Impala Platinum (Implats) het met herstrukturering begin wat tot 3 900 mense, sowat 9% van die mynmaatskappy se arbeidsmag, raak.
Die maatskappy se aankondiging volg op dié van Sibanye-Stillwater dat tot 4 000 mense by sy platinummyne afgelê gaan word en van Anglo American Platinum (Amplats) dat tot 3 700 mense afgelê gaan word.
Dit beteken die afgelope weke het die werk van 11 700 mense in die mynbou in die gedrang gekom.
Implats het reeds vroeër vanjaar vrywillige skeidingspakkette aan werknemers gebied.
Luidens sy verklaring Vrydag is die art. 189(3)-proses by sy Suid-Afrikaanse bedrywighede begin.
Nico Muller, uitvoerende hoof, sê die prys van platinumgroepmetale (PGM'e) daal skerp sedert begin 2023, "wat, tesame met volgehoue inflasiedruk op insetkoste, tot groot druk op winsgewendheid en kontantvloei in die hele PGM-bedryf gelei het, ons bedrywighede ingesluit. Wêreldwye makro-ekonomiese onsekerheid en stygende geopolitieke spanning verteenwoordig bykomende risiko's vir die bedryf se volhoubaarheid."
Die maatskappy bespaar reeds oor 'n breë front koste en het kapitaalbesteding uitgestel. Dít tesame met vrywillige skeidingspakkette is volgens Muller nie genoeg om vir die laer pryse te vergoed nie.
"Dit het Implats se finansiële posisie beduidend ondergrawe, wat op sy beurt toekomstige werksekerheid vir sy hele arbeidsmag bedreig."
Implats sê geen finale besluit sal voor behoorlike konsultasie oor die herstrukturering geneem word nie. Die maatskappy verbind hom tot "billike en deursigtige konsultasie" en "alle lewensvatbare alternatiewe tot afleggings sal oorweeg word".
Afleggings sal by al die bedrywighede - Rustenburg, Bafokeng en Marula - oorweeg word. By die groep se hoofkantoor word gemik om 30% van koste te besnoei.
"Implats bly daartoe verbind om die herstrukturering in konsultasie met sy maatskaplike vennote in werking te stel en sy maatskaplik-ekonomiese verbintenisse te eerbiedig, met respek en sensitiwiteit oor die lewensbestaan wat geraak word."












