Kommer oor batestropery by Optimum-myn

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Argieffoto van die Optimum-myn in die Middelburg-omgewing in Mpumalanga.  Foto: Theana Breugem/Beeld
’n Argieffoto van die Optimum-myn in die Middelburg-omgewing in Mpumalanga. Foto: Theana Breugem/Beeld

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is besorg oor batestropery en agteruitgang by die Optimum-myn, terwyl hofprosesse hieroor voortsleep.

Die NVG het Maandag aan die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste verslag gedoen oor sy poging om die myn te red.

Die NVG het 'n bewaringsbevel van R2,1 miljard oor die mynbates bekom, maar verskeie partye insluitend die mynwerkersvakbond NUM en die direkteure van Tegeta, die Gupta-verwante vorige eienaars van die myn, het gevra vir verlof tot appèl teen die bevel.

Die NVG het al met die adjunk-regterpresident geskakel en wag vir die aanwysing van 'n regter en 'n hofdatum om die appèlle aan te hoor, het adv. Ouma Rabaji-Rasethaba van die NVG Maandag aan die komitee gesê.

Volgens Rabaji-Rasethaba wil die NVG die beslagleggingsproses so gou as moontlik afhandel sodat die myn weer aan die gang kan kom en mense weer daar kan werk.

Volgens haar het die jongste verslag van Peter van den Steen, die kurator van die myn, kommerwekkende aspekte uitgelig soos die risiko van batestroping by die myn.

Tans is daar klein, informele mynoperateurs wat by die myn werk.

Volgens Van den Steen se berekeninge het Optimum in die sewe maande sedert Maart vanjaar 'n wins van R28,5 miljoen uit tantième verdien, terwyl die eintlike potensiële wins op R6,3 miljard bereken word.

As die myneienaar self die myn kon bedryf, sou daar genoeg wins wees om al die krediteure teen die huidige steenkoolpryse te kon terugbetaal, en sou die myn binne 'n paar maande uit sakeredding kon kom.

Die myn se huidige eienaar is die maatskappy genaamd Templar, wat ook die grootste krediteur van Optimum is. Die myn is egter sedert 2018 in sakeredding.

Van den Steen is as kurator aangestel om toesig te hou oor die sakereddingsproses en hy stuur gereeld verslae hieroor aan die minister van justisie.

Die NVG het tot die kwessie toegetree toe dit blyk die sakereddingspraktisyns het 'n sakeplan opgestel wat daartoe sou lei dat die myn teen R1 aan die Guptas teruggegee sou word. Dit is toe dat die NVG ingespring het met 'n proses om op die myn se bates beslag te lê namens die staat.

Rabaji-Rasethaba sê die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad laat nie appèl toe teen 'n bewaringsbevel nie; tog is verlof tot appèl in dié geval toegestaan.

Ons stuur af op 'n stryd met die sakeredders, want ons is besorg oor die wegkalwe van waarde.

—  Peter van den Steen, die kurator van die myn

Volgens haar is 'n vorige poging deur die Guptas om 'n bewaringsbevel in 'n Gupta-verwante saak in die Vrystaat teen te staan, van die hand gewys. Sy beskou die jongste poging dus ook as blote vertragingstaktiek.

Sy vind dit egter vreemd dat die NUM ook teen die bewaringsbevel wil appelleer, want dit is juis 'n poging om die myn te help red sodat werkers weer aangestel kan word.

"Ons voer aan die myn is destyds gekoop met wins uit misdaad, maar niemand het nog ooit enige teenstellende verklarings ingedien wat ons bewering teenstaan nie. Ons sien dus al hierdie tussen-aansoeke as 'n poging om die proses te vertraag."

Van den Steen se verslae waarsku oor die toestand van die myn wat agteruitgaan wat betref water- en afvalbestuur, en oor die rehabilitasie en finansiering daarvoor. Die NVG het die departement van minerale bronne en energie al op 14 November oor die probleme ingelig, maar nog geen reaksie ontvang nie.

Die kurator se mees onlangse verslag, wat op 8 Desember ingedien is, voer aan dat die klein operateurs wat tans by die myn doenig is, die myn se waarde wegkalwe.

Sy berekeninge dui op sowat R6 miljard se waarde wat al deur die klein operateurs behaal is, maar die sakereddingspraktisyns het nie eens behoorlike kontrakte met hulle nie. "Ons stuur af op 'n stryd met die sakeredders, want ons is besorg oor die wegkalwe van waarde."

Steve Swart, ACDP-lid van die komitee, het gewys op die teenstrydigheid dat die NUM die bewaringsbevel teenstaan terwyl die vakverbond Cosatu dit steun.

Hy het gewys op die 1 500 werkers by 'n steenkoolmyn van Exxaro naby die Arnot-kragstasie van Eskom wat hul werk verloor het net sodat Tegeta die kontrak met Eskom kon kry om steenkool aan hom vanaf die Optimum-myn te kon lewer. Die mynwerkers was bloot pionne in die staatskapingprojek, sê Swart.

SPELETJIES VANDAG

CTA