Tegnuus

67% van SA maatskappye gebruik KI, helfte wel sonder ’n plan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Toqan KI, ’n generatiewe kunsmatige intelligensie (GenKI), glo dís hoe ’n voorstelling van GenKI sal lyk. ’n Nuwe studie toon dat 67% van sakeondernemings in Suid-Afrika reeds GenKI in die werkplek gebruik.  Beeld: Toqan KI
Toqan KI, ’n generatiewe kunsmatige intelligensie (GenKI), glo dís hoe ’n voorstelling van GenKI sal lyk. ’n Nuwe studie toon dat 67% van sakeondernemings in Suid-Afrika reeds GenKI in die werkplek gebruik. Beeld: Toqan KI

Die gebruik van generatiewe of skeppende kunsmatige intelligensie (KI) deur sakeondernemings in Suid-Afrika word al hoe meer die norm.

Die meeste doen dit egter sonder formele strategieë, leierskap of die infrastruktuur wat benodig word vir minimale risiko.

Arthur Goldstuck, tegnologiekenner en skrywer van The Hitchhiker's Guide to AI, se maatskappy, World Wide Worx, het tesame met Dell en Intel 'n studie gedoen oor hoe sakeondernemings KI in die werkplek gebruik. Meer as 100 ondernemings oor verskeie bedrywe heen vorm deel van die studie.

Goldstuck het Donderdag by die bekendstelling van die studie gesê dis duidelik dat die meeste sakeondernemings 'n "alles-in-beginsel" met die gebruik van KI volg.

67% van die maatskappye gebruik reeds generatiewe KI in die werkplek, 12 persentasiepunte meer as verlede jaar se 45%.

In 2025 gebruik 15% 'n goedgekeurde instrument, 20% goedgekeurde én nieamptelike instrumente en 32% nieamptelike instrumente. 'n Derde gebruik egter glad nie generatiewe KI in die werkplek nie.

Wat vir Goldstuck kommerwekkend is, is dat 22% van diegene wat wel KI in die werkplek gebruik, se maatskappy nie 'n duidelike strategie daarvoor het nie én dat daar nie besprekings is om een te kry nie.

"Baie organisasies is eenvoudig nie bewus van die gapings wat hulle in hul stelsels laat nie," sê Goldstuck.

"Die risiko strek verder as die tegniese en sluit reputasie-, etiese en bedryfskwesbaarheid in."

Arthur Goldstuck, uitvoerende hoof van World Wide Worx, wat saam met Intel en Dell 'n studie oor die gebruik van GenKI in die werkplek in Suid-Afrika gedoen het.   Foto: Argief/Rosetta Msimango
Arthur Goldstuck, uitvoerende hoof van World Wide Worx, wat saam met Intel en Dell 'n studie oor die gebruik van GenKI in die werkplek in Suid-Afrika gedoen het. Foto: Argief/Rosetta Msimango

Gebruik van generatiewe KI

KI kan vir verskeie doeleindes gebruik word.

Die maatskappye wat aan die studie deelgeneem het, gebruik dit hoofsaaklik vir:

• Teks en geskrewe inhoud (66%);

• Voorspellende ontleding (60%);

• Masjienleer (48%);

• Generering van kodes (36%);

• Kletsbotte (28%);

• Skep van foto's (12%);

• Skep van video's (10%);

• Skep van oudio (6%); en

• 3D-modellering (4%).

Sedert verlede jaar het die gebruik van generatiewe KI vir teks en geskrewe inhoud verdubbel, met 'n verdere 34% wat sê hulle is van plan om dit te gebruik.

Een van die groot gebruike van KI vir teks en geskrewe inhoud is die gebruik van KI in e-pos.

In vergelyking met verlede jaar, het dit van 44% tot 94% gestyg.

Goldstuck sê dis omdat Google Gemini en Microsoft CoPilot reeds met hul e-posstelsel verweef is.

Verder word KI vir geskrewe inhoud soos marknavorsing, die skryf van verslae en bemarking gebruik.

'n Beduidende afname is egter gesien vir die gebruik van KI om foto's, video's én oudio te genereer.

"Die maatskappye wat nie van plan is om KI vir oudio te gebruik nie, het van 9% verlede jaar tot 72% gestyg," sê Goldstuck.

"Dis moontlik dat hulle daarmee geëksperimenteer het en dat dit nie gewerk het nie of dat die instrumente se vaardighede te beperk en te duur is."

ChatGPT-plato

ChatGPT, betaald en gratis, is steeds die instrument en platform wat die meeste gebruik word, maar het op 93% sy plato bereik.

Microsoft CoPilot het egter van 62% tot 74% gespring en GoldStuck glo dit sal binnekort die mees gebruikte KI-instrument word.

Die gebruik van Google Gemini het sedert verlede jaar afgeneem, van 56% tot 41%.

Volhoubaarheid

Die impak van KI op die maatskappye is in die algemeen positief, aangesien dit help met produktiwiteit en mededingendheid.

Dit help maatskappye ook met kliëntediens, met positiewe terugvoering wat van 18% tot 37% gegroei het.

Goldstuck sê wel die studie het op ondernemings gefokus en nie noodwendig op kliënte en klante se ervarings nie, en dit sal in 'n volgende studie nagevors word.

'n Nuwe maatstaf rakende doelwitte vir volhoubaarheid is wel bygevoeg. Hoewel 41% positief en baie positief voel oor volhoubaarheidsdoelwitte in KI, is 51% neutraal en 6% negatief of baie negatief.

Netwerk24 het vroeër berig generatiewe KI is 'n groot verbruiker van energie, veral wanneer dit by die opleiding van modelle kom.

Verder het 76% van ondernemings geen maatreëls om die omgewingsimpak van generatiewe KI te beperk nie:

• 10% is wel besig om volhoubare KI-oplossings in te stel;

• 3% beperk die gebruik van KI;

• 11% monitor en verminder hul energieverbruik; en

• 5% gebruik programme om die vrystelling van koolstof teen te werk.

- stefani.terblanche@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM