Die mynbedryf het in 2022 ondanks uitstekende hulpbronpryse minder belasting as in die vorige jaar aan die staat betaal.
Mynmaatskappye het R74 miljard maatskappybelasting teenoor R81 miljard die vorige jaar betaal. Myne se betaling van belasting op toegevoegde waarde (BTW) het van R35 miljard tot R29 miljard gedaal.

Maar Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad van Suid-Afrika, het op die mynbou-indaba in Kaapstad gesê Enoch Godongwana, minister van finansies, glimlag darem nog elke keer vir hom wanneer hulle mekaar sien.
Volgens Baxter wys dit hoe belangrik die mynbedryf steeds vir die ekonomie en die staatskas is.
Die jaarlikse indaba het Maandag begin en duur tot Donderdag. Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, open die indaba. Toesprake deur pres. Cyril Ramaphosa en André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, is ook gereël.
Die waarde van die mynbouproduksie het verlede jaar tot R1 180 miljard teenoor R1 100 miljard in die vorige jaar geklim. Dit sou waarskynlik veel meer gewees het, sê Baxter, as dit nie vir die logistieke en kragprobleme weens onder meer Transnet en Eskom was nie.

Op 'n netto grondslag is daar egter bykans geen nuwe belegging in die mynbou nie, het Henk Langenhoven, ekonoom van die Mineraleraad, gesê.
Die geleentheidskoste vir die mynbou weens hawe- en spoorprobleme het verlede jaar tot R50 miljard - van die vorige jaar se R35 miljard - gestyg, het hy gesê.
As die spoornetwerk teen sy volle ontwerpkapasiteit bedryf kon word, met 'n paar kleinerige verbeterings, sou Suid-Afrika R151 miljard meer mynbouverkope kon behaal, het Baxter gesê.
Die raad raam in dié stadium dat mynbouproduksie verlede jaar 6% laer as in die vorige jaar was. Die volumes het tot laer as die vlakke voor die Covid-19-pandemie geval.
Volgens die Mineraleraad is daar egter hard gewerk in gesprekke met Eskom en Transnet om die situasie te probeer verbeter.
Themba Mkhwanazi, uitvoerende hoof van Kumba Iron Ore en een van die raadslede van die Mineraleraad, noem as voorbeeld hoe die bedryf ingespring het om die ysterertsspoorlyn tussen die Noord-Kaap en Saldanha ná 'n instandhoudingsluiting weer vinniger aan die gang te kry.
Dit blyk daar was 'n haakplek om 'n spesifieke onderdeel te bestel.
As Transnet se prosesse gevolg sou word, sou dit tot tien weke geduur het om die onderdeel te kry, maar die mynbedryf het ingegryp en die onderdeel binne 'n week of wat in die hande gekry sodat die spoorlyn sy bedrywighede kon hervat.
Danksy die ingryping is mynbouverkope ter waarde van R1,6 miljard gered wat andersins verlore sou gaan, het Mkhwanazi gesê.
KYK | Volg die indaba regstreeks:




















