so iets stop te sit, sê Lourens.

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM