KYK | Waterfront ontsout seewater teen September

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Ry herwinde wynbottels dien as versiering teen die een muur van Portswood Café in die Waterfront.Foto: FRANCOIS WILLIAMS
’n Ry herwinde wynbottels dien as versiering teen die een muur van Portswood Café in die Waterfront.Foto: FRANCOIS WILLIAMS

Die V&A Waterfront in Kaapstad vorder met bouwerk aan sy eie ontsoutingsaanleg, wat teen September vanjaar al in bedryf kan wees.

Die aanleg sal 3,3 miljoen liter water per dag kan lewer, met die opsie om dit te verhoog tot 5 miljoen liter per dag, het Petro Myburgh, senior bestuurder vir volhoubaarheid by die Waterfront, Woensdag gesê.

Die Kaapstad-metro het vroeër sy eie planne vir 'n ontsoutingsaanleg by die Waterfront gehad, maar die projek het tot stilstand gekom weens 'n dispuut met kontrakteurs.

Bouwerk is egter volstoom aan die gang aan die Waterfront se eie aanleg, wat langs die nuwe helikopter-lughawe aan die noordekant van die Waterfront geleë is.

Portswood Café in die Waterfront is byna volledig van herwinde boumateriaal gebou. Foto: FRANCOIS WILLIAMS
Portswood Café in die Waterfront is byna volledig van herwinde boumateriaal gebou. Foto: FRANCOIS WILLIAMS

Volgens Myburgh word daar gewerk aan planne dat tot 60% van die elektrisiteit wat nodig is om die ontsoutingsaanleg te bedryf, van 'n afval-tot-energie-aanleg sal kom, wat nog beplan word. Dié aanleg kan later vanjaar of eers volgende jaar op dreef kom. Die oorblywende 40% van die kragvraag van die ontsoutingsaanleg sal kom van 'n aantal sonkragpanele wat op die dakke van geboue in die Waterfront geïnstalleer word.

Dit is alles deel van 'n reeks inisiatiewe waaraan die Waterfrontmaatskappy werk om sy koolstofvoetspoor te verklein en meer volhoubaar te wees.

Herwinning van afval

Reg langs die ontsoutingsaanleg is die Waterfront se herwinningsaanleg waar die afval uit soveel as 1 200 vullisdromme per dag deur 'n span van 120 mense verwerk word.

Donald Kau (links), kommunikasiebestuurder van die V&A Waterfront, en Petro Myburgh, senior bestuurder vir volhoubaarheid, gesels voor die watersuiweringsaanleg in die Waterfront.Foto: FRANCOIS WILLIAMS
Donald Kau (links), kommunikasiebestuurder van die V&A Waterfront, en Petro Myburgh, senior bestuurder vir volhoubaarheid, gesels voor die watersuiweringsaanleg in die Waterfront.Foto: FRANCOIS WILLIAMS

Sowat 560 ton afval per maand word by die Waterfront gegenereer, maar dit kan oor die feestyd tot 800 ton styg, sê Myburgh.

Die herwinningsaanleg word deur Wasteplan bedryf en tussen 140 ton en 200 ton per maand se organiese afval word versamel en tot kompos verwerk. Die ander afval word gesorteer in herwinbare materiaal wat aan herwinningsmaatskappye verkoop word, maar Myburgh beklemtoon die herwinningsaanleg word nie winsgewend bedryf nie. Dit is net uit beginsel vir die Waterfrontmaatskappy belangrik om die hoeveelheid afval wat na stortingsterreine gestuur word tot die minimum te beperk.

Saamgeperste blikkies wat uit die tonne afval van die Waterfront herwin is. Foto: FRANCOIS WILLIAMS
Saamgeperste blikkies wat uit die tonne afval van die Waterfront herwin is. Foto: FRANCOIS WILLIAMS

Tot 62% van die totale afval van die Waterfront word weggekeer van stortingsterreine danksy die herwinningsaanleg.

Watersuiwering

Die Waterfront het 'n watersuiweringsaanleg waar die riool- en afvalwater verwerk word. Tussen 120 en 150 kiloliter se behandelde water per dag word tot besproeiingstandaard gesuiwer. Die water word onder meer gebruik om toilette te spoel in die Victoria Wharf-winkelsentrum, en die stelsel kan sodoende tot 5 miljoen liter water per maand bespaar.

Anders as 'n konvensionele watersuiweringsaanleg word plante gebruik om as die eerste filtrasie van die afvalwater te dien. Murray & Roberts bedryf die aanleg namens die Waterfront.

'n Blik op die buitekant van die ontsoutingsaanleg wat die Waterfront bou. Foto: FRANCOIS WILLIAMS
'n Blik op die buitekant van die ontsoutingsaanleg wat die Waterfront bou. Foto: FRANCOIS WILLIAMS

In die Silo-distrik van die Waterfront word seewater vir verkoeling gebruik in 'n aanleg wat teen R56 miljoen opgerig is. Dit spaar ook miljoene liter water, en as konvensionele verkoeling gebruik sou word, sou 40% meer elektrisiteit gebruik moes word.

Portswood Café

Vir een van die volhoubaarheidsinisiatiewe van die Waterfront is die media Woensdag onthaal by die nuwe Portswood Café oorkant die ouditgroep Deloitte se kantore in Dockweg in die Waterfront.

Tot 98% van al die boumateriaal om Portswood Café op te rig, is herwinde materiaal van geboue wat elders in die Waterfront gesloop is. Van die vloerplanke tot die vensters en dakplate is dus herwinde materiaal wat andersins weggegooi sou word.

Okhela Gampu, projekbestuurder, het gesê dit was 'n baie uitdagende projek wat veel langer as 'n normale bouprojek geduur het, omdat daar seker gemaak moes word die konstruksie voldoen steeds aan die standaarde. Dit is slegs dinge soos die elektriese bedrading en brandalarms wat nuwe materiaal is. Die res is alles herwinde materiaal. Die lokaal het natuurlike ventilasie sodat lugversorging nie nodig is nie.

Werkers van Wasteplan sorteer daagliks sowat 1 200 vullisdromme se afval by die Waterfront se herwinningsentrum.Foto: FRANCOIS WILLIAMS
Werkers van Wasteplan sorteer daagliks sowat 1 200 vullisdromme se afval by die Waterfront se herwinningsentrum.Foto: FRANCOIS WILLIAMS

Die spysenieringsfirma PureGood, wat op gesonde kos fokus en wat mik om geen kosvermorsing te duld nie, het die kontrak gekry om die Portswood Café te bedryf. PureGood lewer reeds spysenieringsdienste aan die batebestuurder Ninety One, wie se kantore in die omgewing is.

Donald Kau, kommunikasiehoof van die Waterfront, sê omdat die Waterfront 'n private onderneming is, is dit makliker om eksperimentele volhoubaarheidsprojekte aan te pak as vir munisipaliteite. Munisipaliteite kom dikwels na die Waterfront om te leer hoe hulle soortgelyke projekte kan begin.

Kau beklemtoon dat mense vergeet dat die Waterfront tans weer heeltemal in Suid-Afrikaanse besit is, met die Suid-Afrikaanse eiendomsgroep Growthpoint en die Staatsdienspensioenfonds, wat via die Openbare Beleggingskorporasie die aandeelhouers is.

SPELETJIES VANDAG

CTA