Impala Platinum (Implats) het Donderdag soos Anglo American Platinum (Amplats) onlangs 'n skerp laer verdienste aangekondig vir sy halfjaar tot einde Desember.
Maar anders as Amplats wat slegte nuus aan sy werknemers moes oordra met die plan om tot 3 700 poste te besnoei, het Implats nog niks gesê oor soortgelyke drastiese planne met sy plaaslike bedrywighede nie.
Hy oorweeg wel die uitstel van verskeie kapitaalprojekte, en sy bedrywighede in Kanada het met 'n herstrukturering begin wat personeelvermindering ingesluit het.
Implats het wel jaarlikse salarisverhogings vir sy bestuur uitgestel, die vul van vakatures in nienoodsaaklike poste is bevries, en vrywillige skeidingspakkette word aangebied aan werknemers wat nie deel is van vakbonde nie.
Implats moes in die tydperk egter die tragedie hanteer van die ongeluk in November by sy no. 11-skag by Rustenburg, waarin 13 werknemers dood en 73 beseer is. Dit was toe 'n hysbak vol werkers in die skag geval het.
Sedertdien is nog drie werkers in afsonderlike werkverwante ongelukke dood, wat Implats se getal mynsterftes vir die tydperk op 16 te staan bring.
Soos Amplats is Implats deur die skerp val in pryse van platinumgroepmetale geraak.
Platinumpryse was redelik stabiel en was net 0,3% laer. Maar palladium se gemiddelde prys was 41% laer op $1 182 per ons, en rodium het met 70% gedaal tot 'n gemiddelde van $4 152 per ons.
Dit het meegebring dat Implats se wesensverdienste met 77% tot R3,3 miljard gedaal het.
Implats het in die tydperk die verkryging van Royal Bafokeng Platinum afgehandel, en dié myngroep se syfers is vir die eerste keer ingesluit in Implats se syfers.
Implats het die halfjaar afgesluit met netto kontant van R5,2 miljard, maar geen tussentydse dividend is verklaar nie.
"Die tragedie by die no. 11-skag by Impala Rustenburg was 'n verpletterende en wesenlike gebeurtenis vir ons groep en ons gaan voort met ondersoeke na die ongeluk terwyl ons voortgesette steun bied aan ons kollegas wat daardeur geraak is," sê Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats.
Die groep het in dié tydperk aansienlik gevorder om produksie en verkoopsvolumes op te stoot en kostebeheer oor verskeie van sy bedrywighede te handhaaf. Maar die skerp daling in verkooppryse het die winsgewendheid aansienlik geraak.
Muller verwag die faktore wat tot die laer platinumgroepmetaalpryse gelei het, sal op die medium termyn voortduur, en hy verwag 'n moeilike 2024.
Benewens die herstrukturering in Kanada word pogings aangewend om waarde by Impala Bafokeng te beskerm, sê Muller. Sonder om te verwys na moontlike herstrukturering, waarsku hy dat verdere stappe nodig kan wees om volhoubaarheid te verseker.
Baie van die groep se bedrywighede is steeds winsgewend ondanks die lae verkooppryse.
Implats het begin met 'n omvattende hersiening van kapitaalbestedingsprojekte en beplande produksie. Die mikpunt is om kontantbalanse te beskerm en te verseker dat daar positiewe kontantvloei is.
Van die projekte wat uitgestel word, is die opknapping van die Selous-basismetaalaffineerdery in Zimbabwe, die verdere fases van 'n sonkragaanleg van 185 MW in Zimbabwe, die tweede fase van 'n uitbreiding by die Marula-myn, asook 'n afvalerts-ontwikkeling by Impala Bafokeng se Styldrift-myn wat na die volgende boekjaar uitgestel word.
Impala Refineries was besig met 'n projek om die gebruik van steenkool te elimineer, maar dit is uitgestel. Die vierde fase van die opknapping van sy edelmetaalaffineerdery sou in April 2026 begin, maar dis nou met twee jaar tot April 2028 uitgestel.
Die bou van 'n sonkragaanleg van 30 MW by Marula word ook uitgestel, tesame met 'n voorgestelde sonkragaanleg van 140 MW by Impala Rustenburg.
Die skag 11-ongeluk
Implats het in Januarie sy ondersoekverslag oor die mynongeluk aan die departement van minerale bronne en energie gestuur. Die departement sal sy eie amptelike ondersoek doen, wat maande kan duur.
Implats sit tegelykertyd sy eie ondersoeke voort.
Die groep het in Januarie werkspanne wat by die no. 11-skag gewerk het by sy ander Rustenburg-myne ontplooi. Herstelwerk by die skag is voltooi en Implats het weer met produksie in die skag begin. Volle produksiekapasiteit behoort teen April behaal te word.
Implats se halfjaarsyfers
• Omset daal met 25% tot R43,4 miljard
• Wesensverdienste val met 77% tot R3,3 miljard
• Wesensverdienste daal met 78% tot R3,65 per aandeel





















