Tegnuus

Haal asem – só kan jy kuberkrakers klop

Weens kunsmatige intelligensie raak dit al hoe makliker om die slagoffer van ’n kuberaanval te word.
Weens kunsmatige intelligensie raak dit al hoe makliker om die slagoffer van ’n kuberaanval te word. (Foto: Getty Images)

Suid-Afrika is die mees geteikende land vir kuberaanvalle in Afrika – en soms help dit om diep asem te haal en nié ’n slagoffer te word nie.

KnowBe4, ’n maatskappy wat op menslike risikobestuur en kuberveiligheid fokus, het Donderdag op ’n mediageleentheid gepraat oor hoe die landskap van kuberaanvalle verander en hoe mense hulself kan beskerm.

LEES OOK |‘SA nou mees geteikende land vir kuberaanvalle in Afrika’

Diepvervalsing

Bryan Palma, president en uitvoerende hoof van KnowBe4, sê diepvervalsings, ook bekend as deepfakes, raak al hoe moeiliker om te onderskei van die ware Jakob.

LEES OOK | Diepvervalsing: Ook in SA loop bekendes deur

“Dit gebeur nog nie teen die koers van uitvissing nie, maar dit gebeur al hoe meer.”

Anna Collard, senior visepresident vir inhoudstrategie en hoof van inligtingsveiligheid van KnowBe4 Africa, sê dit is ’n bose bedryf – selfs ’n groep mense wat slagoffers van mensehandel was, is al gedwing om diepvervalste video’s te maak.

“En met behulp van kunsmatige intelligensie (KI) wat al die sosiale ingenieurswese doen, raak dit al hoe makliker om ander uit te buit.”

Uitvissing vang wyer

Collard sê kuberkrakers gebruik uitvissing-e-posse nie meer net om disinformasie te saai nie, maar ook vir bedrog.

Palma sê uitvissing-e-posse kan erge nadelige gevolge vir maatskappye hê.

Soms is dit ’n laegraadse indringerware wat op die hardeware afgelaai word, maar in ander gevalle kan kuberkrakers losprysware gebruik en dan die maatskappy van lyn af dwing.

Losprysware is indringerware wat die slagoffer se data enkripteer of wat stelsels sluit om sodoende die bedryfstelsel van die slagoffer of organisasie te ontwrig deurdat hul data en stelsels ontoeganklik is. Die kuberaanvaller(s) eis dan van die eienaar ’n som geld om die data weer toeganklik te maak.

LEES OOK | Meer as 12 000 losprys-aanvalle looi SA ondernemings en staatsdepartemente

Dit gebeur egter nie net met maatskappye nie, maar ook met regerings en staatsdepartemente.

Netwerk24 het verlede jaar berig dat die Suid-Afrikaanse Weerdiens se dienste in Januarie tydelik onderbreek is weens ’n uitvissing-e-pos. Weens die kuberaanval kon die weerdiens verskeie teikens nie behaal nie.

LEES OOK | Donderwolke by Weerdiens nadat uitvissing tot kuberaanval lei

Die departement van justisie het ook in 2021 erken dat hy die slagoffer van ’n gyselware-aanval was.

LEES OOK | Krakers gryp SA se howe

Collard sê openbare entiteite, organisasies sonder winsbejag en onderwys is die swakste op kuberaanvalle voorbereid – en die mag wat kuberkrakers met hul inligting sal hê, is groot.

Verder, hoe armer ’n land is, hoe minder aandag word aan kuberveiligheid gegee, wat juis gevaarlik is vir talle openbare entiteite in Afrika-lande.

Collard sê sy glo nes met klimaatsverandering moet lande saamkom en besluit hoe om kuberveiligheid saam aan te pak.

Kuberkraker-tendense wat jy moet ken

Palma sê hulle probeer om mense op sosiale media in te lig oor kuberveiligheid en hy glo nie dat dit sal beteken dat kuberkrakers slimmer met hul aanvalle gaan wees nie. “Aanvallers is lui en selfvoldaan. Hulle soek maklike teikens.”

Hier is van die tendense en patrone wat Palma en Collard oor kuberaanvalle ontdek het:

  • Mense is meer geneig om ’n slagoffer te word van ’n kuberaanval op hul selfoon. Die skerms is kleiner en ’n mens sien nie altyd die volle e-posadres nie;
  • Mense met minder selfbeheersing kan makliker ’n slagoffer word omdat hulle impulsief optree;
  • Mense is meer geneig om op ’n Vrydag ’n slagoffer van ’n kuberaanval te word. Dit is omdat mense dan uitgeput is ná die werksweek;
  • Mense se geslag speel nie werklik ’n rol wanneer dit by kuberaanvalle kom nie;
  • Kuberaanvalle raak baie verpersoonlik. Dit is nie meer net ’n sogenaamde Nigeriese prins wat vir jou geld beloof nie; en
  • Indien ’n mens nie behoorlik aandag gee nie en tegelyk verskeie take uitvoer, kan ’n mens ook makliker die slagoffer van ’n aanval word. Dit is in 48% van insidente die geval.

Wenke om jouself te beskerm

Collard sê kuberaanvallers probeer gereeld om emosie by mense te ontlok, of dit nou ’n sterk positiewe of negatiewe emosie is. Dis dan dat hulle druk toepas en mense slagoffers word.

Volgens Collard is dit juis dan wat mense diep moet asemhaal en moet bepaal of dit ’n kuberaanval is.

– stefani.terblanche@media24.com

CTA