Die Europese Unie (EU) het Apple en Meta Woensdag met gesamentlik €700 miljoen beboet weens die oortreding van nuwe antitrustreëls (reëls teen monopolieë), wat daarop gemik is om tegnologiereuse se mag te beperk.
Die boetes volg op 'n jaar lange ondersoek deur die Europese Kommissie na of dié maatskappye aan die Wet op Digitale Markte (DMA) voldoen, wat ten doel het om kleiner mededingers toe te laat in markte wat deur groot maatskappye oorheers word.
Die maatskappye het nie goed op die boete gereageer nie en Apple het gesê hy gaan die boete betwis.
Apple sê in 'n verklaring aan Reuters die aankondiging is nog 'n voorbeeld van die Europese Kommissie wat hom onregverdig teiken in 'n reeks besluite wat sleg is vir die privaatheid en sekuriteit van hul gebruikers, vir hul produkte, en hulle dwing om hul tegnologie gratis weg te gee.
Meta sê die kommissie poog om suksesvolle Amerikaanse ondernemings te kniehalter, terwyl Chinese en Europese maatskappye onder verskillende standaarde funksioneer.
"Dit gaan nie net oor 'n boete nie; die kommissie dwing ons om ons sakemodel te verander, wat Meta effektief 'n multimiljarddollar-tarief oplê en ons dwing om 'n minderwaardige diens te bied."
Waarom is Apple beboet?
Apple is beboet weens die oortreding van DMA-reëls wat vereis dat die ontwikkelaars van sy app kliënte moet toelaat om na eksterne aankoopopsies gelei te word.
Apple verhinder tans dat gebruikers goedkoper apps van buite die Apple App Store aflaai.
Reguleerders het Apple se implementering gekritiseer, waaronder 'n nuwe tarief wat alternatiewe app-winkels vir ontwikkelaars onaantreklik gemaak het.
Waarom is Meta beboet?
Meta is beboet weens sy "toestemming of betaal"-model wat in 2023 bekend gestel is, wat gebruikers óf gratis dienste met data-naspeuring óf betaalde intekening sonder advertensies gebied het.
Die Europese Kommissie het beslis dat DMA-regulasies oortree is omdat dit gebruikers se beheer oor hul data beperk. Die boete strek van Maart tot November 2024.
Toekomstige implikasies
Ná die uitspraak moet Apple beperkings verwyder wat ontwikkelaars verhinder om gebruikers na goedkoper opsies buite die Apple App Store te lei. Hy het 60 dae om te voldoen of boetes te betaal.
Dit kan lei tot goedkoper apps vir verbruikers wat direk van eksterne bronne aflaai, en ontwikkelaars kan Apple se tariewe vermy wanneer hulle apps op ander platforms aanbied.
Meta het 'n nuwe weergawe van sy advertensiemodel bekend gestel met 'n "minder advertensies"-opsie, wat minder persoonlike data gebruik.
Die kommissie evalueer tans hierdie model en soek bewyse van die werklike uitwerking daarvan.
Positiewe reaksies
Tim Sweeney, uitvoerende hoof van Epic Games, wat die Fortnite-speletjie ontwerp het, sê dit is goeie nuus vir alle app-ontwikkelaars.
Hy sê dit is nie bloot 'n "Europese belasting op Amerikaanse maatskappye nie", maar 'n straf weens Apple se wetsoortreding.
Andreas Audretsch, adjunk- parlementêre leier van die Groen Party in die Duitse parlement, sê die boetes is duidelik te min.
"Die kommissie moes strenger opgetree het; in vorige verrigtinge het die kommissie aansienlik hoër boetes van in die miljarde opgelê," sê hy.
"As Apple en Meta die sperdatum van 60 dae laat verbygaan sonder om die boetes te betaal, moet verdere stappe gedoen word."
Bronne wat op voorwaarde van anonimiteit met Reuters gepraat het, sê die beskeie boetes is weens die kort tydperk van die oortredings, 'n fokus op voldoening eerder as sanksies, en het ten doel om moontlike vergelding van pres. Donald Trump van Amerika te vermy.
- stefani.terblanche@media24.com





















