Tegnuus

Engelstalige KI ‘sluit 9 uit 10 Suid-Afrikaners uit’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jade Abbott, medestigter en hooftegnologiebeampte van Lelapa AI. Foto: Lelapa AI
Jade Abbott, medestigter en hooftegnologiebeampte van Lelapa AI. Foto: Lelapa AI

Kunsmatige intelligensie (KI) se fundamentele fout is dat dit slegs verstaan wat hy geleer kan word en ongelukkig is die internet - waarmee hierdie stelsels opgelei word - oorweldigend "wit, manlik en Westers".

In Suid-Afrika, waar sowat 90% van die bevolking nie noodwendig Engels as huistaal gebruik nie, is dié vooroordeel nie net 'n tegniese probleem nie, maar 'n hindernis wat potensieel miljoene mense verhoed om aan die digitale ekonomie deel te neem.

Daarom is dit nodig om plaaslik relevante KI-modelle te skep wat die land se tale, kulture en maatskaplike prioriteite weerspieël.

Dít is volgens die paneellede van 'n paneelbespreking wat Vrydag oor die kwessies gesels het op die AI Empowered-konferensie wat verlede week in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaasgevind het.

Jade Abbott, medestigter en tegnologiehoof van Lelapa AI en een van die paneellede, sê dat KI baie spesifiek is in hoe dit te werk gaan en dat dit net kan werk met wat dit gegee word.

‘Verstaan nie ons manier van dink, aksente'

"As jy slegs inhoud uit Amerika gee, gaan dit nie plaaslike konsepte verstaan nie. Dit gaan nie plaaslike mense, plaaslike name of plaaslike dinge verstaan nie. Dit sal nie ons manier van dink verstaan nie en letterlik selfs nie ons aksente nie - Suid-Afrikaanse aksente kan nie eens behoorlik getranskribeer word nie, want dit is so breed, so uiteenlopend," sê sy aan Netwerk24.

Deshni Govender, die Suid-Afrikaanse adviseur vir die FAIR Forward - Artificial Intelligence for All-projek. Foto: Linkedin/Deshni Govender
Deshni Govender, die Suid-Afrikaanse adviseur vir die FAIR Forward - Artificial Intelligence for All-projek. Foto: Linkedin/Deshni Govender

"Dis belangrik, want meer as 90% van Suid-Afrikaners praat nie Engels tuis nie. So, dis 90% van die bevolking wat jy uitsluit van deelname aan jou ekonomie, 90% van die bevolking wat jy van werk uitsluit, 90% van die bevolking wat jy van behoorlike gesondheidsorg en van behoorlike onderwys uitsluit.

"Soos die wêreld vorentoe beweeg in 'n digitale ruimte, sê jy dus in wese dat daardie mense nooit sal kan inhaal nie omdat hulle nie 'n gegewe taal kan praat nie. Maar boonop kan hulle ook nie 'n bydrae lewer nie. Dit is dus 90% van die mense wat nie bydra tot daardie ruimtes en die groei daarvan nie, daardie sfere, daardie kernaspekte van bestaan."

Thapelo Nthite, nog een van die paneellede en die medestigter en uitvoerende hoof van Botlhale AI Solutions, het die voorbeeld genoem van sy ouma wat hom vra om te help om lugtyd op haar selfoon te laai om te wys hoe die taalversperring mense beïnvloed.

Thapelo Nthite, medestigter en uitvoerende hoof van Botlhale AI Solutions. Foto: Linkedin/Thapelo Nthite
Thapelo Nthite, medestigter en uitvoerende hoof van Botlhale AI Solutions. Foto: Linkedin/Thapelo Nthite

"Ek het besef sy weet presies wat sy wil doen - sy kan dit perfek artikuleer - maar sy kan dit net nie self doen nie. Haar foon is in Engels. Daar is baie mense soos my ouma wat weet wat hulle wil doen, maar hulle kan dit nie self doen nie weens dié hindernis," het hy op die paneelgesprek vertel.

Skep modelle in Afrikatale

Om dus soortgelyke stelsels meer gebruikersvriendelik te maak vir Suid-Afrikaanse gebruikers wat nie noodwendig Engels praat nie, skep Nthite se onderneming modelle wat in van die ander ampstale van die land kan kommunikeer.

Hulle het onder meer een so 'n model vir DStv Suid-Afrika geskep waar gebruikers deur die uitsaaier se WhatsApp-kanaal benewens in Engels, ook nou met hulle in Afrikaans, Zoeloe, Sesotho en Xhosa kan kommunikeer.

"Hulle het 'n taamlike toename in behoud ervaar waar mense aangehou het om terug te kom en weer die kanaal te gebruik. Dit beteken hulle het minder mense wat probeer inbel vir hulp en hulle kon dus minder hulpbronne daaraan afgestaan het," sê Nthite aan Netwerk24.

"Nie net het dit 'n impak op die maatskappy wat nou doeltreffender funksioneer nie, maar gebruikers kan nou ook die diens gebruik in die taal wat hulle verkies."

Hy sê egter dat die skep van KI-hulpbronne in Afrikatale nie sonder struikelblokke is nie.

Een van die groot probleme is dat Afrikatale nie altyd baie goed opgeneem en gedokumenteer is nie en dat daar nie tans baie databronne in die tale is waarmee hulle die KI kan oplei nie.

Terwyl regeringsinisiatiewe vordering gemaak het met die digitalisering van data, bly dié datastelle steeds baie klein vergeleke met Engelse data.

Om gevolglik KI-modelle vir Afrikatale te skep, vereis dat hulle hul eie data van nuuts af moet skep en opbou, wat 'n duur proses is, benewens die koste van rekenaars wat sterk genoeg is vir KI se opleiding, sê hy.

Deshni Govender, nog 'n paneellid en die Suid-Afrikaanse adviseur vir die FAIR Forward - Artificial Intelligence for All-projek, is egter baie positief oor Suid-Afrika se KI-toekoms en sê: "Ek is beslis 'n tegnologie-optimis en is regtig baie opgewonde om te sien wat uit Suid-Afrika kan kom. Net dié paneelbespreking hier vandag en die ander geleenthede wat plaasgevind het, is werklik 'n bewys van die talent wat ons het," het sy aan Netwerk24 gesê.

"Ons het die regte mense, ons het die motivering, ons het die energie en ons het die mag om dit te doen. Ons is 'n ongelooflik veerkragtige land. Dit maak nie saak wat gebeur nie, ons vind 'n manier om aan te hou vorentoe beweeg en daardie gevoel van gemeenskaplikheid is kragtig."

- karla.vandermerwe@media24.com

• Karla van der Merwe is 'n Netwerk24-beursjoernalis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM