Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Minerale Raad van Suid-Afrika (voorheen die Kamer van Mynwese), het besluit om af te tree wanneer sy huidige termyn in April volgende jaar verstryk.
Baxter sal dan byna nege jaar in die posisie gewees het.
"Roger het die organisasie deur uitdagende tye en geskiedkundige veranderinge gelei en 'n deurslaggewende leierskapsrol by die Mineraleraad gespeel gedurende dié tydperk van positiewe en transformerende verandering," het Nolitha Fakude, president van die raad, Maandag in 'n verklaring gesê.
Die raad het begin met 'n proses om 'n nuwe uitvoerende hoof aan te wys.
Onder Baxter se leierskap is die naam van die Kamer van Mynwese na die Minerale Raad verander.
Dit is onder sy leierskap dat Fakude as eerste vrouepresident van die 132 jaar oue organisasie verkies is.
Baxter het die Mineraleraad gehelp om die Covid-19-pandemie beter as enige ander sektor te bestuur deur te sorg dat 77% van die mynbousektor se werkers ingeënt is. Sodoende kon die mynbousektor help om die ekonomie oor twee agtereenvolgende jare steeds aan die groei te hou.
Die raad het onder sy leiding private beleggings in kragopwekking suksesvol bevorder, staatskaping en onetiese leierskap beveg en veiligheid in die sektor verbeter.
Baxter was voorheen die hoofekonoom van die Mineraleraad toe dit nog as die Kamer van Mynwese bekend gestaan het en het 'n loopbaan van sowat 30 jaar by die organisasie.
Volgens Baxter het hy regtig hard gewerk in die mynbousektor en voel hy dit is tyd vir verandering en om 'n blaaskans te neem.
"Dit is ook tyd vir nuwe leierskap by die Raad om die bedryf na die volgende vlak te neem en vir my om 'n nuwe hoofstuk te begin."
Hy het in 1992 by die Kamer van Mynwese begin werk, hoewel hy in 1999 'n jaar lank as aandelemakelaar gewerk het. Hy het daarna as hoofekonoom teruggekeer, maar in 2011 vir 'n jaar by Rio Tinto gaan werk voordat hy in 2012 teruggekeer het as senior bestuurder. Hy het in 2014 bedryfshoof geword en uitvoerende hoof in 2015.
Hy was nou betrokke by die spanne wat oor 'n nuwe mynboubeleid vir die land, 'n nuwe mynbouhandves, die witskrif oor energiebeleid, wetgewing oor vaardigheidsontwikkeling en verskeie groeistrategieë onderhandel het.





















