Ná meer as ses jaar gaan die De Beers-groep nou weer 'n nuwe uitvoerende hoof kry om Bruce Cleaver op te volg wanneer Cleaver vroeg volgende jaar uittree.
Die nuwe uitvoerende hoof wat aangekondig is, is Al Cook, wat beskryf word as iemand met meer as 25 jaar se internasionale bestuursondervinding wat hy hoofsaaklik opgedoen het by die energiegroepe BP en Equinor.
De Beers se naam het onlangs in berigte opgeduik oor die verwoestende impak van 'n slikdam wat by Jagersfontein gebreek het.
De Beers het die myn dekades besit.
Dis bekend uit berigte van 2011 dat De Beers die mynhope aan 'n konsortium verkoop het.
Cook sê hy sien uit daarna om nou met personeel, kliënte, die regering en ander belanghebbendes saam te werk om te verseker dat De Beers die leier in die bedryf bly "en volhoubare en doelgedrewe waarde skep".

"Deur my loopbaan was ek passievol daaroor om blywende maatskaplik-ekonomiese bydraes tot die omgewing van gasheerlande en die gemeenskappe te maak.
"Ek besef hoe belangrik De Beers se benadering tot verantwoordelike mynbou is, veral in Botswana, Namibië en Suid-Afrika."
De Beers sê Cook het in sy mees onlangse pos Equinor se "multimiljard-dollar"- internasionale eksplorasie en produksie in Afrika, Amerika en Europa bestuur.
Equinor het ook Maandag aangekondig Cook het hom ingelig hy gaan bedank om uitvoerende hoof van 'n maatskappy buite die energiebedryf te word.
Hy het in 2016 by Equinor aangesluit.
Volgens hom het hy vir jare tussen Noorweë en Brittanje gependel en hy sien uit daarna om nou by sy gesin in Londen te woon.
Duncan Wanblad, voorsitter van De Beers, sê hy glo Cook het multidissiplinêre strategiese vaardighede wat saam met sy sterk persoonlike oortuiging en waardes hom ideaal geskik maak vir De Beers.
Cleaver word nou medevoorsitter van De Beers.
Wanblad sê Cleaver het dié maatskappy se gedaantewisseling die laaste jare in sy voorsieningsketting gelei.
Tydens sy termyn het De Beers die grootste en mees gesofistikeerde diamanteksplorasieskepe in die wêreld bekend gestel.

Hy het ook die ooreenkomste met grootmaataankopers van ongeslypte diamante herontwerp om die verspreiding van ongeslypte diamante meer doeltreffend te maak.
Hy het ook 'n peutervrye nasporingstelsel met blokketting geskep wat verspreiders oortuig van die herkoms van die diamante. Hy het Lightbox Jewelry begin, wat diamante in 'n laboratorium skep.
Volgens Wanblad het hy De Beers suksesvol bestuur gedurende 'n tydperk van aansienlike verandering, insluitende om tegnologie te gebruik om aan verbruikers die absolute versekering te gee oor die etiese herkoms van die groep se diamante.
De Beers het in September aan Bloomberg gesê sy bedrywighede in Jagersfontein het in 1971 gestop en die maatskappy is in 2010 saam met sy aanspreeklikhede verkoop.
De Beers het die myn dekades besit en Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het Vrydag in 'n parlementêre vraag erken die staat het geen amptelike dokumentasie oor wie dié myn in die Vrystaat besit nie.
Volgens hom was De Beers nog teen 13 Desember 2007 die eienaar van die slikdam. Maar ná 'n hofuitspraak in Desember 2007 het die departement nie meer jurisdiksie oor die myn gehad nie en daarom is daar nie 'n rekord nie.
LEES OOK: Rupert verkoop diamantbelange in SA
Die myn is in 2010 aan die Superkolong-konsortium verkoop.
Die konsortium het die beleggingsvoertuig Reinet Investments ingesluit waarin die sakeman Johann Rupert se familie belange hou.
Reinet het in April vanjaar 'n transaksie afgehandel om sy belang in Jagersfontein aan Stargems van Indië te verkoop.
De Beers is besig met 'n groot belegging van omtrent R10 miljard in sy Venetia-myn naby Musina om sy leeftyd met 25 jaar te verleng, het Netwerk24 onlangs berig.





















