AOL, die bekende Amerikaanse internetmaatskappy wat veral in die 1990's en vroeë 2000's prominent was, het onlangs aangekondig dat hy ná 30 jaar sy dienste vir internettoegang deur 'n skakelmodem gaan staak.
Luidens 'n kennisgewing op sy webwerf sê AOL hy "evalueer gereeld" sy produkte en hy het besluit om dié diens en sy gepaardgaande programmatuur op 30 September ter ruste te lê.
CNN berig AOL het nooit opgehou om sy skakelinternetdiens - waar mense via 'n landlyn aan die internet konnekteer - aan te bied nie, ondanks die opkoms en oorname van breëband- en Wi-Fi-internet.
"Soortgelyk aan skakelinternet is AOL ook maar net 'n leë dop van wat dit eens was. Dié handelsmerk se gewilde internetboodskapdiens, AIM, is in 2017 reeds gesluit en AOL het self al onder verskeie ander oorhoofse maatskappye geval," berig CNN.
AOL word tans deur dieselfde private-ekwiteitsfirma besit wat Yahoo ook besit.
Volgens The Guardianwas AOL op sy hoogtepunt in die laat 1990's, en in die vroeë 2000's was hy die dominante internetdiensverskaffer met meer as 23 miljoen intekenare in die VSA.
Hy het so oorheersend geword dat hy Time Warner in 1999 in 'n massiewe $165 miljard-aandeletransaksie oorgekoop het, wat later as een van die rampspoedigste transaksies in die geskiedenis van die media en kommunikasiedienste beskou sou word.
Tans maak slegs 'n breukdeel van Amerikaanse huishoudings - ongeveer 175 000 uit ongeveer 132,6 miljoen huishoudings, dus sowat 0,13% - steeds op skakelinternet vir internettoegang staat en dié aankondiging van AOL lui vir baie mense die einde van 'n era in.
- karla.vandermerwe@media24.com
• Karla van der Merwe is 'n Netwerk24-beursjoernalis.






















