Tegnuus

‘Dag Zero’ wink vir die Poskantoor

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
“Dag Zero” wink vir die Poskantoor.  Foto: Argief
“Dag Zero” wink vir die Poskantoor. Foto: Argief

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) staan op die rand van likwidasie as hy nie teen Oktober 'n kontantinspuiting vanuit die fiskus kry nie.

Dié waarskuwing is Dinsdag in die parlement gerig toe dié beleërde staatsinstelling 'n voorlegging oor sy sakereddingsplan aan die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie gelewer het.

Sapo is sedert Julie verlede in sakeredding, maar die sakereddingspraktisyns het nie die komiteesitting bygewoon nie.

Fathima Gany, waarnemende uitvoerende hoof, het gesê Sapo word deur "Dag Zero" in die gesig gestaar. Gegrond op die jongste finansiële vooruitsigte sal die kontantreserwes net tot Oktober 2024 - "Dag Zero" - hou sonder kapitale investering van die fiskus, het sy gesê.

Tussentydse aksies is ingestel om strenger beheer oor uitgawes toe te pas, asook om bestaande sleutelkliënte te prioritiseer om inkomste te verbeter.

Met Dag Zero wat nader kom, is die sakereddingspraktisyns volgens Gany verplig om art. 71 van die Maatskappyewet te oorweeg. Dié artikel bepaal as sakereddingspraktisyns ter eniger tyd in die proses besef dat daar nie meer redelike vooruitsigte is om die maatskappy te red nie, moet hulle die hof, die maatskappy en alle geaffekteerde mense daaroor inlig. Hulle sal ook by die hof moet aansoek doen vir 'n bevel om die sakereddingsproses te staak en die maatskappy in likwidasie te plaas.

"Gegrond op bogenoemde, met geen bykomende finansiering nie, sal die sakereddingspraktisyns ingevolge die wet verplig wees om Sapo in likwidasie te plaas soos voorgeskryf," het Gany gesê.

Likwidasie sal volgens Gany die doodskoot vir Sapo wees. "Dit sal geplaas word in die hande van die meester van die hooggeregshof, wat 'n likwidateur sal aanstel om die boedel af te handel. Die likwidateur sal ook die finale owerheid van Sapo word.

"Alle werknemers sal hul werk verloor, sakebedrywighede sal opgeskort word behalwe dit wat noodsaaklik is om die maatskappy af te wentel. Alle bates sal verkoop word en die verkoopswaarde en enige opbrengste sal onder die krediteure versprei word," het Gany gesê.

Om sake te vererger, sal die voorlopige likwidasiebevel (wat uitgereik is voordat Sapo in sakeredding geplaas is) van krag bly. "Ons posisie sal agteruitgaan as ons nie kontantreserwes beskikbaar het om die sakereddingsplan toe te pas soos aanvaar is nie," het Gany gesê.

Dr. Nonkqubela Thathakahle Jordan-Dyani, direkteur-generaal van die departement van kommunikasie en digitale tegnologie, het verduidelik daar is 'n uitstaande R3,8 miljard waaroor die Poskantoor tans met die nasionale tesourie in gesprek is. Die eerste twee aansoeke by die nasionale tesourie in dié verband is nie oorweeg nie. "Ons het nou nog 'n aansoek ingedien, maar skakel op 'n deurlopende grondslag met die nasionale tesourie."

Mondli Gungubele, adjunkminister van kommunikasie en digitale tegnologie, wat ook die vergadering bygewoon het, het gesê daar is "groen lote" te bespeur wat betref finansiële aanduiders. "Wanneer ek na groen lote verwys, bedoel ek dat uitstekende werk gedoen is om te keer dat die Poskantoor sterf. Ek is baie optimisties dat dit nie gaan gebeur nie."

Daar was verskeie ingrypings by takke en krediteure is betaal, solvensie het verbeter en die Poskantoor se netto batewaarde is positief.

Komiteelede, onder wie Tsholofelo Katlego Bodlani, DA-LP, wou weet wat die kapitale inspuiting behels wat Sapo versoek en noem dat dit soos 'n reddingsboei klink.

"Dit is die eerste keer dat ek van Dag Zero hoor. Ek het geweet van sakeredding, maar waar kom Dag Zero vandaan?" het sy gevra.

Khusela Diko, komiteevoorsitter, het gesê die indruk wat sy van komiteelede kry, is dat hulle nie tevrede is met die voorlegging deur die Poskantoor nie.

"Die eerste keer dat Dag Zero in die komitee geopper word, is 'n maand voordat dit is veronderstel om te gebeur. Ons het geen idee gehad van wat die plan is vir Dag Zero nie. Ook is daar geen opsies op die tafel wat oorweeg word gegewe die ernstige situasie wat die Poskantoor in die gesig staar nie. Ek dink dit is die grondslag van ons ongelukkigheid."

Daar moet volgens Diko weer voor die verwagte Dag Zero met die Poskantoor vergader word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM