Tegnuus

Digitale dilemma: Wie besit jou data?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Digitale data is volgens prof. Donrich Thaldar die nuwe goud of olie.  Foto: Toqan KI
Digitale data is volgens prof. Donrich Thaldar die nuwe goud of olie. Foto: Toqan KI

In die wêreld van slimfone, sosiale media en aanlyn inkopies is dit maklik om te vergeet dat elke klik, soektog en inkopie 'n digitale spoor los. Hierdie spore - jou persoonlike data - is nie net inligting nie; dit is 'n waardevolle bate wat in die internasionale digitale ekonomie gekoop, verkoop en verhandel word.

Maar aan wie behoort hierdie data regtig? Aan jou, die persoon oor wie die inligting handel, of aan die maatskappye wat dit versamel en stoor?

Volgens prof. Donrich Thaldar, regskenner aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en voorsitter van die belangegroep vir navorsing oor gesondheidsreg en etiek, is hierdie vraag ingewikkelder as wat dit op die oog af lyk - en die antwoord lê in die onderskeid tussen twee regsgebiede wat dikwels verwar word: privaatheidsreg en eiendomsreg.

In Suid-Afrika skep die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) 'n verskeidenheid regte vir individue oor hul persoonlike data.

Hierdie regte lyk baie soos eienaarskap, wat lei tot 'n algemene aanname dat datasubjekte (individue) outomaties die eienaars van hul persoonlike data is.

Die Suid-Afrikaanse Inligtingsreguleerder het selfs die standpunt ingeneem dat persoonlike inligting outomaties deur die datasubjek besit word, en nie deur die entiteit wat die data genereer nie, skryf Thaldar in sy artikel genaamd "Ownership of personal information?".

Hierdie aanname is volgens Thaldar egter regtens foutief. "Dis iets wat vermy word, eerder as om te sê hoe maak ons sin uit die werklikheid," het hy aan Netwerk24 gesê.

Wie besit water of suurstof?

"Kom ons gebruik die voorbeeld van water. Dit is oral om ons, niemand besit dit nie en niemand kan dit beheer nie. Sodra ek dit bottel, besit en beheer ek dit. Jy kan dan nie in 'n winkel ingaan en net een neem en sê dit is joune nie - dit is diefstal."

Met ander woorde, niemand besit werklik persoonlike data nie.

Maar wanneer daardie data gedigitaliseer, gestoor of in 'n spesifieke formaat vasgelê word, word dit 'n beheerbare voorwerp.

"Wanneer maatskappye data stoor, is die gestoorde data hul eiendom," sê hy.

Privaatheid teenoor eienaarskap

Thaldar sê privaatheidsregte en eiendomsregte kan soms in dieselfde saak ter sprake kom.

Hy gebruik die voorbeeld van 'n buurman wat 'n foto van sy buurvrou neem terwyl sy naak in die son lê en bak.

As hy die foto druk, is hy die eienaar van daardie foto. As hy afdrukke van daardie foto verkoop, kan ander mense die eienaar van die foto word.

Maar indien die buurvrou uitvind en die saak hof toe neem, sal privaatheidsregte swaarder as eiendomsregte weeg. Sy kan ook aandring dat die foto vernietig word.

Net só is die eienaar van persoonlike data onderhewig aan die beperkings van privaatheidsregte.

Prof. Donrich Thaldar, regskenner aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en voorsitter van die belangegroep vir navorsing oor gesondheidsreg en etiek. Foto: UKZN
Prof. Donrich Thaldar, regskenner aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en voorsitter van die belangegroep vir navorsing oor gesondheidsreg en etiek. Foto: UKZN

Persoonlike data

Privaatheidsregte is slegs van toepassing op persoonlike data.

As de-identifikasie van persoonlike data plaasvind, wat beteken dat dit nie meer aan die datasubjekte gekoppel kan word nie, is privaatheidsregte nie meer van toepassing nie. Wat oorbly, is die eienaarskapsregte in die data self.

Die pad vorentoe

In Thaldar se artikel noem hy dat ander lande, soos China, reeds formele erkenning aan die eiendomsregte van datagenereerders gegee het, wat regsekerheid skep vir besighede wat in die digitale ekonomie werk.

As Suid-Afrika mededingend wil bly, sal soortgelyke duidelikheid nodig wees - 'n duidelikheid wat die regmatige eienaarskapsregte van datagenereerders erken, terwyl dit die fundamentele privaatheidsregte van individue beskerm.

- stefani.terblanche@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM