Die ysterertsmyngroep Kumba se produksie kan met 50 000 ton per dag in die eerste sewe dae van die Transnet-staking geraak word.
Dit kan vererger tot sowat 90 000 ton per dag, en sy uitvoervolumes deur die Saldanha-hawe kan met sowat 120 000 ton per dag geraak word, het Kumba Maandagoggend in 'n Sens-verklaring gewaarsku.
Op grond van Kumba se produksiesyfers van die tweede kwartaal impliseer dit dat sy volle uitvoervolume tot stilstand kan kom weens die staking.
Dit kom nadat Transnet Vrydag 'n kennisgewing van force majeure aan Kumba gestuur het wat betref die verwagte ontwrigtende staking by die staatsvervoergroep.
Kumba sê hy sal die situasie fyn dophou en verdere kennisgewings verskaf soos nodig. Kumba verwag om sy produksie- en verkopeverslag vir die derde kwartaal tot einde September teen 27 Oktober bekend te maak.
Volgens Kumba het hy gebeurlikheidsplanne om sy bates te beskerm en die impak van die staking op sy bedrywighede te beperk.
Voor die staking is Transnet se spoorbedrywighede in elk geval al erg ontwrig deur kabeldiefstal en vandalisme.
Kumba voer ystererts uit deur Transnet se toegewyde ysterertsspoorlyn van Sishen in die Noord-Kaap na die Saldanha-hawe aan die Weskus. Kumba se myne by Sishen en Kolomela is op die uitvoermark gerig, terwyl sy Thabazimbi-myn ystererts aan die plaaslike staalvervaardiger ArcelorMittal SA lewer.





















