Mynaandele: Vervelig is goed

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Entoesiasme vir mynaandele bly gedemp en sommige beleggers meen dat die mynbase te blameer is.

Mynaandele is dalk terug op die radarskerms van beleggers wêreldwyd, maar hulle word nie beskou met dieselfde onbeteuelde entoesiasme van die vroeë jare 2000 nie.

'n Verslag deur S&P Global Market Intelligence in Oktober lui dat hoewel eksplorasiebegrotings van nie-ystermyngroepe (dié wat na goud en basismetale soos koper soek) vir die eerste keer in vyf jaar toeneem, myngroepe meestal by uitbreidings van hulle bestaande myne hou.

Wat dit beteken is dat daar nog nie genoeg vertroue by myngroepe of kapitaalverskaffers is om met alles in te klim en nuwe myne te ontwikkel nie. Wat die bou van nuwe myne betref, is die aanvangstye langer, hulle is duurder en die beleggers is nog skrikkerig oor die minerale- en metaalmark.

"Hoewel verbeterde marksentiment oor die afgelope 18 maande skynbaar die afname in die grondvlakdeel van begrotings in 2017 laat verlangsaam het, het nog 'n jaar van toenemende mynterreinaandeel 'n korttermynfokus by baie produsente gereflekteer, en ook 'n volgehoue klimaat van risikoafkeer," sê Mark Ferguson, mededirekteur van navorsing, metale en mynbou by S&P Global Market Intelligence, in die verslag.

Vooraanstaande batebestuurders het in Oktober by die Joburg Indaba die onlangse geskiedenis van swak opbrengste en die ondervertoning van mynaandele gekarteer - en nie net in Suid-Afrika waar die risiko in die land nie geïgnoreer kan word nie.

"Vir 15 jaar aanmekaar het die hulpbron-indeks die swakste vertoon," sê Henk Groenewald, ontleder van Coronation Asset Managers. "Waarom is dit, gegewe die China-gedrewe mark?" Hy het dit gevra na aanleiding van die pas van China se verbruikersgedrewe industrialisasie tussen sowat 2002 tot 2011. "Die groot mislukking is dat mynmaatskappye nie daarin geslaag het om 'n langtermynbeskouing te hê nie en die sikliese aard van die kommoditeitsmark te herken nie."

Sommige beleggers dink dat die mynbase regstreeks daarvoor kwalik geneem moet word.

Jamie Horvat, hoofbestuurder van M&G Investments, die multimiljarddollar- Britse batebestuurder, meen dat myngroepe glo dat hulle in 'n effens ander klas as die res van die beleggingsgemeenskap is. Dit is verdwasend, maar Horvat sê: "Ons sukkel om die mynbase sover te kry om met ons spanne te vergader. Ons vergader met Apple se hoofde, maar die mynbase dink skynbaar dat hulle firmas aan hulle behoort."

Jim Rutherford, 'n voormalige batebestuurder en nou 'n nie-uitvoerende direkteur op Anglo American se direksie sê: "Mynmaatskappye sien hulself as dat hulle 'n ruimte in 'n ander realiteit vul waar normale ekonomiese wette opgehef is."

Nog 'n saak wat die manier raak waarop myne vertoon, is die unieke omstandighede en risiko's wat deel is van die aktiwiteit van fisieke ekstraksie - dit is die ontwrigting om in die aarde te grou; gemeenskaps-, omgewings-, en politieke risiko is volop. Hierdie faktore weeg vir seker swaar op die vermoë van myngroepe om opbrengs te lewer, soos wat PwC in sy onlangs uitgereikte meningsopname, SA Mine 2017, toon.

Terwyl die mynbedryf voortgaan om waarde toe te voeg vir al sy belangehebbers, is dit die ekwiteitshouers - die aandeelhouers - wat die minste voordeel trek, sê die ouditeursfirma. Dit is waar in Suid-Afrika, maar ook oral anders. Soos uiteengesit in die mynmaatskappye se waardetoegevoegde state, kry werknemers steeds die leeueaandeel van die waardetoevoeging teen 40%, gevolg deur die regering deur regstreekse belasting, betaalstate en tantieme teen 19%.

"Dit is teleurstellend om te sien dat aandeelhouers slegs 2% van die verspreiding kry," sê Michael Kotzé, PwC se leier van Afrika-energienutsbedrywe en hulpbronne.

"Ek noem dit die vier S'e, " sê Rutherford. "Wanneer jy sien dat strategieë, sinergieë en aandeelhouerswaarde (shareholder value) in 'n maatskappy-aankondiging bespreek word, weet jy dit is tyd om te verkoop (sell; die vierde S)."

Horvat is krities oor die finansiële ontwerpwerk wat aan maatskappyresultate bestee word eerder as die werk om netto huidige waarde te skep - die bou van fundamentele waarde in die bates wat onder die mynmaatskappye se regstreekse beheer is. Dit is die bou van balansstaatskuld om samesmelting en verkrygingsaktwiwiteit te laat plaasvind; die soort korporatiewe dekadensie wat aan die orde van die dag was in die goeie ou dae van die minerale supersiklus.

Hoe lyk 'n mynmaatskappy dan wat die moeite werd is om in te belê?

"Hulle moet vervelig wees," sê Frank Beaudry, 'n beleggingsontleder by Capital Group met sy hoofkantoor in die VSA en sowat $1 500 miljard onder bestuur. Beleggers soek na stabiliteit, die vermoë om teikens te bereik en geen onaangename verrassings nie.

Volgens Horvat doen Mark Bristow, die uitvoerende hoof van die Britsgenoteerde Randgold Resources, die regte dinge deur in die algemeen duur samesmelting- en verkrygingstrategieë teen te staan en te belê in die hernuwing van die maatskappy se hulpbronne deur grondvlakeksplorasie. Geen hulpbron word ontwikkel in 'n myn nie, tensy dit teen 'n goudprys van $1 000 per fynons kan oorleef.

Horvat meen dié benadering is konserwatief, verstandig en steun die maatskappy se netto huidige waarde.

terugvoer@finweek.co.za

"Ons vergader met Apple se hoofde, maar die mynbase dink skynbaar dat hulle firmas aan hulle behoort."

Soos uiteengesit in die maatskappy se waardetoegevoegde state, kry werknemers steeds die leeueaandeel van die waarde- toevoeging teen 40%, gevolg deur die regering deur regstreekse belasting, betaalstate en tantieme teen 19%.

Mark Bristow, uitvoerende hoof van Randgold Resources
Mark Bristow, uitvoerende hoof van Randgold Resources

Wat van South32 se aandeleterugkoop?

Graham Kerr, uitvoerende hoof van South32
Graham Kerr, uitvoerende hoof van South32

Nog 'n maatskappy wat dieselfde metodologie as Randgold Resources volg deur nie halsoorkop in korporatiewe aktiwiteit in te duik nie en sy eie hulpbronne ontwikkel, is South32, wat geskep is deur die ontknoping van BHP se nie-kernbates.

Toe South32 se uitvoerende hoof, Graham Kerr in Augustus deur finweek gevra is waarom die maatskappy relatief stemmig is in sy benadering tot groei, het hy gesê: "Ons is wat ons is."

Die maatskappy het met ander woorde stelling ingeneem om sy kontant konserwatief te bestuur, wat van pas lyk vir 'n maatskappy wat gebore is in die middel van die metaalpryskorreksie oor die afgelope paar jaar.

Sy besluit om 'n aandeleterugkoopprogram in werking te stel, wat hy in Augustus met $250 miljoen vergroot het tot $750 miljoen, het egter sy voorstanders en kritici. In 'n neutedop is 'n aandeleterugkoopprogram 'n manier waarop 'n maatskappy in homself en sy eie bates belê. Die terugkoop verhoog nie net die waarde van die uitstaande aandele nie, maar verhoog ook die opbrengs per aandeel wanneer die maatskappy sy tussentydse en eindresultate aankondig.

Party mense hou egter nie daarvan nie. South32 mag aanvoer dat hy die behoeftes van die geduldige aandeelhouers dien, terwyl ander beleggers liewers die kontant sal wil hê sodat hulle kan besluit of hulle wil aanhou om die aandeel te koop of wil diversifiseer in ander aandele.

"Terugkope is altyd 'n slegte idee tensy jy dit kan doen aan die onderkant van die siklus [wanneer die aandeel die meeste onderwaardeer is]," sê Henk Groenewald, ontleder van Coronation Asset Managers.

"Hulle gebeur altyd op presies die verkeerde tyd; wanneer die maatskappy 'n klomp geld op sy balansstaat het en baie dikwels wanneer dit direkteursinsentiewe [op aandeelprysvertoning] tot voordeel strek," sê Rutherford. "Maar laat ons ons nie nou daaroor uitspreek nie," het hy bygevoeg.

"Uit die aard van die saak hou aandeelhouers van dividende omdat hulle kan besluit wat om daarmee te doen," sê Mike Fraser, bedryfshoof van South32 se bates in Suider-Afrika. "Maar die probleem daarmee is dat, uit 'n waarde-oogpunt, die uitbetaal van dividende nie die geheelwaarde van die besigheid vergroot nie. Dit mag die waarde vir die aandeelhouer vandag verhoog wie daardie voordeel het, maar dit verhoog nie die langtermynwaarde van die maatskappy nie," het hy gesê.

Wat betref die vermoede dat aandeelterugkope slegs ten doel het om die waaarde van die aandeel te verhoog en direkteure in staat te stel om hul eie finansiële aansporings te bereik, het Fraser gesê dat die kriteria vir totale aandeelhouersopbrengs, waarop South32 se bonusse gegrond is, ook dividendbetalings insluit. Maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, dit loon die maatskappy se amptenare om opbrengs aan aandeelhouers te verskaf. Maar die kwessie van aandeelterugkope blyk 'n betwisbare een te wees.

"Sommige aandeelhouers vra ons om ons kapitaalbestuur te doen deur aandeelterugkope, omdat jy uiteindelik, as jy 'n langtermynaandeelhouer is, 'n toename in die aandeelprys wil hê. Ander is baie meer inkomstegefokus en dit is waarom hulle dividende wil hê."

"As jy dus na ons totale aandeelhouerbasis kyk, is daar 'n mengsel van aandeelhouers, van waardefondse tot inkomstebeleggers en om te probeer om hulle almal tevrede te stel, beteken dat daar nie een scenario is wat altyd verwerklik word nie," het hy gesê.

"Terugkope is altyd 'n slegte idee tensy jy dit kan doen aan die onderkant van die siklus."

Foto's: www.mandg.co.uk; www.south32.net

David McKay

SPELETJIES VANDAG

CTA