Microsoft en OpenAI ondersoek of data van die ontwikkeling van hul kunsmatige intelligensie (KI)-kletsbot, ChatGPT, op 'n ongemagtige wyse verkry is om 'n nuwe Chinese KI-kletsbot te ontwikkel.
DeepSeek, wat op 20 Januarie in Amerika beskikbaar gestel is, maak naam in die KI-landskap omdat die maatskappy dit reggekry het om 'n KI-kletsbot teen 'n fraksie van die prys van ander modelle te ontwikkel.
LEES OOK | Wat jy moet weet oor DeepSeek, die nuwe KI wat opslae maak
Nou glo Microsoft, die grootste belegger in OpenAI, DeepSeek het moontlik van sý KI se data gebruik om die nuwe KI te ontwikkel, wat kon bydra tot die vinnige ontwikkeling en goeie prys.
Datadiefstal
Microsoft se sekuriteitsnavorsers het opgemerk dat individue wat hulle glo aan DeepSeek verbind het, in die verlede 'n groot hoeveelheid data uitgevoer het met die behulp van OpenAI se toepassingsprogrammeringskoppelvlak (API), berig Reuters.
Data-uitvoer, die opsetlike en ongemagtigde oordrag van data vanaf 'n rekenaar of ander toestel, is 'n vorm van datadiefstal.
David Sacks, die Withuis se KI- en kripto-tsaar, het Dinsdag gesê dis "moontlik" dat DeepSeek intellektuele eiendom van Amerika gesteel het.
"Daar is beduidende bewyse dat DeepSeek die kennis uit OpenAI se modelle gedistilleer het. KI-distillasie is wanneer een model by die ander leer," sê Sacks.
Microsoft steeds vriendelik
Hoewel daar steeds ondersoek word of DeepSeek OpenAI se data gebruik het, het Satya Nadella, uitvoerende hoof van Microsoft, op 'n vergadering met beleggers gesê DeepSeek het 'n "paar werklike innovasies" en dat dit wyd gebruik gaan word.
Bloomberg berig dat Microsoft selfs ook DeepSeek R1 se model aan sy kliënte bied.
Nog 'n Asiatiese land hardloop KI-resies
Indië jaag ook nou om met KI-ontwikkeling in te haal.
Die regering het 18 voorstelle gekies wat ondersteun sal word om met rekenaarinfrastruktuur, data en kapitaal om KI-verwante apps in onder meer landbou en klimaatsverandering te bou, berig Bloomberg.
"Die basismodelle wat in Indië gemaak word, sal met die beste van die bestes ter wêreld kan meeding," sê Ashwini Vaishnaw, minister van tegnologie in Indië.
Indië hoop om die KI-modelle binne agt tot 10 maande gereed te hê.
- stefani.terblanche@media24.com
• Stefani Terblanche is 'n Netwerk24-beursjoernalis.





















