Stryd om RBPlat word hervat

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Suid-Afrika se platinumreserwes is van die gesogste in die wêreld vanweë die gehalte en die relatief vlak ertslae waarin dit voorkom, wat ’n positiewe uitwerking op die koste van ontginning het.
Suid-Afrika se platinumreserwes is van die gesogste in die wêreld vanweë die gehalte en die relatief vlak ertslae waarin dit voorkom, wat ’n positiewe uitwerking op die koste van ontginning het.

Die stryd oor die beheer van sommige van die gesogste platinumreserwes in Suid-Afrika en moontlik die wêreld het pas weer opgevlam.

Die platinummyngroep Northam Platinum het Woensdag verras met 'n nuwe, veel ruimer aanbod vir die uitkoop van minderheidsaandeelhouers in Royal Bafokeng Platinum (RBPlat).

Northam is al die afgelope jaar in mededinging met Impala Platinum (Implats) om beheer van RBPlat te verkry.

Northam se jongste aanbod is 'n prys van R172,70 per aandeel vir die RBPlat-aandele wat hy nog nie besit nie. Dit is wanneer dividende afgetrek is wat RBPlat reeds in Maart en Augustus vanjaar verklaar het.

Northam bied kontant aan vir die aandele, of afhangend van hoeveel aandeelhouers die aanbod aanvaar, 'n kombinasie van kontant en Northam-aandele. Die minimum kontantaanbod per RBPlat-aandeel is R54,40 as die aanbod ten volle aanvaar word.

Volgens Northam is dié aanbod 20,3% meer as die 30-dae-geweegde gemiddelde prys van RBPlat teen 8 November.

Northam besit reeds 34,52% van RBPlat, 'n belang wat hy stelselmatig sedert verlede jaar opgebou het.

Implats het terselfdertyd sy eie belang in RBPlat uitgebrei tot die huidige 40,71%. Aan die begin van die jaar het Implats 35,31% van RBPlat besit. Northam sê as Implats nie wil verkoop nie, sal sy minimum kontantaanbod R152,42 wees en sal die oorblywende R20,28 van die aanbodprys in Northam-aandele betaal word.

Implats het nog nie amptelik reageer op Northam se jongste aanbod nie.

Northam se aandeelprys het Woensdag met meer as 6% gedaal in reaksie op die nuus. Dit het teen Woensdag­middag teen net onder R178 per aandeel op die JSE verhandel.

Northam meen die oorname van RBPlat is 'n geleentheid vir sy langtermyngroeiplanne. RBPlat het sterk kontantvloei uit sy twee gevestigde myne wat skaars platinum­groepmetale van hoë gehalte in vlak ertslae lewer.

Northam meen as hy die beherende aandeelhouer word wat 50% en meer van die saamgevoegde myngroep besit, kan hy aansienlike ekstra waarde vir alle belanghebbers ontsluit met sy ervaring en tegniese kundigheid.

Northam belowe die RBPlat-werknemers en gemeenskappe sal ruim kan deelneem aan Northam se eie bemagtigings­transaksie waartoe sy aandeelhouers ingestem het.

SPELETJIES VANDAG

CTA