Die platinumgroep Northam Platinum se tweestryd met Imapala Platinum (Implats) vir 'n beherende belang in RBPlat het uiteindelik vir hom heel goed afgeloop.
Hoewel Northam die verloorder in die stryd was omdat Implats uiteindelik beheer van RBPlat geneem het, kon hy Vrydag 'n eerste dividend van R6 per aandeel aan aandeelhouers verklaar.
Dit is aangekondig tydens die bekendmaking van Northam se resultate vir die boekjaar tot einde Junie.
Die dividend is grootliks danksy die reuse-kontantinspuiting van R9 miljard wat Northam ontvang het toe hy sy belang van 34,5% in RBPlat aan Implats verkoop het. Northam het ook 30 miljoen Implats-aandele gekry.
Die verkoop van die belang was volgens Paul Dunne, uitvoerende hoof van Northam, verstandig gegewe die potensieel uitgerekte insinking in die fundamentele faktore vir die platinumgroepmetale.
Die wins uit die verkoop van die belang het Northam se balansstaat en sy likiditeitsposisie aansienlik versterk.
Dit het meegebring dat Northam sy eerste dividend in meer as 10 jaar kon verklaar.
Northam se Zondereinde- en Elandmyne is aan weerskante van RBPlat se myne in die Rustenburg-omgewing.
Eskom se probleme
Die voortgesette probleme met elektrisiteit is steeds een van die grootste risiko's vir die maatskappy. Oor die boekjaar moes Northam as deel van 'n ooreenkoms met Eskom sy eie kragverbruik 73 keer afskakel, en die gemiddelde tydsduur van elke kragonderbreking was 14 uur. Dit word proaktief gedoen om veiligheid te verseker en om die impak op produksie te beperk. Dit word gedoen deur kragopwekkers te gebruik. Northam gaan sy vloot van dieselkragopwekkers tot 57 MW uitbrei. Volgens Dunne het die groep ook groenkrag-inisiatiewe.
Veerkragtig teen insinkings
Northam kon sy omset in die boekjaar met 16,1% tot R39,5 miljard verhoog, en bedryfswins het tot R15,4 miljard gegroei. Die verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywings was wel onveranderd op R16,5 miljard.
Volgens Alet Coetzee, finansiële hoof van Northam, hou die groep konsekwent by sy strategie om sy produksie na gelang van koste te laat groei. Dit verminder risiko en skep veerkragtigheid vir wanneer die markte daal. Volgens haar wys die huidige marktoestande vir platinumgroepmetale op 'n moontlik uitgerekte sikliese afswaai.
Maar Coetzee is vol vertroue dat die groep se verbeterde likiditeit en die diversiteit van sy bedrywighede hom sal help om dié moeilikhede te oorleef.
Die groei in omset is danksy 'n 20%-groei in verkoopsvolumes. Saam met die swakker rand teen die dollar het dit die laer mandjieprys vir platinumgroepmetale teengewerk.
Northam sê die klem sal in die nuwe boekjaar op streng kostebeheer val.
Uit die kontant wat uit bedrywighede genereer is oor die boekjaar, is R5,5 miljard aan kapitaalbesteding toegeken, en die vrye kontantvloei was R8,5 miljard. Northam kon sy netto skuld danksy die sterk kontantinvloei van R16 miljard tot R9,4 miljard laat krimp.
Koop eie aandele terug
Hy beplan om soveel as R1 miljard aan die terugkoop van sy eie aandele te bestee. Die direksie het besluit om dividende uit te betaal op grond van verdienste, met 'n minimum van 25% van wesensverdienste wat as dividende uitgekeer sal word.
Northam verwag sy verkope sal in die lopende boekjaar hoër wees as produksie. Verkope sal na verwagting tussen 950 000 en 990 000 onse wees, terwyl produksie tussen 850 000 en 880 000 onse sal wees. Kapitaalbesteding vir die boekjaar word op tussen R4,5 miljard en R4,8 miljard geraam.





















