Tegnuus

KI-koors weer rede vir topprestasies op S&P 500

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Winkel in Hongkong waar van Sandisk se geheuestokkies verkoop word.
A shop selling a variety of computer gear and electronics ’n Winkel in Hongkong waar van Sandisk se geheuestokkies verkoop word. (Foto: Getty Images)

Die beste presteerders in 2025 onder Amerika se top-500- genoteerde maatskappye is weer uit die kommunikasiesektor soos in die vorige jaar en het weer iets gemeen: die koorsagtige resies met kunsmatige intelligensie (KI).

Volgens Marketwatch het die S&P 500 die jaar 16,4% hoër gesluit ná ’n styging van 23,3% in 2024 en 24,2% in 2023.

So het die sektore op die S&P 500 in 2025 presteer
So het die sektore op die S&P 500 in 2025 presteer (Netwerk24-grafika)

Die kommunikasiesektor van die S&P 500 was vir die tweede jaar agtereenvolgens die beste presteerder onder die 11 sektore van die Amerikaanse markindeks. Die indeks het met 32% gestyg.

Databerging baat

Die beste prestasie is deur Sandisk gelewer, wat deur die meeste mense geken word as die vervaardiger van geheuestokkies.

Volgens The Motley Fool het Sandisk se aandeelprys verlede jaar met 559% gestyg ná sy ontknoping van Western Digital in die eerste kwartaal van die jaar.

Volgens ’n gesiene markkommentator het Sandisk die S&P 500 in 2025 hoër gelei met die oplewing in belegging in KI wat ’n sterk vraag na databergingsprodukte gedryf het.

Die S&P 500-indeks se top presteerders in 2025
Die S&P 500-indeks se top presteerders in 2025 (Netwerk24-grafika)

Western Digital en Micron Technology is in die tweede en derde plek, met hul aandeelpryse wat onderskeidelik met 282% en 239% gestyg het.

“Wat almal gemeen het, is KI. Al drie maatskappye verskaf databerging- en geheueprodukte, en die vraag was redelik sterk vanweë die uitbou van KI-infrastruktuur.”

Bloomberg sê die bulmark het vir ’n derde jaar voortgeduur danksy die entoesiasme oor KI se potensiaal.

“Diegene wat daarby baat vind, het in die jaar uitgekring. Die rekenaarskyfievervaardigers het weer goed gevaar en dié keer ook die van die maatskappye wat die datasentrums bou wat dié tegnologie aan die gang gaan hou.”

Drie van die indeks se top-10-presteerders in 2025 is datastoormaatskappye, wat die meeste gaan baat by die honderdmiljarde dollars se beleggings wat die reuse-wolkdienstegroepe beloof kom om hul vermoë in KI uit te brei, berig Bloomberg.

Die groepe Microsoft, Amazon, Alphabet en Meta Platforms het beloof om meer as $440 miljard in die komende jaar daarop te bestee.

Dit is hoekom Sandisk, Western Digital en Seagate Technology bevoordeel is. Seagate, wat ook in datastoor betrokke is, het naas Micron die vierde beste prestasie gelewer met ’n styging van 219%.

Robinhood Markets Inc. (203%), AppLovin Corp. (108%) en Carvana Co. (107,5%) is saam met Sandisk van die ondernemings wat in 2025 tot die S&P 500-indeks gevoeg is en onder die top-20 in die indeks beland het.

Ongewone stygings

Quartz berig in vorige dekades was 100%-plus-stygings gewoonlik iets wat maatskappye met ’n kleiner markwaarde kon bereik.

“Maar die 2020’s het dit omgegooi en in 2025 is die tendens voortgesit, met die bekende manjifieke sewe se name en hul mededingers wat op die lys is en opbrengste gelewer het wat meer met bespiegeling as gevestigde reuse verbind word.”

Die manjifieke sewe het gemiddelde sowat 20% se opbrengs gelewer.

LEES OOK | Manjifieke sewe word twee in 2025

Alphabet het egter amper 60% gestyg. Die moedermaatskappy van Google het spoed opgetel toe dit bekend geword het dat die beleggingsmaatskappy van die beleggingsghoeroe Warren Buffett daarin belê en sy jongste geselsbot Gemini AI besig is om ChatGPT in te haal.

Die sewe maatskappye is in die topagt-plekke van maatskappye met die grootste markwaarde op die S&P 500. (Broadcom is nommer 6.)

Dit sluit in Nvidia, Apple, Alphabet, Microsoft, Amazon, Meta Platforms en Tesla.

Hulle het die laaste paar jaar die mark se opbrengs gelei. In die jaar tot vroeg in Oktober 2025 het hulle ’n opbrengs van 40% gelewer, wat byna 17% tot die opbrengs van die S&P 500 bygedra het.

Volgens The Motley Fool het hulle as ’n groep oor die afgelope dekade ’n gemiddelde jaarlikse opbrengs van 38,7% gelewer, wat drie keer hoër so hoog soos die S&P 500 s’n was.

Hul groei spruit uit die megatendense in tegnologie waaruit hulle baat vind soos die groeiende vraag na wolkdienste en KI wat nog in die baie vroeë stadium is van wat ’n buitengewone groeisiklus kan wees. Nvidia, Microsoft, Alphabet en Meta baat by dié moontlikheid.

Daar is risiko’s om in hulle te belê, soos hul hoë waardasies en omdat hulle reeds so groot is. Lees hier meer oor van die waarskuwings.

Boonop het kommer begin toeneem oor hul markkonsentrasie. Dit beteken omdat hulle so ’n groot deel tot die mark se opbrengs bydra, ’n impak op hulle ’n beduidende negatiewe impak op die markte kan hê.

Rolprentgroep ook wenner

Palantir Technologies Inc. is ook onder die top-20 en sy aandele het vir die derde jaar met meer as 100% gestyg. Dié ontwikkelaar van sagteware baat ook by die entoesiasme rondom KI en sterk aankope deur gewone beleggers wat aangetrokke voel tot sy uitgesproke uitvoerende hoof, Alex Karp.

Palantir se aandeelprys het 135% gestyg en in 2024 340%. Die aandeel is egter nou bitter duur. Die waardasie op grond van die aandeelprys in verhouding tot toekomstige wins is 180 keer. Dit is die derde duurste naas Tesla Inc., Warner Bros. Discovery Inc.

Laasgenoemde is ook onlangs meer in die nuus oor die oornamestryd wat rondom hom losgebars het. Die vermaaklikheidsgroep se aandeelprys het 175% in 2025 gestyg midde die nuus daaroor.

Die maatskappy het in Oktober amptelik verklaar hy is te koop en sedertdien heers daar ’n stryd tussen Paramount Skydance Corp. en Netflix.

Goud laat aandele blink

Van die interessante marktendense van die jaar was die sprong in edelmetale se aandeelpryse wat tradisioneel as veilige hawens beskou is, terwyl tegnologieaandele (groeiaandele) ook gestyg het.

“Dit is ’n ongewone beweging wat herinner aan die beweging in die mark ná die pandemie.”

Die goudprys het 70% in die jaar gestyg.

Dit het goudmyners se aandele sterk laat styg.

Onsekerheid laat baie stink

Van die groot verloorders op die S&P 500 was ondernemings wat negatief geraak is deur die ekonomiese onsekerheid weens pres. Donald Trump se verreikende handelstariewe wat laas jaar aangekondig is.

Die ekonomiese onsekerheid en kommer oor die gesondheid van Amerikaanse verbruikers weens inflasie het verbruikersaandele benadeel. Die verbruikersgoederegroep Clorox, die bevrore-aartappelskyfievervaardiger Lamb Weston, die kosvervaardiger Campbell’s en die drankgroep Constellation Brands was onder die swakste vertoners onder die S&P 500. Die aandeelprys van die kitskosplek Chipotle Mexican Grill Inc het 40% gedaal.

Kleinhandelaars se aandele is ook afgetrek deur die onsekerheid. Deckers Outdoor Corp., wat handelsname soos Hoka en Ugg besit, het met 50% gedaal. Lulelemon Athletica Inc. het 45% gedaal.

Gesondheidsversekeraarsaandele het ook nie goed gevaar nie. UnitedHealth Group Inc. en Centene het elk meer as 30% gedaal. Dit word toegeskryf aan die beleidsonsekerheid van Trump se administrasie en druk op medisynepryse.

– Bygewerk deur Nellie Brand-Jonker

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM