Gideon du Plessis: ‘Beleggerstaking’ bedreig mynbou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wegbly- en boikotaksies is niks nuuts in Suid-Afrika nie en dit was veral die United Democratic Front (UDF) en die vakbondfederasie Cosatu wat in die 1980's dié veldtogte georganiseer het om 'n politieke standpunt oor te dra.

Cosatu sê drie munisipaliteite in die Vrystaat is nie in staat om dienste aan inwoners te lewer nie. Foto: Gallo Images
Cosatu sê drie munisipaliteite in die Vrystaat is nie in staat om dienste aan inwoners te lewer nie. Foto: Gallo Images

Ná 1994 het Cosatu werkergedrewe wegblyaksies voortgesit. So het Cosatu en die naasgrootste vakbondfederasie, Saftu, in Augustus 'n wegblyaksie ge­reël om teen hoë lewenskoste, korrupsie en werkloosheid te betoog.

Die algemeenste werkergedrewe wegblyaksie is uiteraard 'n loonstaking wat veral in die mynbousektor voorkom. Maar die mynbousektor word nou ook gekenmerk deur leiersgedrewe wegblyaksies soos by die jaarlikse Joburg Indaba-mynboukongres en die Myngesondheid-en-veiligheidsraad (MHSC) se beraad die geval was.

Eers het die Mineraleraad van Suid-Afrika in 2017 die Joburg Indaba geboikot om hul afkeer van die teenwoordigheid van Mosebenzi Zwane, die destydse minister van minerale bronne, te toon. Dít nadat Zwane onvanpaste opmerkings in Australië teenoor buitelandse beleggers gemaak het wat die mynbousektor ernstig geskaad het.

By die onlangse Joburg Indaba was dit Zwane se opvolger, Gwede Man­tashe, minister van minerale bronne en energie, wat as hoofspreker sou optree wat op die nippertjie onttrek het omdat hy dié dag eerder in Kaapstad met die onderskeie olieministers van Afrika wou deurbring. Bernard Swanepoel, fasiliteerder van die Indaba, was verontwaardig hieroor en hy het Mantashe se optrede as arrogant bestempel, en die minister daarvan beskuldig dat hy die mynbougedeelte van sy portefeulje afskeep deur eerder op oliebelange te fokus.

Mynbouhoofde en beleggers het veral terugvoering verwag oor beloftes wat Mantashe in Mei vanjaar by die Afrika-mynbou-indaba gemaak het rakende die inwerkingstelling van 'n elektroniese aansoek- en moniteringstelsel vir myn- en eksplorasielisensies.

Om sake te vererger het dit aan die lig gekom dat Mantashe op dieselfde dag van die olieministers se samekoms weggeglip het om R200-note aan kiesers in Lambertsbaai te gaan uitdeel in die aanloop tot 'n tussenverkiesing wat daar sou plaasvind.

Die wegblyaksies by die veiligheidsberaad is vererger toe mynhuise 'n wegbreeksessie oor werkers se reg om kragtens die Wet op Mynveiligheid uit 'n onveilige werkplek te onttrek, geboikot het.

Portia Derby, uitvoerende hoof van Transnet, het wel vir haar spreekbeurt by die Joburg Indaba opgedaag. Derby het in haar toespraak uitgevaar teenoor die Mineraleraad weens hul bewering dat Transnet se inploffing mynbou-uitvoer ernstig benadeel. Sy het selfs die groot steenkoolmynhuise gedreig. Haar tirade was so 'n verleentheid dat sy minder reputasieskade sou opgedoen het as sy liefs weggebly het.

Mantashe het gelukkig onlangs as hoofspreker by die MHSC se veiligheidsberaad opgedaag. Mantashe het ondanks sy Joburg Indaba-afwesigheid, skaamteloos na Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, en dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, gekap wat nie vir hul spreekbeurte by die beraad opgedaag het nie. Mantashe het tereg gevra hoe ministers met sleutelportefeuljes kan wegbly van 'n beraad oor werkers se gesondheid en veiligheid, terwyl myne veiliger en volhoubaarder moet word.

Ná sy toespraak het Mantashe aangedui dat hy moes vertrek en na Swanepoel gekap deur aan te dui dat hy nie as arrogant beskou moet word as hy ander werksverpligtinge nakom nie.

Ongelukkig het Joseph Mathunjwa, president van die grootste mynbouvakbond, Amcu, ook die wegbly-opsie verkies en nie 'n uitnodiging na die Indaba aanvaar nie en ook nie vir sy spreekbeurt by die veiligheidsberaad opgedaag nie.

Die wegblyaksies by die veiligheidsberaad is vererger toe mynhuise 'n wegbreeksessie oor werkers se reg om kragtens die Wet op Mynveiligheid uit 'n onveilige werkplek te onttrek, geboikot het. Werkgewers, wat soos Man­tashe by die Indaba 'n brandpunt wou vermy, se wegblyaksie het Nolitha Fakude, president van die Mineraleraad, genoodsaak om namens die mynhuise verskoning vir die verleentheid aan te bied.

Beleggers is tereg ongemaklik met die onstabiliteit wat nasionale wegblyaksies en mynstakings skep.

Die feit dat Suid-Afrika nou die 75ste plek uit 84 lande in die Fraser-instituut se ontleding oor beleggersaantreklikheid beklee, is bevestiging van 'n beleggerwegblyaksie.

Hierdie sogenaamde beleggerstaking is die wegblyaksie wat die grootste bedreiging vir mynbou inhou.

Beleggers is tereg ongemaklik met die onstabiliteit wat nasionale wegblyaksies en mynstakings skep, maar mynbouleiers, en veral politici, se eie onaanvaarbare wegbly­aksies wat op 'n gebrek aan leierskap dui, is bydraend tot die opdraande stryd om beleggersvertroue te skep en myne veiliger te maak.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

SPELETJIES VANDAG

CTA