Mynbou

Transnet beloof beter veiligheidskontrak op steenkoollyn

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Treinwaens van Transnet vol steenkool bestem vir die uitvoermark. Foto: Beeld
Treinwaens van Transnet vol steenkool bestem vir die uitvoermark. Foto: Beeld

Transnet Freight Rail (TFR) gaan van Augustus af 'n nuwe veiligheidskontrak op sy steenkoolspoorlyn hê wat op prestasie gegrond sal wees.

TFR het Dinsdagaand gereageer op skerp kritiek van die steenkoolmaatskappy Exxaro oor die swak prestasie op TFR se spoorlyn waarvan Exxaro afhanklik is om sy uitvoersteenkool van sy myne tot by Richardsbaai se hawe te kry.

Volgens TFR behels die nuwe kontrak, wat van 1 Augustus af geld, dat boetes gehef kan word op die veiligheidskontrakteur sou sy prestasie nie op peil wees nie.

Dit volg op verskeie voorvalle van kabeldiefstal, vandalisme en sabotasie op die steenkoolspoorlyn oor die laaste paar jaar wat die mynbedryf erg knou en veroorsaak dat die Richardsbaai-steenkooluitvoerpunt nie sy volle kapasiteit benut nie.

TFR sê in 'n verklaring hy gee toe die steenkoollyn is ernstig geknou deur uitdagings wat betref die beskikbaarheid van lokomotiewe, diefstal, vandalisme en te min investering in die infrastruktuur.

TFR beloof die tenderproses om lokomotiewe weer in bedryf te kry wat al lank stilstaan weens 'n tekort aan onderdele, is in die finale stadium. Terwyl onderhandelinge voortduur met die Chinese maatskappy CRRC, word met ander lokomotiefverskaffers gepraat om hul lokomotiewe wat hulle aan Transnet gelewer het, weer in bedryf te kry.

TFR bereken die gebrek aan genoeg lokomotiewe kos hom sowat 16 miljoen ton se vervoerkapasiteit per jaar wat verlore gaan op die steenkoolspoorlyn.

Die staatsbeheerde vervoergroep sê hy werk met sy kliënte op die steenkoolspoorlyn saam om ekstra veiligheidsaspekte te finansier. Dit bestaan uit 'n ekstra 86 veiligheidspanne en 35 hommeltuie wat ingespan word. Sedert die ontplooiing van dié ekstra hulpbronne het die veiligheidsverwante voorvalle per week op die spoorlyn volgens TFR met 34% afgeneem.

Maar tog waarsku TFR die lyn word steeds geteister deur kabeldiefstal by kritieke spooromleidings wat treinbewegings ontwrig.

Exxaro-topbestuurders het op 'n inligtingsessie Dinsdag in die aanloop tot die bekendmaking van sy halfjaarresultate gekla oor die uitwerking van TFR se probleme op die steenkoolmaatskappy se bedrywighede.

Exxaro verwag sy uitvoervolumes sal in die halfjaar tot einde Junie 7% laer wees as 'n jaar gelede. Steenkoolpryse op die uitvoermark het egter in dié tydperk gedaal, wat dit vir uitvoerders moeiliker maak om die koste te regverdig om hul steenkool per pad na ander uitvoerhawens te vervoer.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM