'n ANC-LP en DA-minister stamp koppe oor regulasies vir die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) en die land se transformasiewette.
Khusela Sangoni-Diko, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie, het Maandag in 'n verklaring haar ernstige kommer uitgespreek oor wat volgens haar lyk na pogings deur Solly Malatsi, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, om die "kapasiteit van die staat te erodeer" en Suid-Afrika se "transformasiewette te stuit".
Malatsi het egter teruggekap en gesê die bewerings is "van alle waarheid ontbloot" en vorm deel van 'n propagandaveldtog.
Magte afgewentel
Sangoni-Diko wys in haar verklaring op 'n parlementêre vraesessie waarin Malatsi gesê het dat hy in die proses is om regulasies in die Staatskoerant te publiseer wat in praktyk magte van Sita sal afwentel na staatsdepartemente, en dat dit gemik is op "doeltreffendheid en kostebesparing".
Sy voer aan terwyl dié voorneme erkenning demonstreer van die uitdagings wat deur Sita se kliënt-departemente ervaar word, dien die regulasies "geen ander doel as om die bestaande fragmentasie, duplisering en gebrek aan integrasie in die staatsdiens te vererger nie".

Wetgewing
Kragtens die Sita-wet is die doelwit van die agentskap om "inligtingstegnologie, inligtingstelsels en verwante dienste aan of namens deelnemende departemente te verskaf en om ten opsigte van dié dienste as 'n agent van die Suid-Afrikaanse regering op te tree".
Dit bepaal volgens Sangoni-Diko ook dat "elke departement alle inligtingstegnologiese goedere of dienste deur die agentskap moet aankoop".
"Niks in die wetgewing gee die minister die gesag om wetgewing te omseil en funksies wat aan Sita toegeken is, na departemente af te wentel nie.
"Sita is gestig met die uitdruklike voorneme om doeltreffendheid en kostedoeltreffendheid te bevorder, daarom behoort die minister dié kritieke agentskap eerder te versterk en nie lam te lê nie," lui Sangoni-Diko se verklaring.
Die uitdagings by Sita ten opsigte van dienslewering is volgens haar nie onoorkombaar nie, maar vereis "doeltreffende leierskap soos wat baie ander ministers bereid is om te toon, en om die werk te doen om bestaande staatsinstellings te herbou en te versterk".
Aanslag op transformasie
Sangoni-Diko beskuldig Malatsi ook daarvan dat hy 'n aanslag op die land se transformasiewette geloods het deur te poog om die Wet op Elektroniese Kommunikasie te omseil om "weerspannige" sakebelanghebbendes tevrede te stel.
Malatsi het volgens haar in 'n onlangse artikel in die media sy voorneme aangekondig om 'n beleidsdirektief uit te vaardig oor die rol van ekwiteitsprogramme (EEIP's) vir die inligtingskommunikasietegnologiesektor as 'n meganisme om breëbandtoegang te versnel.
"Die Wet op Elektroniese Kommunikasie bepaal eksplisiet in art. 9(2)(b) dat die persentasie van ekwiteitseienaarskap wat deur histories benadeelde groepe gehou moet word, nie minder as 30% vir enige potensiële lisensiehouer mag wees om in die sektor vir telekommunikasie, uitsaaiwese of posdienste in Suid-Afrika bedrywig te wees nie."
"Dit lyk asof die voorgenome direktiewe en regulasies 'n poging is om bemagtigingswetgewing stilletjies te ondermyn, en sou daar gevind word dit die geval is, sal dit vurig teengestaan word," lui haar verklaring.
Propoganda-veldtog
Malatsi het Woensdag in 'n verklaring teruggekap en gesê daar steek geen waarheid in Sangoni-Diko se bewerings nie.
Die Sita-regulasies wat volgens hom die oorweldigende steun van ministers in die regering van nasionale eenheid (RNE) sowel as provinsiale regerings geniet, gee aan sy departemente die vryheid om aankope buite Sita te doen.
"Om dit te kan doen, moet die departement in staat wees om 'n sterk en lewensvatbare sakeplan voor te lê binne die bestaande voorskrifte vir openbare aankope, en teen 'n vinniger omkeertyd en 'n laer koste.
"Dié buigsaamheid kan openbare dienste vir alle Suid-Afrikaners verbeter deur te verseker dat die regering vinniger kan reageer en hulpbronne meer doeltreffend kan inspan - iets is wat verskeie departemente reeds 'n geruimte tyd versoek.
"Die regulasies is ten volle belyn met bestaande wetgewing oor staatsaankope, en het reeds die instemming van die minister van finansies soos deur die Sita-wetgewing vereis word."
Wat transformasie betref, sê Malatsi in sy verklaring dat enigiemand met basiese kennis van die bemagtigingswette van die land weet dat EEIP's ingevolge wetgewing toelaatbaar is in Suid-Afrika en dat dit die bron van groot beleggings in die ekonomie is, insluitend in sektore soos die voertuigbedryf.
Die regering se mediumtermyn-ontwikkelingsplan wat formeel deur die kabinet goedgekeur is, het die bekendstelling van EEIP's in die IKT-sektor aanvaar. "Bewerings dat die voorstelle transformasie ondermyn, is ongegrond en vals. Dit is duidelik vir almal om te sien dat dié propagandaveldtog deel is van Sangoni-Diko se politieke oudisie vir 'n moontlike uitvoerende rol," lui Malatsi se reaksie.
- philda.essop@24.com





















