Mynbou

Glencore behou sy steenkoolmyne

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Glencore gaan sy steenkoolbedrywighede behou en nie meer ontbondel soos hy voorheen beplan het nie, het hy Woensdag aangekondig. Foto: Glencore
Glencore gaan sy steenkoolbedrywighede behou en nie meer ontbondel soos hy voorheen beplan het nie, het hy Woensdag aangekondig. Foto: Glencore

Die mynboureus Glencore het sy planne laat vaar om ontslae te raak van sy steenkoolbates.

Dit is net nege maande nadat hy aangekondig het hy wil sy steenkoolafdeling verkoop.

Hoewel dit 'n winsgewende deel van sy bedrywighede is, hou dit 'n reputasie- en omgewingsrisiko in weens die impak van steenkool op kweekhuisgasvrystellings.

Nadat Glencore 'n wye groep aandeelhouers geraadpleeg het, het hy egter besluit hy behou die steenkoolafdeling wat grootliks gefokus is op die lewering van kookssteenkool, oftewel metallurgiese steenkool wat in staalvervaardiging gebruik word.

Die meeste aandeelhouers wou hê Glencore moet die steenkoolbelange behou omdat dit sterk winsgewend en kontantgenererend is. Dit is juis ook belangrik vir die vervaardiging van belangrike metale in die skuif na skoner energie en pas volgens hulle dus in by Glencore se oorhoofse klimaatplan.

Toe Glencore laat verlede jaar aangekondig het dat hy sy steenkoolbates wil ontbondel, is dit beskou as 'n waterskeidingsoomblik in die mynbedryf.

Dit is omdat Glencore beskou word as die grootste steenkoolvervaardiger op aarde en een van die voorste kampvegters vir volgehoue steenkoolontginning.

Dit was dus raar dat Glencore sou besluit om in die spore van ander mededingers te volg wat hul steenkoolbedrywighede afskaal.

Maar die ommeswaai, aangespoor deur aandeelhouers, wys op die moeilike posisie waarin fossielbrandstofvervaardigers hulle bevind. Vervaardigers van steenkool tot olie is onder druk om hul kweekhuisgasvrystellings te verlaag, maar dan beteken dit hulle loop al die meevallerwinste mis wat uit hoër energiepryse spruit.

Vir baie beleggers is Glencore aantreklik omdat hy groot winste uit steenkool genereer, maar ook metale soos koper ontgin, wat nodig is in die skuif na 'n laekoolstofekonomie.

Glencore het ná 'n maand van konsultasie met aandeelhouers besluit dit hou die minste risiko in om steeds sy steenkoolbelange te behou om waarde vir aandeelhouers te skep, het Kalidas Madhavpeddi, voorsitter van Glencore, Woensdag gesê.

Glencore se steenkoolbedrywighede is een van sy winsgewendste afdelings en het die laaste jare rekordwinste behaal. Dit het veral voordeel getrek uit die energiekrisis wat deur Rusland se inval in Oekraïne ontketen is. Daar was ook 'n gebrek aan nuwe produksie namate sy mededingers en banke hul rug na die steenkoolsektor gedraai het.

Hoewel Westerse lande probeer om minder steenkool te gebruik, is die wêreldwye vraag na steenkool op rekordvlakke.

Bloomberg-data wys die twee grootste aandeelhouers in Glencore is tans Ivan Glasenberg, sy vorige uitvoerende hoof, en Katar se welvaartfonds.

Glencore het Woensdag terselfdertyd 'n daling van 33% in verdienste vir die halfjaar tot einde Junie aangeteken. Dit het tot $6,34 miljard gedaal.

Steenkool was nog altyd 'n kerndeel van Glencore se sake. Hy het al herhaaldelik gesê hy sal hom aan die sektor onttrek as aandeelhouers druk sou uitoefen vir so 'n stap. Maar onder Glasenberg en Gary Nagle as sy opvolger het Glencore voortgegaan met steenkoolproduksie terwyl die meeste van sy groot mededingers hulle onttrek het.

Glencore se plan was eerder om met bestaande steenkoolontginning voort te gaan totdat die reserwes uitgeput is.

Dit het gelyk asof sy benadering verander het toe Glencore verlede jaar die maatskappy Teck Resources wou koop. Sy voorstel was dat hy die gekombineerde maatskappy in twee afsonderlike steenkool- en metaalvervaardigers sou verdeel.

Glencore het op die ou einde Teck se afdeling vir metallurgiese steenkool, Elk Valley Resources, in November gekoop.

Volgens Glencore is die aandeelhouers se redes vir die behoud van die steenkoolbates dat dit kontant kan genereer om ander geleenthede soos sy sogenaamde oorgangsmetaal-portefeulje soos sy koperbates te finansier.

As Glencore met sy plan voortgegaan het om sy steenkoolbates te ontbondel, sou 'n groot aandeelhouer soos die batebestuursreus BlackRock daarvan moes afsien. Dit is weens hul beleggingsbeleid wat BlackRock verhoed om aandele te besit wat suiwer op steenkool toegespits is.

Glencore beskryf homself as een van die wêreld se grootste gediversifiseerde hulpbronmaatskappye, wat meer as 60 verskillende kommoditeite vervaardig en bemark.

Hoewel hy in 2015 betrokke was by die omstrede transaksie om sy Optimum-steenkoolmyn aan die Gupta-verwante maatskappy Tegeta te verkoop, is Glencore steeds betrokke by ander steenkoolmyne en ferro-allooi-bedrywighede in die land.

Glencore het in 2018 ook in die plaaslike brandstofbedryf betrokke geraak met die koop van 'n meerderheidsbelang in die oliereus Chevron se brandstofbates in Suid-Afrika en Botswana. Hy is dus die meerderheidsaandeelhouer van Astron Energy, wat die Caltex-vulstasies en die Milnerton-olieraffinadery by Chevron oorgeneem het. - Saamgestel uit Bloomberg