Apple was die enigste selfoonvervaardiger onder die wêreld se topvier wat in 2023 meer fone as in 2022 verkoop het. Dit het gehelp om die iPhone vir die eerste keer sedert die data gemeet word, die markleier onder slimfone te maak.
Volgens die International Data Corporation (IDC) was een uit vyf slimfone wat in 2023 verkoop is, oftewel 20,1%, 'n iPhone. In 2022 was Apple se markaandeel 18,8%.
Samsung, wat 12 jaar lank die markleier was, moet nou met die tweede plek tevrede wees met 'n markaandeel van 19,4%, teenoor die 21,7% in 2022.
Algeheel was dit nie 'n goeie jaar vir slimfoonverkope nie. Nagenoeg 39 miljoen oftewel 3,2% minder fone is verkoop, vir 'n wêreldwye totaal van sowat 1,17 miljard fone.

Apple se verkope het met 3,7% tot 234,6 miljoen fone gestyg.
Samsung het 13,6% minder fone verkoop vir 'n totaal van 226,6 miljoen.
Xiaomi, Oppo en Transsion, al drie Chinese firmas, is die res van die vyf grootste slimfoonvervaardigers. Transsion besit onder meer die handelsname Tecno en Itel.
Kleiner slimfoonvervaardigers het 'n gesamentlike markaandeel van 31% gehad.
Volgens die IDC is die 1,17 miljard fone die minste in meer as 'n dekade. "Makro-ekonomiese uitdagings en hoë voorraadvlakke" kry die skuld vir die swak syfers.
Die IDC sê daar was wel in die vierde kwartaal 'n opbloei in verkope, wat 8,5% meer was as 'n jaar vantevore. Dit maak die ontledingsfirma optimisties oor die slimfoonmark in 2024.
Nabila Popa, navorsingsdirekteur oor slimfoonverkope, sê luidens 'n verklaring Apple se prestasie kom ondanks uitdagings met regulasies en skerp mededinging van Huawei in China, ook Apple se grootste mark. "Apple se voortdurende sukses en veerkragtigheid is grootliks danksy die toename in die tendens om duurder toestelle te koop, wat nou meer as 20% van die mark verteenwoordig, aangevuur deur aggressiewe inruilaanbiedinge en rentevrye finansieringsplanne."
Ryan Reith, 'n visepresident van IDC, sê Samsung het kopers aan Apple afgestaan, maar die mededinging onder Android-toestelle is ook aan die toeneem. "Handelsname soos OnePlus, Honor, Google en ander stel baie mededingende toestelle bekend op die laer pryskerwe van die duurder mark.
"Opvoubare foto's en toenemende gesprekke oor slimfone se vermoë tot kunsmatige intelligensie wen veld."





















